Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Drome wat van God kom

Drome wat van God kom

Het God al drome gebruik om met mense te kommunikeer?

“[God se profeet] Daniël [het] ’n droom gesien . . . terwyl hy op sy bed was. Toe het hy die droom opgeskryf. Die volledige verslag van die sake het hy vertel.”—Daniël 7:1.

WAT DIE BYBEL SÊ

God het belangrike boodskappe op verskeie maniere aan mense oorgedra. In Bybeltye het hy soms drome gebruik. Maar dit was nie alledaagse vae, onlogiese drome nie. Drome van God was duidelik en samehangend, en dit het ’n bepaalde boodskap gehad. Byvoorbeeld, die profeet Daniël het diere gesien wat politieke ryke afbeeld van Babilon se tyd tot in ons dag (Daniël 7:1-3, 17). God het deur middel van ’n droom vir Josef van Nasaret, Jesus se pleegvader, gesê dat hy met sy vrou en kind na Egipte moet vlug. Gevolglik is Jesus nie deur wrede koning Herodes doodgemaak nie. Toe Herodes gesterf het, het God Josef deur middel van ’n droom van sy dood in kennis gestel en hom terselfdertyd die opdrag gegee om met sy gesin na hulle vaderland terug te keer.—Matteus 2:13-15, 19-23.

Gebruik God vandag drome om met ons te kommunikeer?

“Moenie verder gaan as die dinge wat geskrywe staan nie.” —1 Korintiërs 4:6.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die drome wat in die Bybel opgeteken is, maak deel uit van God se geskrewe openbaring aan die mensdom. Aangaande hierdie openbaring sê 2 Timoteus 3:16, 17: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”

Die Bybel ‘rus ons ten volle toe’ in die sin dat dit alles openbaar wat ons moet weet omtrent God, sy eienskappe, sy sedelike standaarde en ons plek in sy voorneme met die aarde. Daarom gebruik God nie meer drome om boodskappe aan mense oor te dra nie. As ons wil leer wat die toekoms inhou en wat God se wil vir ons is, hoef ons nie “verder [te] gaan as die dinge wat geskrywe staan nie”—dit wil sê wat in die Bybel geskrywe staan. Wat meer is, feitlik die hele mensdom het toegang tot hierdie boek en kan al die openbarings daarin wat van God kom, insluitende drome, bestudeer.

Waarom kan jy die drome en visioene vertrou wat in die Bybel opgeteken is?

“Mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.” —2 Petrus 1:21.

WAT DIE BYBEL SÊ

Baie van die drome en visioene wat in die Bybel opgeteken is, was profeties—dit wil sê dit het toekomstige gebeure voorspel. Deur hierdie profesieë op te teken, het Bybelskrywers hulle geloofwaardigheid—en dié van die Skrif—op die spel geplaas. Was hulle geskrifte akkuraat? Kom ons kyk na ’n voorbeeld—die visioen in Daniël 8:1-7, wat teen die einde van die Babiloniese Ryk opgeteken is.

In die profesie is ’n ram en ’n bokram wat die ram neergestoot en vertrap het, as simbole gebruik. Dit was nie vir Daniël nodig om te raai wat hierdie visioen beteken nie. ’n Engeleboodskapper van God het gesê: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, staan vir die konings van Medië en Persië. En die harige bokram staan vir die koning van Griekeland” (Daniël 8:20, 21). Die geskiedenis bevestig dat Medo-Persië Babilon as ’n wêreldmoondheid opgevolg het. Toe, sowat tweehonderd jaar later, is Medo-Persië deur Aleksander die Grote van Griekeland verower. Hierdie merkwaardige akkuraatheid is kenmerkend van Bybelprofesieë, wat profetiese drome insluit. Weens hierdie feit alleen is die Bybel anders as alle ander heilige boeke en verdien dit ons vertroue.