Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Toon waardering

Toon waardering

DIE UITDAGING

As egpare waardering toon, lei dit tot ’n suksesvolle huwelik. Maar baie mans en vrouens sien nie eers meer hulle maat se goeie eienskappe raak nie. In die boek Emotional Infidelity sê ’n huweliksraadgewer dat baie egpare “meer bekommerd is oor wat nie in hulle huwelik gebeur nie as wat wel gebeur. Hulle vertel my altyd wat hulle maat verkeerd doen, nooit wat die maat reg doen nie. Die fout wat al hierdie egpare maak, is dat hulle nie hulle liefde en waardering vir mekaar toon nie.”

Hoe kan jy en jou maat hierdie probleem vermy?

WAT JY MOET WEET

Woorde en dade van waardering kan stres in die huwelik verminder. Wanneer ’n man en vrou hard probeer om mekaar se goeie eienskappe raak te sien en waardering daarvoor te toon, word hulle verhouding gewoonlik sterker. Selfs al is daar groot probleme, kan dit help wanneer huweliksmaats voel dat hulle waardeer word.

Vir vrouens. “Baie vrouens besef nie onder hoeveel druk mans geplaas word om in die behoeftes van hulle gesin te voorsien nie”, sê die boek Emotional Infidelity verder. Party mans voel nog steeds hierdie druk al werk die vrou ook.

Vir mans. Mans onderskat dikwels wat ’n vrou vir die gesin doen, of sy nou werk, die kinders grootmaak of ’n huisvrou is. Fiona, * wat al amper drie jaar getroud is, sê: “Ons almal maak foute, en wanneer ek iets verkeerd doen, voel ek sleg. Wanneer my man dan vir my dankie sê vir iets wat ek by die huis gedoen het, besef ek dat hy vir my lief is al maak ek ook foute. Ek voel dat ek sy ondersteuning het en dat ek iets beteken!”

Maar wanneer ’n huweliksmaat voel dat hulle afgeskeep word, kan dit die huwelik in gevaar stel. “Wanneer jy voel dat jou man jou nie waardeer nie, is dit maklik om aangetrokke te voel tot iemand wat jou wel waardeer”, sê Valerie.

WAT JY KAN DOEN

Wees oplettend. Probeer gedurende die volgende week oplet wat jou maat se positiewe eienskappe is. Wees ook op die uitkyk na dinge wat jou maat in die huis doen—dinge wat jy miskien nie altyd raakgesien het nie. Maak aan die einde van die week ’n lys van (1) die eienskappe van jou maat wat jy waardeer en (2) die dinge wat jou maat vir die gesin doen.—Bybelwaarheid: Filippense 4:8.

Waarom moet jy oplettend wees? Erika sê: “As jy ’n paar jaar getroud is, kan jy jou maat as vanselfsprekend aanvaar. Jy sien nie meer die goeie dinge raak nie en fokus net op dit wat hy nie doen nie.”

Vra jou af: ‘Waardeer ek die harde werk wat my maat doen?’ Byvoorbeeld, as jou man iets by die huis regmaak, voel jy dat dit nie nodig is om dankie te sê nie omdat dit sy plig is? Of dink jy dat dit onnodig is om jou vrou te prys vir alles wat sy vir die kinders doen omdat dit van haar verwag word? Wees dankbaar vir alles wat jou maat vir julle gesin doen, maak nie saak hoe klein of hoe groot dit is nie.—Bybelwaarheid: Romeine 12:10.

Prys jou maat. Die Bybel sê nie net dat ons dankbaar moet wees nie, dit sê: “Toon dat julle dankbaar is” (Kolossense 3:15). Maak dit ’n gewoonte om dankie te sê. “Wanneer my vrou dankie sê vir die dinge wat ek doen, werk ek harder aan my huwelik en probeer ek om ’n beter man te wees”, sê James.—Bybelwaarheid: Kolossense 4:6.

Huweliksmaats wat mekaar waardeer, versterk hulle verhouding. Michael sê: “Ek glo dat baie huwelike gered kan word as huweliksmaats nie vergeet waarom hulle van mekaar hou nie. Omdat hulle die heeltyd die goeie in mekaar raaksien, sal hulle minder geneig wees om te wil skei wanneer probleme ontstaan.”

^ par. 9 Van die name is verander.