Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gevoelens van onsekerheid​—⁠Hoe jy dit kan oorkom

Gevoelens van onsekerheid​—⁠Hoe jy dit kan oorkom

NIKS is so hulpeloos soos ’n pasgebore baba nie. Toe ons gebore is, het ons veiligheid heeltemal van ons ouers afgehang. Toe ons leer loop het, het ons vreemdelinge teëgekom wat soos reuse bo ons uitgetoring het. Ons was bang vir hulle, tensy ons ouers naby was. Maar ons het veilig gevoel wanneer ons ons ma of pa se hand vasgehou het.

Gedurende ons kinderjare het ons welsyn afgehang van die liefde en aanmoediging wat ons ouers ons gegee het. Wanneer ons besef het dat ons ouers vir ons lief is, het dit ons veilig laat voel. Wanneer hulle ons verseker het dat ons goed doen, het dit ons selfvertroue gegee en het ons vordering gemaak.

Terwyl ons ouer geword het, het goeie vriende ons ook veiliger laat voel. Ons het gemaklik gevoel in hulle geselskap, en hulle het skool minder intimiderend gemaak.

Dit beskryf natuurlik die ideale kinderjare. Party jongmense het min goeie vriende, en te veel kinders kry byna geen ondersteuning van hulle ouers nie. “Wanneer ek foto’s sien van gelukkige gesinne wat dinge saam doen, laat dit my dink: ‘Ek wens ek het dit gehad toe ek klein was’”, sê Melissa. * Dalk voel jy ook so.

GEVOLGE VAN ONGELUKKIGE KINDERJARE

Miskien het jy gedurende jou vormingsjare min selfvertroue gehad. Jy het moontlik min liefde en aanmoediging gekry. Dalk onthou jy hoe jou ouers heeltyd gestry het en hulle huwelik uiteindelik verbrokkel het—iets waarvoor jy jouself miskien verkeerdelik blameer het. Of nog erger, dalk het een van jou ouers jou gedurig afgekraak of fisies mishandel.

Hoe sal ’n kind met gevoelens van onsekerheid moontlik reageer? Party begin gedurende hulle tienerjare dwelms gebruik of vergryp hulle aan drank. Ander sluit by ’n bende aan omdat hulle wil voel dat hulle iewers inpas. Tieners wat onseker voel en na liefde soek, sal dalk halsoorkop ’n romantiese verhouding aanknoop. Maar hierdie verhoudings hou nie lank nie, en wanneer dit eindig, voel hulle nog meer onseker.

Kwesbare tieners wat sulke groot slaggate vermy, sal dalk nog steeds as volwassenes ’n swak selfbeeld hê. “Ek was daarvan oortuig dat ek niks werd is nie, want my ma het dit oor en oor vir my gesê”, verduidelik Ana. “Ek kan nie onthou dat sy my ooit geprys of liefdevol behandel het nie.”

Maar hoe ons grootgemaak is, is nie die enigste oorsaak van gevoelens van onsekerheid nie. ’n Traumatiese egskeiding, die beproewinge van bejaardheid of selfs besorgdheid oor ons voorkoms kan ons ook onseker laat voel. Wat die oorsaak ook al is, dit kan ons baie ongelukkig maak en ons verhoudings met ander beskadig. Wat kan ons doen om sulke gevoelens te oorkom?

GOD GEE VIR ONS OM

Dit is belangrik om te weet dat daar hulp beskikbaar is. Ons almal het iemand wat ons kan help, iemand wat ons wil help—God self.

God het deur middel van sy profeet Jesaja gesê: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. . . . Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid” (Jesaja 41:10, 13). Hoe vertroostend is dit tog dat God as ’t ware ons hand wil neem! Ons het geen rede om bang, of angstig, te wees nie!

Die Bybel praat van aanbidders van God wat angstig was, maar geleer het om God se hand vas te hou. Hanna, Samuel se ma, het gedink dat sy ’n mislukking is omdat sy nie ’n baba kon hê nie. Sy is dikwels gespot oor die feit dat sy onvrugbaar was. Daarom het Hanna haar eetlus verloor en baie gehuil (1 Samuel 1:6, 8). Maar nadat sy haar hart voor God uitgestort het, het sy nie meer hartseer gevoel nie.—1 Samuel 1:18.

Die psalmis Dawid het ook soms onveilig gevoel. Koning Saul het hom jare lank probeer doodmaak. Dawid se lewe was dikwels in gevaar, en soms het hy gevoel dat sy probleme hom oorweldig (Psalm 55:3-5; 69:1). Tog het hy geskryf: “In vrede sal ek gaan lê en ook slaap, want u alleen, o Jehovah, laat my in veiligheid woon.”—Psalm 4:8.

Hanna sowel as Dawid het hulle emosionele laste op Jehovah gewerp, en hulle het gesien hoe hy hulle onderskraag (Psalm 55:22). Hoe kan ons dit ook vandag doen?

DRIE MANIERE OM GEVOELENS VAN ONSEKERHEID TE OORKOM

1. Leer om op Jehovah as ’n Vader te vertrou.

Jesus het ons aangespoor om sy Vader, “die enigste ware God”, te leer ken (Johannes 17:3). Die apostel Paulus verseker ons dat “hy . . . nie ver van elkeen van ons af is nie” (Handelinge 17:27). “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”, het Jakobus geskryf.—Jakobus 4:8.

As ons angstigheid wil oorkom, moet ons besef dat ons ’n hemelse Vader het wat vir ons lief is en vir ons omgee. Ja, dit sal dalk tyd neem om hierdie vertroue op te bou, maar baie het gevind dat dit hulle werklik help. “Toe Jehovah my Vader geword het, het ek uiteindelik iemand gehad teenoor wie ek my hart kon uitstort”, sê Caroline. “Dit was vir my ’n groot verligting!”

“Jehovah is die een wat my gehelp het om veilig te voel toe ek sonder my ouers moes klaarkom”, vertel Rachel. “Ek kon met hom praat en hom vra om my met my probleme te help. En hy hét my gehelp.” *

2. Word deel van ’n geestelike gesin.

Jesus het sy dissipels geleer om mekaar as broers en susters te beskou. “Julle almal [is] broers”, het hy vir hulle gesê (Matteus 23:8). Hy wou gehad het dat sy ware dissipels mekaar moet liefhê en ’n groot geestelike gesin moet word.—Matteus 12:48-50; Johannes 13:35.

Gemeentes van Jehovah se Getuies probeer hard om ’n ware geestelike gesin te wees waarin mense geliefd en veilig kan voel (Hebreërs 10:24, 25). Baie het gevind dat gemeentelike vergaderinge soos ’n strelende salf kan wees wat hulle emosionele snye en wonde genees.

“Ek het ’n spesiale vriendin in die gemeente gehad, wat my pyn verstaan het”, vertel Eva. “Sy het na my geluister, vir my gelees en saam met my gebid. Sy het seker gemaak dat ek nie alleen is nie. Ek kon my hart teenoor haar uitstort. Danksy haar ondersteuning het ek veiliger begin voel.” Rachel voeg by: “Ek het ’n ‘ma en pa’ in die gemeente gevind. Hulle het my werklik geliefd en veilig laat voel.”

3. Wees liefdevol en goedhartig teenoor ander.

As ons liefdevol en goedhartig teenoor ander is, help dit ons om blywende vriendskappe op te bou. Jesus het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Dit geld ook wanneer dit kom by liefde. Hoe meer liefde ons gee, hoe meer liefde sal ons ontvang. “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee”, het Jesus vir sy dissipels gesê.—Lukas 6:38.

Wanneer ons liefde gee en ontvang, voel ons baie veiliger. Die Bybel sê: “Die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:8). “Ek weet dat ek negatiewe gedagtes oor myself het wat eenvoudig nie waar is nie”, erken María. “Ek oorkom hierdie negatiewe denke deur ander te help en van myself te vergeet. Dit gee my altyd ’n gevoel van tevredenheid wanneer ek iets vir ander doen.”

VEILIGHEID VIR ALMAL

Die bogenoemde stappe is nie ’n ‘towerformule’ wat onmiddellike, permanente verligting bring nie. Maar dit kan ’n groot verskil maak. “Soms voel ek nog onseker oor myself”, erken Caroline. “Maar nou het ek ’n beter selfbeeld. Ek weet dat God vir my omgee, en ek het ’n klomp goeie vriende wat my ook veilig laat voel.” Rachel voel ook so. “Van tyd tot tyd voel ek nog baie hartseer”, sê sy. “Maar ek het geestelike broers en susters by wie ek raad kan vra en wat my help om ’n positiewe beskouing te hê. En die beste van alles is dat ek ’n hemelse Vader het met wie ek elke dag praat. Dit maak ’n groot verskil.”

Die Bybel beskryf ’n komende nuwe wêreld, waarin elkeen van ons veilig sal voel

Daar is ook ’n blywende oplossing. Die Bybel beskryf ’n komende nuwe wêreld, waarin elkeen van ons veilig sal voel. God se Woord belowe: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie” (Miga 4:4). Dan sal niemand ons onveilig laat voel of leed aandoen nie. Selfs dinge wat ons erg getraumatiseer het, “sal nie onthou word nie” (Jesaja 65:17, 25). God en sy Seun, Jesus Christus, sal “ware regverdigheid” tot stand bring. Dan sal daar “rus en veiligheid tot onbepaalde tyd” wees.—Jesaja 32:17.

^ par. 5 Al die name is verander.

^ par. 21 Jehovah se Getuies bied gratis Bybelstudies aan vir dié wat nader aan God wil kom.