Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONS LESERS VRA . . . 

Moet Christene Kersfees vier?

Moet Christene Kersfees vier?

Wêreldwyd glo miljoene mense dat die tradisie om Kersfees te vier, deel is van die viering van Jesus Christus se verjaarsdag. Maar het jy al ooit gewonder of Christene in die eerste eeu, dié wat die naaste aan Jesus was, Kersfees gevier het? Weet jy wat die Bybel oor verjaarsdae sê? Die antwoorde op hierdie vrae kan ons help om uit te vind of Christene Kersfees moet vier.

Eerstens sê die Bybel nie dat Jesus of enige ander getroue aanbidder van God hulle verjaarsdag gevier het nie. Daar word net twee mense in die Bybel genoem wat wel hulle verjaarsdag gevier het. Hulle was nie aanbidders van Jehovah, die God van die Bybel, nie. En daar het slegte dinge by al twee hierdie verjaarsdae gebeur (Genesis 40:20; Markus 6:21). Volgens die Encyclopædia Britannica was die vroeë Christene gekant teen die “heidense gebruik om verjaarsdae te vier”.

Wanneer is Jesus gebore?

Die Bybel sê nie presies wanneer Jesus gebore is nie. McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Die dag van Christus se geboorte kan nie uit die N[uwe] T[estament] of enige ander bron vasgestel word nie.” As Jesus wou gehad het dat sy navolgers sy verjaarsdag moes vier, sou hy seker gemaak het dat hulle weet wat sy geboortedatum is.

Tweedens is dit nie in die Bybel opgeteken dat Jesus of enigeen van sy dissipels Kersfees gevier het nie. Volgens die New Catholic Encyclopedia is Kersfeesvieringe vir die eerste keer genoem “in die Chronograph van Filocalus, ’n Romeinse kalender waarvan die bronmateriaal uit 336 [HJ] dateer”. Dit was lank nadat die Bybel voltooi is en eeue nadat Jesus op die aarde was. Daarom sê McClintock en Strong: “Om Kersfees te vier, is nie ’n goddelike instelling nie en het ook nie sy oorsprong in die N[uwe] T[estament] nie.” *

Watter gebeurtenis het Jesus sy dissipels beveel om te herdenk?

Die Groot Onderwyser, Jesus, het sy volgelinge duidelike instruksies gegee wat hy wou hê hulle moes volg, en dit is in die Bybel opgeteken. Maar om Kersfees te vier is nie een daarvan nie. Net soos ’n onderwyser nie wil hê dat sy leerlinge iets anders moet doen as die instruksies wat hy hulle gegee het nie, wil Jesus ook nie hê dat sy volgelinge “verder [moet] gaan as die dinge wat geskrywe staan” in die Bybel nie.—1 Korintiërs 4:6.

Maar daar is ’n belangrike gebeurtenis waarmee die vroeë Christene baie goed bekend was—die herdenking van Jesus se dood. Jesus het self vir sy dissipels gesê wanneer en hoe om hierdie geleentheid te vier. Hierdie spesifieke instruksies asook die dag waarop hy gesterf het, is in die Bybel opgeteken.—Lukas 22:19; 1 Korintiërs 11:25.

Soos ons gesien het, is Kersfees ’n verjaarsdagviering, en vroeë Christene het nie hierdie heidense fees gevier nie. Die Bybel sê ook nie dat Jesus of enigiemand anders Kersfees gevier het nie. Met hierdie feite in gedagte het miljoene Christene regoor die wêreld besluit dat hulle nie Kersfees wil vier nie.

^ par. 6 Vir meer inligting oor die oorsprong van die meeste Kerstradisies sien die artikel “Ons lesers vra . . . Wat is die feite oor Kersfees?” in Die Wagtoring van 1 Desember 2014 wat aanlyn beskikbaar is by www.mr1310.com/af.