Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 105

Jesus gebruik ’n vyeboom om ’n les oor geloof te leer

Jesus gebruik ’n vyeboom om ’n les oor geloof te leer

MATTEUS 21:19-27 MARKUS 11:19-33 LUKAS 20:1-8

  • DIE UITGEDROOGDE VYEBOOM – ’N LES OOR GELOOF

  • JESUS SE GESAG WORD UITGEDAAG

Jesus verlaat Jerusalem op Maandagmiddag en keer terug na Betanië, wat aan die oostelike hang van die Olyfberg lê. Hy slaap waarskynlik die aand oor by sy vriende Lasarus, Maria en Marta.

Dit is nou die oggend van 11 Nisan. Jesus en sy dissipels is weer op pad na Jerusalem, waar hy vir die laaste keer by die tempel sal wees. En dit is die laaste dag van sy openbare bediening voordat hy die Pasga vier, die Herdenking van sy dood instel en dan verhoor en tereggestel sal word.

Op pad van Betanië na Jerusalem, sien Petrus die boom wat Jesus die vorige oggend vervloek het. “Rabbi, kyk!” roep hy uit, “die vyeboom wat u vervloek het, het uitgedroog.” – Markus 11:21.

Maar hoekom het Jesus die boom laat uitdroog? Hy noem die rede deur te sê: “Ek verseker julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net doen wat ek aan die vyeboom gedoen het nie, maar selfs as julle vir hierdie berg sê: ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ sal dit gebeur. En alles wat julle in gebed met geloof vra, sal julle ontvang” (Matteus 21:21, 22). Hy herhaal dus die punt wat hy vroeër genoem het oor die feit dat geloof ’n berg kan beweeg. – Matteus 17:20.

Jesus gebruik die boom wat hy laat uitdroog het, om hulle te leer hoe belangrik dit is om geloof in God te hê. Hy sê: “Glo dat julle alles waarvoor julle bid en vra, reeds ontvang het, en julle sal dit hê” (Markus 11:24). Dit is ’n belangrike les vir al Jesus se volgelinge! Maar dit is veral belangrik vir sy apostels omdat hulle binnekort moeilike toetse sal deurmaak. Die uitgedroogde vyeboom beeld egter nog iets af wat verband hou met geloof.

Net soos hierdie vyeboom, het die nasie Israel ’n bedrieglike voorkoms. Die mense van hierdie nasie is in ’n verbondsverhouding met God, en dit lyk dalk of hulle sy Wet gehoorsaam. Maar die nasie het as ’n geheel gewys dat hulle nie geloof het nie en nie goeie vrugte voortbring nie. Hulle verwerp selfs God se eie Seun! Deur die onvrugbare vyeboom te laat uitdroog, wys Jesus wat die uiteinde sal wees vir hierdie ongelowige nasie wat nie vrug dra nie.

Kort daarna kom Jesus en sy dissipels in Jerusalem aan. Soos gewoonlik gaan Jesus na die tempel en begin hy onderrig. Die hoofpriesters en ouermanne van die volk, wat nog waarskynlik onthou wat Jesus die vorige dag met die geldwisselaars gedoen het, daag hom uit: “Met watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het jou hierdie gesag gegee om hierdie dinge te doen?” – Markus 11:28.

Jesus sê: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord my eers, en dan sal ek vir julle sê met watter gesag ek hierdie dinge doen. Het Johannes se gesag om te doop uit die hemel of van mense gekom? Antwoord my.” Nou is dit sy teenstanders wat uitgedaag word. Die priesters en ouermanne redeneer met mekaar oor wat om te sê: “As ons sê: ‘Uit die hemel,’ sal hy vra: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’ Maar as ons sê: ‘Van mense,’ wat sal dan gebeur?” Hulle redeneer op hierdie manier omdat hulle bang is vir die skare, “want die mense het almal geglo dat Johannes werklik ’n profeet was”. – Markus 11:29-32.

Jesus se teenstanders kan nie aan ’n goeie antwoord dink nie, en daarom sê hulle: “Ons weet nie.” Jesus sê vir hulle: “Dan sê ek ook nie vir julle met watter gesag ek hierdie dinge doen nie.” – Markus 11:33.