Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK ELF

Hoekom is daar soveel pyn en lyding?

Hoekom is daar soveel pyn en lyding?

1, 2. Wat vra baie mense?

’N TSOENAMI vernietig ’n dorpie. ’n Gewapende man begin skiet op mense in ’n kerk, en ’n aantal mense word gewond en doodgeskiet. ’n Ma sterf aan kanker en laat vyf kinders agter.

2 Wanneer sulke rampe of tragedies plaasvind, vra baie mense: “Hoekom?” Baie mense vra hoekom die wêreld so vol haat, pyn en lyding is. Het jy al ooit daaroor gewonder?

3, 4. (a) Watter vrae het Habakuk gevra? (b) Hoe het Jehovah hom geantwoord?

3 In die Bybel leer ons dat mense wat sterk geloof in God gehad het ook sulke vrae gevra het. Die profeet Habakuk het byvoorbeeld vir Jehovah gevra: “Hoekom laat u toe dat ek oortreding sien? En hoekom laat u onderdrukking toe? Hoekom is vernietiging en geweld voor my? En hoekom is daar so baie stryery en konflik?” – Habakuk 1:3.

4 In Habakuk 2:2, 3 lees ons God se antwoord op Habakuk se vrae en Sy belofte om die situasie reg te stel. Jehovah is baie lief vir mense. Die Bybel sê: “Hy gee om vir julle” (1 Petrus 5:7). Om die waarheid te sê, God haat dit selfs meer as ons om te sien dat mense ly (Jesaja 55:8, 9). Maar hoekom is daar dan soveel lyding in die wêreld?

HOEKOM IS DAAR SOVEEL PYN EN LYDING?

5. Wat sê baie godsdiensonderrigters oor lyding? Wat leer die Bybel?

5 Pastore, priesters en ander godsdiensonderrigters sê dikwels dat dit God se wil is dat mense ly. Party sê dat God vooraf besluit het wat met ’n persoon sal gebeur, insluitende die slegte dinge wat met hom sal gebeur, en dat ons dit nooit sal verstaan nie. Ander sê dat God mense, selfs klein kindertjies, laat doodgaan omdat hy hulle in die hemel nodig het. Maar dit is nie waar nie. Jehovah veroorsaak nooit dat slegte dinge gebeur nie. Die Bybel sê: “Die ware God sal nooit goddeloos optree nie! Die Almagtige sal nooit verkeerd doen nie!” – Job 34:10.

6. Hoekom blameer baie mense God vir al die lyding in die wêreld?

6 Baie mense blameer God vir al die lyding in die wêreld omdat hulle dink dat God die heerser van die wêreld is. Maar soos ons in Hoofstuk 3 geleer het, is Satan die Duiwel eintlik die heerser van die wêreld.

7, 8. Hoekom is daar soveel lyding in die wêreld?

7 Die Bybel sê vir ons: “Die hele wêreld is in die mag van die Duiwel” (1 Johannes 5:19). Die heerser van hierdie wêreld, Satan, is sleg en wreed. Hy ‘mislei die hele aarde’ (Openbaring 12:9). Weens sy invloed doen baie mense slegte dinge. En dit is net een rede waarom die wêreld so vol leuens, haat en wreedheid is.

8 Daar is nog redes waarom daar soveel lyding in die wêreld is. Nadat Adam en Eva in opstand gekom het, het hulle sonde aan hulle kinders oorgedra. En omdat mense sondig is, veroorsaak hulle dat ander mense ly. Hulle wil dikwels belangriker as ander wees. Hulle baklei, maak oorlog en maak die lewe vir ander moeilik (Prediker 4:1; 8:9). Soms ly mense as gevolg van “tyd en onverwagse gebeure” (Prediker 9:11). Wanneer hulle op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is, kan slegte dinge met hulle gebeur.

9. Hoekom weet ons dat Jehovah ’n baie goeie rede het waarom hy lyding nog toelaat?

9 Jehovah veroorsaak nooit lyding nie. Hy kan nie blameer word vir oorlog, misdaad en mishandeling nie. God veroorsaak nie rampe soos aardbewings, droogtes en oorstromings nie. Maar jy wonder dalk: ‘As Jehovah die magtigste persoon in die heelal is, hoekom keer hy nie dat hierdie verskriklike dinge gebeur nie?’ Ons weet dat Jehovah baie besorg is oor ons, en daarom moet hy ’n baie goeie rede hê waarom hy lyding nog toelaat. – 1 Johannes 4:8.

HOEKOM GOD LYDING TOELAAT

10. Waarvan het Satan Jehovah beskuldig?

10 In die tuin van Eden het die Duiwel Adam en Eva mislei. Satan het God daarvan beskuldig dat Hy ’n slegte Heerser is. Hy het gesê dat God iets goeds van Adam en Eva terughou. Satan wou hê dat hulle moes glo dat hy ’n beter heerser as Jehovah sou wees en dat hulle God nie nodig het nie. – Genesis 3:2-5; sien Eindnota 27.

11. Watter vraag moet ons beantwoord?

11 Adam en Eva was ongehoorsaam aan Jehovah en het teen hom in opstand gekom. Hulle het gedink dat hulle die reg het om self te besluit wat reg is en wat verkeerd is. Hoe kon Jehovah bewys dat hulle verkeerd was en dat hy weet wat die beste vir ons is?

12, 13. (a) Hoekom het Jehovah Adam en Eva nie onmiddellik vernietig nie? (b) Hoekom het Jehovah toegelaat dat Satan oor hierdie wêreld heers en dat mense oor hulleself regeer?

12 Jehovah het Adam en Eva nie onmiddellik vernietig nie. Hy het hulle eerder toegelaat om kinders te hê. Jehovah het dit vir Adam en Eva se kinders moontlik gemaak om self te kies wie hulle as hulle heerser wil hê. Jehovah wou die aarde met volmaakte mense vul, en dit sal gebeur, maak nie saak wat die Duiwel probeer doen nie. – Genesis 1:28; Jesaja 55:10, 11.

13 Satan het Jehovah se reg om te regeer voor miljoene engele bevraagteken (Job 38:7; Daniël 7:10). Daarom het Jehovah Satan tyd gegee om te bewys of wat hy gesê het, waar is. Hy het mense ook tyd gegee om hulle eie regerings op te stel in ’n wêreld waarvan Satan die heerser is, sodat hulle kon sien of hulle sonder God se hulp oor hulleself kan regeer.

14. Wat het die geskiedenis bewys?

14 Mense probeer al duisende jare lank om oor hulleself te regeer, maar hulle het misluk. Dit het bewys dat Satan ’n leuenaar is. Mense het God se hulp nodig. Die profeet Jeremia was reg toe hy gesê het: “Ek weet goed, o Jehovah, dat die mens se weg nie aan hom behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.” – Jeremia 10:23.

HOEKOM HET JEHOVAH SO LANK GEWAG?

15, 16. (a) Hoekom het Jehovah toegelaat dat lyding so lank aanhou? (b) Hoekom los Jehovah nie die probleme op wat Satan veroorsaak nie?

15 Hoekom het Jehovah toegelaat dat lyding so lank aanhou? Hoekom keer hy nie dat slegte dinge gebeur nie? Dit het tyd geneem om te bewys dat Satan se heerskappy misluk het. Mense het elke vorm van regering probeer, maar hulle was nie suksesvol nie. Al het hulle in die wetenskap en tegnologie vooruitgang gemaak, is daar meer ongeregtigheid, armoede, misdaad en oorlog as ooit tevore. Dit is duidelik dat mense God se hulp nodig het.

16 Maar hoekom los Jehovah nie die probleme op wat Satan veroorsaak nie? As God dit sou doen, sou dit beteken dat hy Satan se heerskappy ondersteun, en Hy sal dit nooit doen nie. Mense sou ook dink dat hulle dit regkry om oor hulleself te regeer. Maar dit sou ’n leuen wees, en Jehovah sal nooit ’n leuen ondersteun nie. Hy lieg nooit nie. – Hebreërs 6:18.

17, 18. Wat sal Jehovah doen omtrent al die skade wat deur Satan veroorsaak is?

17 Kan Jehovah al die skade herstel wat veroorsaak is omdat Satan en mense teen Hom in opstand gekom het? Ja. Daar is niks wat God nie kan doen nie. Wanneer daar ten volle bewys is dat Satan ’n leuenaar is, sal Jehovah die aarde ’n paradys maak, soos hy dit wou hê. Almal wat in “die gedenkgrafte” is, sal opgewek word (Johannes 5:28, 29). Mense sal nooit siek word of sterf nie. Jesus sal al die skade herstel wat deur Satan veroorsaak is. Jehovah sal Jesus gebruik “om die werke van die Duiwel te vernietig” (1 Johannes 3:8). Ons is dankbaar dat Jehovah intussen geduldig met ons is sodat ons hom kan leer ken en kan besluit dat ons hom as ons Heerser wil hê. (Lees 2 Petrus 3:9, 10.) Selfs wanneer ons swaarkry, help hy ons om dit te verduur. – Johannes 4:23; lees 1 Korintiërs 10:13.

18 Jehovah dwing ons nie om hom as ons Heerser te kies nie. Hy het mense vrye wil gegee. Kom ons kyk hoekom dit so ’n kosbare geskenk is.

HOE SAL JY JOU VRYE WIL GEBRUIK?

19. Watter wonderlike geskenk het Jehovah ons gegee? Hoekom moet ons dankbaar wees vir hierdie geskenk?

19 Ons vrye wil is ’n wonderlike geskenk van Jehovah. Dit maak ons baie anders as die diere. Hulle tree hoofsaaklik volgens hulle instink op, maar ons kan kies hoe ons ons lewe wil lei en besluit of ons Jehovah gelukkig wil maak (Spreuke 30:24). Ons is ook nie soos masjiene wat net doen wat hulle gemaak is om te doen nie. Ons het die vryheid om te besluit watter soort persoon ons wil wees, wie ons as vriende wil hê en wat ons met ons lewe wil doen. Jehovah wil hê dat ons die lewe moet geniet.

20, 21. Wat is die beste besluit wat jy nou kan neem?

20 Jehovah wil hê dat ons hom moet liefhê (Matteus 22:37, 38). Hy is soos ’n pa wat bly is wanneer sy kind uit die hart sê “ek is lief vir jou” en dit nie net sê omdat hy gedwing word nie. Jehovah het ons die vryheid gegee om te kies of ons hom sal dien of nie. Satan sowel as Adam en Eva het gekies om Jehovah nie te dien nie. Hoe sal jy jou vrye wil gebruik?

21 Gebruik jou vrye wil om Jehovah te dien. Daar is miljoene ander mense wat besluit het om God se hart bly te maak en Satan te verwerp (Spreuke 27:11). Wat kan jy nou doen sodat jy in God se nuwe wêreld sal wees wanneer hy ’n einde maak aan alle lyding? Die volgende hoofstuk sal hierdie vraag beantwoord.