Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geldsake

Geldsake

Baie mense het nou minder finansiële probleme omdat hulle die Bybel se raad toepas.

BEPLAN GOED

WAT DIE BYBEL SÊ: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek [of armoede] af.” – Spreuke 21:5.

WAT DIT BETEKEN: As jy finansiële probleme wil vermy, moet jy goed beplan voordat jy geld uitgee. Onthou, jy sal dalk nie alles kan koop wat jy wil hê nie. So werk mooi met jou geld.

WAT JY KAN DOEN:

  • Bly by ’n begroting. Skryf al jou uitgawes neer en verdeel dit in kategorieë. Besluit dan hoeveel geld jy aan elke uitgawe sal spandeer. As jy meer geld in ’n kategorie uitgegee het as wat jy beplan het, kan jy die geld uit ’n ander kategorie gebruik. Byvoorbeeld, as jy meer geld uitgegee het op brandstof as wat jy beplan het, kan jy die geld gebruik wat jy vir ’n minder belangrike kategorie, soos vir uiteet, wou gebruik.

  • Moenie onnodig skuld maak nie. Probeer sover moontlik om skuld te vermy. Spaar eerder om die dinge te koop wat jy nodig het. As jy ’n kredietkaart gebruik, moet jy elke maand probeer om die volle bedrag wat jy skuld, te betaal, sodat jy nie rente hoef te betaal nie. As jy skuld het, moet jy beplan hoe jy dit gaan terugbetaal en dan by jou besluit bly.

    Een studie het bewys dat mense wat met ’n kredietkaart betaal, geneig is om meer geld uit te gee. So as jy ’n kredietkaart het, moet jy dit wyslik gebruik.

VERMY SLEGTE GESINDHEDE

WAT DIE BYBEL SÊ: “Weens die winter sal die luiaard nie ploeg nie; hy sal in die oestyd bedel, maar daar sal niks wees nie.” – Spreuke 20:4.

WAT DIT BETEKEN: Luiheid kan tot armoede lei. Daarom moet jy ’n harde werker wees en mooi werk met jou geld sodat jy in die toekoms sal hê wat jy nodig het.

WAT JY KAN DOEN:

  • Werk hard. Doen jou bes om jou werk te behou deur hard te werk en betroubaar te wees. Werkgewers waardeer harde werkers.

  • Wees eerlik. Moenie van jou werkgewer steel nie. As jy oneerlik is, kan jy ’n slegte reputasie kry, en dan kan dit later vir jou moeilik wees om werk te kry.

  • Moenie geldgierig wees nie. As jy geldgierig is, kan dit op die ou end sleg wees vir jou gesondheid en jou verhoudings met ander. Onthou, die lewe draai nie net om geld nie.

NOG RAAD UIT DIE BYBEL

Lees die Bybel aanlyn. Dit is beskikbaar in honderde tale op jw.org

MOENIE TYD EN GELD MORS OP SLEGTE GEWOONTES NIE.

“’n Dronkaard en ’n vraat sal in armoede verval, en lomerigheid sal ’n mens vodde [of lappe] laat dra.” – SPREUKE 23:21.

MOENIE TE VEEL OOR GELD STRES NIE.

“Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra.” – MATTEUS 6:25.

MOENIE BEGEER WAT AAN ANDER BEHOORT NIE.

“’n Man met ’n afgunstige oog jaag waardevolle dinge na, maar hy weet nie dat gebrek [of armoede] oor hom sal kom nie.” – SPREUKE 28:22.