Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Ware hoop vir ’n beter toekoms

’n Ware hoop vir ’n beter toekoms

 Voel jy optimisties oor die toekoms? Baie mense probeer om positief te bly al is daar vandag soveel ernstige probleme. Maar is dit realisties om te dink dat dinge beter sal word? Ja! Die Bybel gee vir ons ’n ware hoop vir ’n beter toekoms.

 Watter hoop gee die Bybel ons?

 Die Bybel bevestig dat mense vandag verskriklike probleme het. Maar die Bybel belowe ook dat hierdie probleme nie vir altyd sal aanhou nie. Kom ons kyk na ’n paar spesifieke voorbeelde.

  •   Probleem: Haweloosheid

     Wat die Bybel sê: “Hulle sal huise bou en daarin woon.” – Jesaja 65:21.

     Wat dit vir die toekoms beteken: Mense sal hulle eie huis hê.

  •   Probleem: Werkloosheid en armoede

     Wat die Bybel sê: “Dié wat ek uitgekies het, sal die werk van hulle hande ten volle geniet.” – Jesaja 65:22.

     Wat dit vir die toekoms beteken: Alle mense sal werk hê en hulle sal daardie werk geniet en dit sal hulle gelukkig maak.

  •   Probleem: Ongeregtigheid

     Wat die Bybel sê: “Prinse sal in geregtigheid heers.” – Jesaja 32:1.

     Wat dit vir die toekoms beteken: Rasse-, maatskaplike en ekonomiese ongeregtigheid sal vir ewig uitgewis word. Almal sal regverdig behandel word.

  •   Probleem: Ondervoeding en voedseltekorte

     Wat die Bybel sê: “Daar sal volop graan op die aarde wees. Op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.” – Psalm 72:16.

     Wat dit vir die toekoms beteken: Almal sal genoeg gesonde kos hê. Niemand sal honger gaan slaap of ondervoed wees nie.

  •   Probleem: Misdaad en geweld

     Wat die Bybel sê: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en niemand sal hulle bang maak nie.” – Miga 4:4.

     Wat dit vir die toekoms beteken: Almal sal veilig voel want die goddelose mense sal nie meer daar wees nie en “die regverdiges sal die aarde besit”. – Psalm 37:10, 29.

  •   Probleem: Oorlog

     Wat die Bybel sê: “Nasie sal nie teen nasie die swaard opneem nie, en hulle sal ook nie meer leer om oorlog te voer nie.” – Jesaja 2:4.

     Wat dit vir die toekoms beteken: Die hele aarde sal vol vrede wees (Psalm 72:7). Niemand sal hartseer wees oor ’n geliefde wat in ’n oorlog doodgemaak word nie. En niemand sal na ’n ander land hoef te vlug om veiligheid te soek nie.

  •   Probleem: Siekte

     Wat die Bybel sê: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.” – Jesaja 33:24.

     Wat dit vir die toekoms beteken: Mense sal nie meer gebreke hê of siek word nie (Jesaja 35:5, 6). Die Bybel belowe selfs: “Die dood sal nie meer daar wees nie.” – Openbaring 21:4.

  •   Probleem: Skade aan die omgewing

     Wat die Bybel sê: “Die wildernis en die dorre land sal juig, en die woestyn sal vreugdevol en vol blomme wees.” – Jesaja 35:1.

     Wat dit vir die toekoms beteken: Die hele aarde sal ’n paradys word vir mense om in te bly, net soos God dit van die begin af wou hê. – Genesis 2:15; Jesaja 45:18.

 Is die hoop wat die Bybel ons gee te goed om waar te kan wees?

 Dit is natuurlik om so te voel. Maar ons spoor jou aan om meer uit te vind oor wat die Bybel oor die toekoms sê. Hoekom? Die beloftes in die Bybel is anders as die beloftes en voorspellings wat mense maak. Die beloftes in die Bybel kom van God af. En dít is wat dit anders maak:

  •   God is betroubaar. Die Bybel sê dat God “nie kan lieg nie” (Titus 1:2). En net God kan die toekoms voorspel (Jesaja 46:10). Daar is baie voorbeelde in die Bybel wat bewys dat die dinge wat God voorspel altyd waar word. Vir meer inligting, kyk na die video Hoe kan ons seker wees dat die Bybel betroubaar is?

  •   God het die mag en die krag om ons probleme op te los. Die Bybel sê God het die mag en die krag om “alles wat hy wil doen” te doen (Psalm 135:5, 6). Met ander woorde, niks kan God keer om sy beloftes waar te laat word nie. Boonop wil God ons help, want hy het ons lief.– Johannes 3:16.

 Dit is net natuurlik om te wonder: ‘As God ons wil help en die mag het om dit te doen, hoekom het ons dan nog soveel probleme?’ Vir die antwoord op daardie vraag, kyk na die video Hoekom laat God toe dat mense swaarkry?

 Hoe sal hierdie hoop ’n werklikheid word?

 God sal sy Koninkryk, ’n regering in die hemel, gebruik om sy beloftes te vervul. Hy het Jesus Christus as Heerser van daardie Koninkryk aangestel, en hy het hom die gesag gegee om vir die aarde en vir die mense op die aarde te sorg. Toe Jesus op die aarde was, het hy siek mense gesond gemaak, honger mense kos gegee, die weer beheer en selfs die dooies weer lewendig gemaak (Markus 4:39; 6:41-44; Lukas 4:40; Johannes 11:43, 44). So het hy gewys wat hy as Koning van God se Koninkryk gaan doen.

 Kyk na die video Wat is God se Koninkryk? om meer uit te vind oor hoe God se Koninkryk jou sal help.

 Wanneer sal hierdie hoop ’n werklikheid word?

 Binnekort! Hoe weet ons dit? Die Bybel het gebeure voorspel wat ’n teken daarvan sou wees dat God se Koninkryk op die punt staan om oor die aarde te begin regeer (Lukas 21:10, 11). Die dinge wat op die oomblik in die wêreld aangaan, is presies wat die Bybel voorspel het.

 Om meer uit te vind, lees die artikel “Wanneer sal God se Koninkryk oor die aarde regeer?

 Hoe kan die hoop in die Bybel jou vandag help?

 Een Bybelskrywer het die hoop wat die Bybel gee, vergelyk met “’n anker vir die siel” (Hebreërs 6:19). Net soos ’n anker ’n skip vastigheid gee gedurende ’n storm, kan die Bybel se vaste hoop vir die toekoms ons standvastig maak sodat ons kan volhard in vandag se moeilike tye. Ons hoop kan ons help om kalm en gelukkig te bly, helder te dink en selfs om fisies gesond te wees. – 1 Tessalonisense 5:8.