Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die mier se nek

Die mier se nek

MEGANIESE INGENIEURS is verbaas oor ’n gewone mier se vermoë om voorwerpe op te tel wat etlike kere swaarder is as sy eie liggaamsgewig. Om hierdie vermoë te verstaan, het ingenieurs aan die Ohio-staatsuniversiteit, VSA, rekenaarmodelle van sekere dele van die mier se anatomie geskep, sowel as van party van sy fisiese eienskappe en meganiese funksies. Die modelle is gemaak met behulp van spesiale X-straalbeelding (gerekenariseerde mikrotomografie) en simulasies van die kragte wat ’n mier genereer wanneer hy ’n vrag dra.

’n Uiters belangrike deel van ’n mier se anatomie is sy nek, want dit dra die volle gewig van enige vrag wat hy in sy mond het. Sagte weefsel in die mier se nek is vasgeheg aan die harde eksoskelet van die toraks (lyf) en die kop op ’n manier wat ’n mens laat dink aan die vingers van twee hande wat inmekaargevleg is. “Die ontwerp en struktuur van hierdie koppeling is ’n uiters belangrike faktor wat die nek so sterk maak”, sê een van die navorsers. “Die unieke manier waarop die harde en sagte stowwe met mekaar verbind is, versterk waarskynlik die hegvermoë en is moontlik ’n sleutelkenmerk van die ontwerp van die nek, wat dit in staat stel om so ’n groot vrag te dra.” Navorsers hoop dat ’n duidelike begrip van hoe die mier se nek werk, sal bydra tot beter robotiese meganismes.

Wat dink jy? Het die mier se nek met sy ingewikkelde en hoogs geïntegreerde meganiese stelsels deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?