Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die bissus van die seemossel

Die bissus van die seemossel

SOOS eendmossels, heg seemossels hulleself aan rotse, hout of skeepsrompe. Maar anders as eendmossels, wat hulleself styf aan ’n oppervlakte vasmaak, hang seemossels losweg aan ’n netwerk van fyn drade wat bissusdrade genoem word. Hoewel hierdie metode dit vir die mossel makliker maak om kos te kry en rond te beweeg, lyk die drade amper te dun om die aanslag van die golwe te weerstaan. Hoe stel die bissus die mossel in staat om vas te kleef en nie deur die water weggevoer te word nie?

Dink hieraan: Bissusdrade is styf aan die een kant maar sag en rekbaar aan die ander kant. Navorsers het gevind dat die presiese verhouding wat deur die mossel gebruik word—80 persent stywe materiaal tot 20 persent sagte materiaal—noodsaaklik is om die sterkste verbinding te vorm. Gevolglik kan die bissus die sterk gestoot en getrek van die seewater weerstaan.

Professor Guy Genin sê dat die bevinding van hierdie navorsing “verbasend” is en hy voeg by: “Die geheim van hierdie organisme lê in die slim manier waarop die rekbare deel en die stywe deel geïntegreer is.” Wetenskaplikes glo dat die ontwerp van die bissus gebruik kan word om toerusting aan geboue en onderwatervaartuie vas te maak, om senings aan bene te heg en om chirurgiese snye te seël. “Die natuur is ’n bodemlose skatkis wanneer dit by strategieë vir verbinding kom”, sê J. Herbert Waite, ’n professor by die Universiteit van Kalifornië in Santa Barbara, V.S.A.

Wat dink jy? Het die bissus van die seemossel deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?