Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 SLEUTELS TOT GESINSGELUK

Verhoudings met diegene buite julle stiefgesin

Verhoudings met diegene buite julle stiefgesin

MARGARET, * ’N STIEFMA IN AUSTRALIË: “My man se eksvrou het vir die kinders gesê om nie te luister na enigiets wat ek sê nie—nie eers iets eenvoudigs soos: ‘Onthou om julle tande te borsel’ nie.” Margaret meen dat hierdie verdelende taktiek ’n negatiewe uitwerking op haar huwelik gehad het.

Die verhoudings wat ’n stiefgesin met diegene buite hulle huishouding het, is uniek en bied dikwels groot uitdagings. * Die meeste stiefouers moet met die kind se ander ouer kommunikeer oor sake soos besoekreëlings, dissipline en finansiële steun. Vriende en familie sukkel dalk ook om gewoond te raak aan nuwe gesinslede. Kyk hoe die Bybel se raad jou stiefgesin kan help om hierdie uitdagings die hoof te bied.

VERHOUDING 1: DIE KIND SE ANDER OUER

’n Stiefma in Namibië met die naam Judith sê: “My stiefkinders se ma het eenkeer vir hulle gesê dat ek net hulle pa se nuwe vrou is en dat enige kinders wat ons dalk sal hê, nie hulle boeties of sussies sal wees nie. Haar woorde het my seergemaak, want ek het my stiefkinders lief asof hulle my eie is.”

Deskundiges is dit eens dat die verhouding met die kind se ander ouer probleme en verdeeldheid in  ’n stiefgesin kan veroorsaak. Dit is dikwels die ma en die stiefma wat die meeste sukkel. Wat kan help?

’n Sleutel tot sukses: Stel redelike perke. As jy die ander ouer heeltemal probeer uitsluit, kan dit jou kind emosioneel benadeel. * ’n Kind se ouers, wat sy “geboorte veroorsaak het”, het ’n unieke plek in sy lewe (Spreuke 23:22, 25). As jy egter toelaat dat ’n vorige huweliksmaat te veel invloed in jou huisgesin het, kan dit jou nuwe maat frustreer of selfs kwaad maak. Streef daarna om ’n balans te handhaaf deur redelike perke te stel om jou huwelik te beskerm, terwyl jy sover moontlik met die ander ouer saamwerk.

WENKE VIR OUERS

  • Wanneer jy met jou vorige huweliksmaat praat, moet die gesprek oor julle kinders handel en so min as moontlik oor ander sake. Jy kan byvoorbeeld taktvol vra of dit moontlik is om te besluit op ’n spesifieke tyd gedurende die dag wanneer hy of sy kan bel. Dit werk gewoonlik beter as om oproepe op ongeleë tye of laat in die nag te kry.

  • As jy nie toesig oor jou kinders het nie, kan jy jou kinders dalk bel of briewe, teksboodskappe of e-posse skryf om in aanraking met hulle te bly (Deuteronomium 6:6, 7). Party gebruik selfs video-oproepe. Hierdie dinge sal jou dalk help om jou kinders beter te verstaan—en ’n positiewer invloed op hulle te hê—as wat jy ooit gedink het moontlik is.

WENKE VIR STIEFMA’S

  • Betoon “meegevoel” aan die kinders se ma deur dit duidelik te maak dat jy haar nie probeer vervang nie (1 Petrus 3:8). Laat haar gereeld weet hoe dit met haar kinders gaan wanneer hulle by jou is en vertel haar hoofsaaklik van die goeie dinge (Spreuke 16:24). Vra haar raad, en bedank haar wanneer sy dit aanbied.

  • Moenie te veel toegeneentheid aan die kinders bewys wanneer hulle ma by is nie. Beverly, ’n stiefma in die Verenigde State, sê: “My jong stiefkinders wou my Ma noem. Ons het gesê dat hulle dit by ons huis kan doen, maar nie wanneer hulle by hulle ma, Jane, of haar familie is nie. Van toe af het ek en Jane beter oor die weg gekom. Trouens, ons het later saam gewerk wanneer die skool konserte en uitstappies gereël het.”

Jy oefen moontlik ’n groter invloed op jou kinders uit as wat jy besef

WENKE OM OUERS EN STIEFOUERS TE HELP OM OOR DIE WEG TE KOM

    Beleefdheid en respek dra by tot goeie verhoudings

  • Moet nooit voor die kinders sleg praat van die ander ouer of stiefouer nie. Dit is maklik om in die gewoonte te verval om negatiewe dinge te sê, maar dit is baie ontstellend vir ’n kind. En jy weet nooit hoe of wanneer jou woorde dalk herhaal word nie (Prediker 10:20). As ’n kind sê dat die ander ouer of stiefouer iets leliks van jou gesê het, moet jy op die kind se gevoelens konsentreer. Jy kan iets sê soos: “Ek is jammer dat jy dit moes hoor. Jou ma is vies vir my, en soms sê mense onvriendelike dinge wanneer hulle kwaad is.”

  •   Probeer om dieselfde reëls en dissipline in al twee huise te handhaaf. As dit nie moontlik is nie, moet jy die verskille verduidelik sonder om die ander ouer af te kraak. Kyk na die volgende scenario:

    Stiefma: André, hang asseblief jou nat handdoek op.

    André: By my ma se huis los ons dit op die vloer, en sy hang dit op.

    Stiefma (kwaad): Wel, sy leer jou net om lui te wees.

    Sal die volgende reaksie beter wees?

    Stiefma (kalm): O, ek sien. Wel, hier hang ons dit self op.

  • Moenie bedrywighede vir die kinders reël gedurende die tyd wanneer hulle by die ander ouer sal wees nie (Matteus 7:12). As jy die bedrywigheid nie vir ’n ander tyd kan reël nie, moet jy die ander ouer se toestemming vra voordat jy vir die kinders sê wat jy beplan het.

PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer jy jou man of vrou se vorige huweliksmaat of jou vorige huweliksmaat se nuwe man of vrou weer sien, kan jy die volgende stappe volg:

  1. Maak oogkontak en glimlag. Moenie sug, jou skouers laat hang of jou oë rol nie.

  2. Gebruik die persoon se naam wanneer jy hom of haar groet. Sê byvoorbeeld: “Hallo, Jane.”

  3. Sluit die persoon by die gesprek in as julle in ’n groep is.

VERHOUDING 2: VOLWASSE KINDERS

Die boek Step Wars haal ’n vrou aan wat gekla het dat haar man gewoonlik sy volwasse kinders se kant kies en weier om te erken dat hulle haar sleg behandel. “Dit maak my woedend”, sê sy. Hoe kan jy voorkom dat verhoudings met volwasse kinders julle huwelik benadeel?

’n Sleutel tot sukses: Toon empatie. Die Bybel sê: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek” (1 Korintiërs 10:24). Probeer die ander persoon se gevoelens verstaan en jou daarmee vereenselwig. Volwasse stiefkinders is dalk bang dat hulle hulle ouer se liefde sal verloor. Of hulle voel dalk dat hulle dislojaal sal wees aan hulle oorspronklike gesin as hulle ’n stiefouer verwelkom. En ouers is dalk bang dat hulle hulle kinders van hulle sal vervreem as hulle hulle kritiseer.

Moenie jou stiefkinders probeer dwing om met jou vriende te wees nie; laat die verhouding eerder vanself ontwikkel. Dit is oor die algemeen nie verstandig om iemand te probeer oorhaal of dwing om ware liefde vir jou te voel nie (Hooglied 8:4). Probeer dus om redelik en realisties te wees wanneer dit kom by hoe heg jy verwag jou verhouding met jou stiefkinders sal wees.

Moenie alles sê wat jy dink of voel nie, al word jy sleg behandel (Spreuke 29:11). Wanneer jy dit baie moeilik vind om jou spraak te beheers, kan jy bid soos koning Dawid van Israel: “Stel tog ’n wag, o Jehovah, voor my mond; bewaak tog die deur van my lippe.”—Psalm 141:3.

As julle besluit om in die huis te bly waarin die kinders grootgeword het, sal julle dalk verbaas wees oor hoe geheg hulle nog steeds daaraan is. Probeer om nie baie veranderinge aan te bring nie, veral nie in hulle vorige kamers nie. Julle kan dit ook oorweeg om te verhuis.

 PROBEER DIE VOLGENDE: As jou volwasse stiefkinders voortgaan om jou op ’n onbeskofte of oneerbiedige manier te behandel, kan jy met jou huweliksmaat oor jou gevoelens praat en aandagtig luister na sy of haar mening. Moenie druk op jou maat plaas om die kinders tereg te wys nie. Probeer eerder om ’n goeie verstandhouding met jou maat op te bou. Sodra julle ‘eenders dink’ oor die situasie, kan julle saam werk om dit te verbeter.—2 Korintiërs 13:11.

Probeer liefde betoon aan al die kinders in die gesin

VERHOUDING 3: ANDER FAMILIELEDE EN VRIENDE

Marion, ’n stiefma in Kanada, sê: “My ouers het dikwels geskenke gegee aan my seun, maar nie aan my man se kinders nie. Ons het daarvoor probeer vergoed, maar soms kon ons dit nie bekostig nie.”

’n Sleutel tot sukses: Stel jou nuwe gesin eerste. Sê vir jou familielede en vriende hoe toegewyd jy is aan jou nuwe gesin (1 Timoteus 5:8). Hoewel jy nie kan verwag dat alle familielede en vriende onmiddellik lief sal wees vir nuwe gesinslede nie, kan jy hulle vra om beleefd en regverdig te wees. Verduidelik hoe seergemaak die kinders sal wees as hulle sien dat die ander kinders meer aandag kry en daar meer goedhartigheid teenoor hulle betoon word.

Probeer reël dat grootouers uit jou eerste huwelik ’n plek in jou kinders se lewe het. ’n Ma in Engeland met die naam Susan vertel: “Ek het 18 maande ná die dood van my eerste man weer getrou, en sy ouers het gesukkel om my nuwe man te aanvaar. Dinge het beter geword toe ons hulle meer ingesluit het, vir die kinders gesê het om hulle te bel en hulle bedank het vir hulle ondersteuning.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Identifiseer die vriend of familielid met wie julle die moeilikste verhouding het en praat dan met jou maat oor hoe julle hierdie verhouding kan verbeter.

Verhoudings met diegene buite julle huishouding kan ’n uitdaging bied vir julle stiefgesin. As julle gesin egter skriftuurlike raad toepas, kan julle die seën ontvang wat die Bybel belowe: “Deur wysheid sal ’n huisgesin opgebou word, en deur onderskeidingsvermoë sal dit stewig gevestig word.”—Spreuke 24:3.

^ par. 3 Van die name is verander.

^ par. 4 Vir inligting oor hoe om ander uitdagings die hoof te bied, sien die voorbladreeks “Stiefgesinne—Die sleutels tot sukses”, in die Ontwaak! van April 2012, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 8 As ’n vorige huweliksmaat dreigemente maak of beledigend is, sal jy moontlik strenger perke moet stel om jou gesin te beskerm.

VRA JOU AF . . .

  • Hoe kan ek beter oor die weg kom met my maat se vorige huweliksmaat?

  • Hoe kan ons ons familielede en vriende help om ons gesin nie onbewustelik te benadeel nie?