Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goedhartigheid—Noodsaaklik in God se oë

Goedhartigheid—Noodsaaklik in God se oë

’N JEUGDIGE in Japan is geraak deur die goedhartigheid van ’n saggeaarde bejaarde man. Die man, wat ’n sendeling is, was nie baie jare lank in hierdie Asiatiese land nie en kon nie Japannees goed praat nie. Hy het die jong man nogtans elke week by sy huis besoek om die Bybel met hom te bespreek. Hy het al die vrae wat sy leergierige jong student gevra het, altyd geduldig en met ’n vriendelike glimlag beantwoord.

Die goedhartigheid van die bejaarde sendeling het ’n onuitwisbare indruk op die jong man gemaak. ‘As die Bybel iemand so goedhartig en liefdevol maak’, het die jong man gedink, ‘dan moet ek beslis daaroor leer.’ Dit het hom die nodige aansporing gegee om iets te bestudeer wat vir hom heeltemal vreemd was. Ja, goedhartigheid raak die mensehart en het dikwels ’n kragtiger uitwerking daarop as woorde.

’n Goddelike eienskap

Ons is geneig om goedhartig te wees teenoor ons gesinslede. Maar goedhartigheid is in werklikheid ’n goddelike eienskap. Jesus het gesê dat sy hemelse Vader nie net goedhartig is teenoor diegene vir wie Hy lief is nie, maar ook “teenoor die ondankbares”. Jesus het sy volgelinge aangespoor om God in hierdie verband na te volg: “Julle moet dan volmaak wees, soos julle hemelse Vader volmaak is.”—Lukas 6:35; Matteus 5:48; Eksodus 34:6.

Omdat die mens na God se beeld geskep is, kan hy die eienskap van goedhartigheid weerspieël of aan die dag lê (Genesis 1:27). Ja, ons kan God navolg deur ons goedhartigheid nie net tot ons gesinslede te beperk nie. Die Bybel sê dat goedhartigheid deel is van die begeerlike vrug van God se heilige gees, of werkende krag (Galasiërs 5:22). Daarom kan dit aangekweek word namate ons meer leer omtrent God, die Skepper, en nader aan hom kom.

Aangesien goedhartigheid nie net ’n onafskeibare deel van die mensenatuur is nie, maar ook iets baie kosbaars in God se oë is, is dit dus te verstane dat God vir ons sê om ‘goedhartig teenoor mekaar te word’ (Efesiërs 4:32). Ons word ook herinner: “Moenie die gasvryheid vergeet nie”, oftewel “goedhartigheid teenoor vreemdelinge”.—Hebreërs 13:2, voetnoot in NW.

Is dit moontlik om in vandag se wêreld, waar goedhartigheid en dankbaarheid so seldsaam is, goedhartig te wees teenoor ander, selfs teenoor vreemdelinge? Wat kan ons help om dit te doen? Trouens, waarom moet ons eens daaroor besorg wees?

Noodsaaklik om God se goedkeuring te verkry

Dit is interessant dat die apostel Paulus, nadat hy oor die betoning van goedhartigheid teenoor vreemdelinge gepraat het, verder gesê het: “Party [het], sonder dat hulle dit geweet het, engele onthaal.” Kan jy jou indink hoe jy sou voel as jy die geleentheid gegee is om engele te onthaal? Maar Paulus het dit met die uitdrukking “sonder dat hulle dit geweet het” ingelei. Hy sê met ander woorde dat ons, as ons die gewoonte het om goedhartigheid teenoor ander te betoon, insluitende vreemdelinge of mense wat ons nie so goed ken nie, dalk op onverwagse maniere beloon sal word.

Die meeste Bybelvertalings met kruisverwysings verbind Paulus se woorde met die verslae oor Abraham en Lot in Genesis hoofstukke 18 en 19. In al twee gevalle lees ons van engele wat as vreemdelinge aan hulle verskyn met belangrike boodskappe. Vir Abraham het hulle ’n boodskap gebring oor die vervulling van God se belofte van ’n seun, en vir Lot het hulle ’n boodskap gebring oor verlossing van die naderende verwoesting van die stede Sodom en Gomorra.—Genesis 18:1-10; 19:1-3, 15-17.

As jy die teksverwysings hierbo lees, sal jy oplet dat Abraham sowel as Lot goedhartigheid betoon het aan vreemdelinge wat daar verbygegaan het. In Bybeltye was dit natuurlik die gebruik en ’n plig om gasvryheid aan reisigers en verbygangers te betoon—of dit nou vriende, familielede of vreemdelinge was. Trouens, die Mosaïese Wet het vereis dat Israeliete nie die behoeftes van die nie-Israeliete in die land oorsien nie (Deuteronomium 10:17-19). Dit is nogtans duidelik dat Abraham en Lot meer gedoen het as wat later deur die wet vereis is. Hulle het baie moeite gedoen om goedhartigheid teenoor vreemdelinge te betoon, en hulle is daarvoor geseën.

Abraham se goedhartige dade is geseën deurdat hy ’n seun gekry het. Maar sy goedhartigheid het ook vir ons seëninge meegebring. In watter opsig? Abraham en sy seun Isak het ’n baie belangrike rol in die vervulling van God se voorneme gespeel. Hulle het sleutelfigure in die geslagslyn geword wat na die Messias, Jesus, gelei het. En hulle getroue weg het voorafgeskadu hoe die grondslag vir die mens se redding danksy God se liefde en onverdiende goedhartigheid voorsien sou word.—Genesis 22:1-18; Matteus 1:1, 2; Johannes 3:16.

Hierdie verslae dui op treffende wyse aan wat God verwag van persone wat sy goedkeuring wegdra en hoe kosbaar die eienskap van goedhartigheid vir hom is. In God se oë is dit nie opsioneel nie, maar noodsaaklik.

Goedhartigheid help ons om God beter te leer ken

Die Bybel sê dat baie mense in ons tyd “ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid” sal wees (2 Timoteus 3:1-3). Jy het ongetwyfeld elke dag met sulke mense te doen. Daar is nogtans geen rede om ons gevoelens van goedhartigheid teenoor ander heeltemal te onderdruk nie. Christene word herinner: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. Verskaf goeie dinge voor die oë van alle mense.”—Romeine 12:17.

Ons kan ons inspan en oorvloedig wees in die betoning van goedhartigheid. Die Bybel sê: “Elkeen wat liefhet, . . . doen die kennis van God op”, en een manier waarop ons liefde openbaar, is deur goedhartig teenoor ander te wees (1 Johannes 4:7; 1 Korintiërs 13:4). Ja, deur goedhartig teenoor ons medemens te wees, leer ons God ken, en dit maak ons gelukkiger. Jesus het in sy Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is die goedhartiges—want hulle sal goedhartigheid vind. Gelukkig is dié wat suiwer van hart is—want hulle sal God sien.”—Matteus 5:7, 8, Young’s Literal Translation.

Wanneer jy onseker is oor wat om te doen of te sê, doen of sê dan wat goedhartig is

Beskou die geval van Aki, ’n jong Japannese huisvrou met twee seuns. Nadat Aki se ma skielik gesterf het, het sy ernstig terneergedruk geword. Sy het met tye so sleg gevoel dat sy dokter toe moes gaan. Toe het ’n gesin in die buurt ingetrek. Hulle het onlangs hulle vader in ’n ongeluk verloor, en die moeder moes vyf minderjarige kinders op haar eie grootmaak. Aki het baie jammer gevoel vir die gesin en het groot moeite gedoen om die moeder en haar kinders te bevriend. Aki het alles in haar vermoë gedoen om die gesin te help—sy het vir hulle kos, ou kinderklere, ensovoorts, gegee—en sy het sodoende haar emosionele stabiliteit herwin. Sy het besef hoe waar die Bybel se woorde is wat sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Ja, om goedhartigheid teenoor ander te betoon, is moontlik die beste ding wat jy vir jouself kan doen as jy terneergedruk voel.

“Leen aan Jehovah”

Om goedhartigheid te betoon, kos nie noodwendig baie nie. Dit hang ook nie van jou vermoë of selfs jou fisiese krag af nie. ’n Glimlag, ’n medelydende woord, ’n helpende hand, ’n mooi geskenk of bloot om ander voor ons in ’n tou toe te laat, kan dikwels baie beteken. Wanneer jy in ’n sekere situasie onseker is oor wat die regte ding is om te sê of te doen, sê of doen dan wat goedhartig is. Die jong man wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, was diep geroer deur die ou sendeling se goedhartigheid, wat die taalgrens oorbrug het. Dit is dus te verstane dat God van sy aanbidders verwag om “goedhartigheid lief te hê”!—Miga 6:8.

“Een goedhartige woord kan die koue van drie wintermaande verdryf.” Soos hierdie pragtige Oosterse spreuk aandui, kan ’n klein daad van goedhartigheid baie bereik. Wanneer dit met die regte beweegrede gedoen word, en veral wanneer dit met ’n mens se liefde vir God gepaardgaan, kan dit al die betrokkenes se harte verbly. Selfs wanneer jou goedhartigheid nie waardeer word nie, beteken dit nie dat dit tevergeefs was nie. Dit is iets kosbaars in God se oë. Die Bybel verseker ons dat ons in werklikheid ‘aan Jehovah leen’ wanneer ons goedhartigheid aan ander betoon (Spreuke 19:17). Wees dus op die uitkyk na geleenthede om goedhartigheid aan die mense om jou te betoon.