Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit God se Woord

Kan jy vir ewig lewe?

Kan jy vir ewig lewe?

Hierdie artikel bespreek vrae wat jy dalk al geopper het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Waarom lyk dit of die lewe van korte duur is?

Sommige skilpaaie lewe 150 jaar en sommige bome 3 000 jaar. In teenstelling hiermee is die mens se lewensduur baie korter. En tog kan ons lewe baie sinvoller wees as dié van ’n skilpad of ’n boom. Jehovah God het die mens geskep met die vermoë om dit te geniet om na musiek te luister, sport te speel, kos te eet, te leer, te reis en mense te ontmoet. God het die begeerte in ons hart gesit om eindelose lewe te geniet.—Lees Prediker 3:11.

2. Kan ons werklik vir ewig lewe?

Jehovah lewe vir ewig. Hy sterf nie. Hy is die Bron van die lewe, en daarom kan hy die ewige lewe aan ander gee (Psalm 36:9; Habakuk 1:12). Daarbenewens het hy belowe om die ewige lewe aan diegene te gee wat hom gehoorsaam. Hy sal die verouderingsproses omkeer.—Lees Job 33:24, 25; Jesaja 25:8; 33:24.

Jesus het deur middel van sy kragtige werke getoon dat ons vertroue kan stel in God se belofte van ewige lewe in volmaakte gesondheid. Jesus het baie soorte siektes genees en selfs mense wat gesterf het, opgewek.—Lees Lukas 7:11-15, 18, 19, 22.

3. Wanneer sal die ewige lewe ’n werklikheid word?

God wil hê dat ons vir ewig moet lewe, maar nie in ’n wêreld waar onderdrukking en geweld aan die orde van die dag is nie. Hy wil eerder hê dat ons op ’n paradysaarde moet woon waar ons veilig sal voel (Psalm 37:9, 29; Jesaja 65:21, 22). Terwyl die aarde tot ’n paradys herstel word, sal miljoene wat gesterf het, opgewek word. Diegene wat opgewek word en kies om God te aanbid en te gehoorsaam, sal vir ewig lewe.—Lees Lukas 23:42, 43; Johannes 5:28, 29.

4. Hoe kan ons die ewige lewe verkry?

God is die enigste een wat ons die ewige lewe kan gee. Dit is dus verstandig om nader aan hom te kom deur hom te leer ken. Om kennis van God in te neem, is volgens die Bybel soos om te eet (Matteus 4:4). Dit is lekker om te eet, maar dit verg inspanning om voedsel te kry en voor te berei. So ook verg dit inspanning om geestelike voedsel in te neem. Maar kan jy aan enigiets dink wat voordeliger is as om nader aan God te kom en die ewige lewe te ontvang?—Lees Lukas 13:23, 24; Johannes 6:27; 17:3.