Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het drie wyse manne werklik die baba Jesus besoek?

Het drie wyse manne werklik die baba Jesus besoek?

Ons lesers vra

Het drie wyse manne werklik die baba Jesus besoek?

Kersverhale van Suid-Amerika tot Oos-Europa tot Asië beeld ’n Kerstoneel uit met drie konings, of wyse manne, wat kosbare geskenke vir die baba Jesus bring. Is hierdie verhaal waar? Stem dit ooreen met die feite? Kom ons kyk.

Die geboorte van Jesus is in twee Evangelies, Matteus en Lukas, opgeteken. Hierdie verslae toon dat dit net nederige herders van ’n nabygeleë veld was wat Jesus besoek het toe hy gebore is. Die sogenaamde konings, of wyse manne, was in werklikheid sterrewiggelaars, nie koninklikes nie, en daar word nie gesê hoeveel daar was nie. Die sterrewiggelaars het nie na ’n pasgebore baba in ’n krip gereis nie, maar het opgedaag toe Jesus ’n kind was en in ’n huis gewoon het. Hulle teenwoordigheid het selfs Jesus se lewe in gevaar gestel!

Kyk van naderby na die verslag deur die Bybelskrywer Lukas oor Jesus se geboorte en jy sal sien dat dit sê: “Daar was . . . herders wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het. En skielik het Jehovah se engel by hulle gestaan . . . en vir hulle gesê: ‘ . . . Julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.‘ . . . En hulle het hulle gehaas en Maria sowel as Josef gevind, en die kindjie wat in die krip lê.”—Lukas 2:8-16.

Net Josef, Maria en die herders was daar saam met die baba Jesus. Niemand anders word in Lukas se verslag genoem nie.

Ondersoek nou die verslag in Matteus 2:1-11 in die Ou Afrikaanse Bybelvertaling: “Toe Jesus te Betlehem in Judea gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom . . . En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind.”

Let op dat die verslag net sê “wyse manne”, nie “drie wyse manne” nie, en dat hulle eers uit die ooste na Jerusalem gereis het, nie na Betlehem, die stad waar Jesus gebore is nie. Teen die tyd dat hulle uiteindelik in Betlehem aangekom het, was Jesus ’n ‘kindjie’—nie meer ’n baba nie—en nie meer in ’n stal nie, maar in ’n huis.

En hoewel die Ou Afrikaanse Bybelvertaling die woorde “wyse manne” gebruik om hierdie besoekers te beskryf, gebruik ander vertalings “magiërs” of “sterrekykers”. Volgens A Handbook on the Gospel of Matthew is die uitdrukking “wyse manne” ’n vertaling van “’n Griekse selfstandige naamwoord wat oorspronklik verwys het na Persiese priesters wat deskundiges op die gebied van sterrewiggelary was”. En The Expanded Vine’s Expository Dictionary of New Testament Words omskryf die woord as “’n waarsêer, towenaar, iemand wat aanspraak maak op towerkrag, ’n professor in toorkuns”.

Hoewel sterrewiggelary en toorkuns vandag nog gewild is, waarsku die Bybel teen die gebruik daarvan (Jesaja 47:13-15). Dit is vorme van spiritisme en is gebruike wat Jehovah God verafsku (Deuteronomium 18:10-12). Dit is waarom geen engel van God die geboorte van Jesus aan die sterrewiggelaars aangekondig het nie. Maar hulle is deur middel van goddelike ingryping in ’n droom gewaarsku om nie aan goddelose koning Herodes terug te rapporteer nie, aangesien hy Jesus wou doodmaak. Daarom “het hulle langs ’n ander weg na hulle land teruggegaan”.—Matteus 2:11-16.

Sal ware Christene ’n mitiese Kersverhaal wil laat voortbestaan wat die waarheid omtrent die geboorte van Jesus verdraai? Die antwoord is beslis nee.