Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 KOM NADER AAN GOD

Jehovah ‘is nie partydig nie’

Jehovah ‘is nie partydig nie’

Was jy al ooit ’n slagoffer van diskriminasie? Is jy al ’n versoek of diens geweier of andersins met minagting behandel weens jou velkleur, etniese agtergrond of maatskaplike stand? Indien wel, is jy beslis nie alleen nie. Maar die goeie nuus is: Hoewel hierdie soort behandeling algemeen voorkom op die aarde, bestaan dit glad nie in die hemel nie. Die Christenapostel Petrus het met oortuiging gesê dat “God nie partydig is nie”.—Lees Handelinge 10:34, 35.

Petrus het hierdie woorde gesê in ’n baie ongewone situasie—in die huis van ’n heiden met die naam Kornelius. Petrus, wat Joods van geboorte was, het in ’n tyd gelewe toe Jode heidene as onrein beskou het en dus gedink het dat dit onaanvaarbaar is om enigsins met hulle omgang te hê. Waarom was Petrus dan in Kornelius se huis? Eenvoudig gestel, omdat Jehovah God dit gereël het. God het Petrus ’n visioen laat sien waarin daar vir hom gesê is: “Hou op om die dinge wat God gereinig het, verontreinig te noem.” Petrus het nie geweet dat Kornelius die vorige dag ook ’n visioen gesien het waarin ’n engel vir hom gesê het dat hy Petrus moet laat haal nie (Handelinge 10:1-15). Toe Petrus besef dat Jehovah ’n rol hierin gespeel het, kon hy nie stilbly nie.

“Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie”, het Petrus gesê (Handelinge 10:34). Die Griekse woord wat met “partydig” vertaal word, beteken letterlik “aannemer van aangesigte” (The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures). ’n Geleerde verduidelik die term soos volg: “Dit verwys na ’n regter wat na ’n persoon se gesig kyk en ’n uitspraak lewer, nie op grond van die feite van die saak nie, maar op grond van hoeveel of hoe min hy van die persoon hou.” God begunstig nie een aangesig bo ’n ander weens ras, nasionaliteit, maatskaplike stand of enige ander uiterlike faktore nie.

Jehovah sien eerder wat in ons hart is (1 Samuel 16:7; Spreuke 21:2). Petrus het vervolgens gesê: “In elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:35). Om God te vrees, beteken om hom te respekteer, te eer en te vertrou en niks te doen wat hom mishaag nie. Om regverdigheid te beoefen, behels dat ’n mens gewillig doen wat reg is in God se oë. Jehovah skep behae in die mens wie se hart vervul is met eerbiedige ontsag wat hom beweeg om te doen wat reg is.—Deuteronomium 10:12, 13.

Wanneer Jehovah vanuit die hemel neerkyk, sien hy beslis net een ras—die menseras

As jy al ooit die slagoffer van diskriminasie of vooroordeel was, het jy goeie rede om Petrus se woorde omtrent God ter harte te neem. Jehovah trek mense uit alle nasies na ware aanbidding (Johannes 6:44; Handelinge 17:26, 27). Hy luister na en reageer op die gebede van sy aanbidders, ongeag hulle ras, nasionaliteit of maatskaplike stand (1 Konings 8:41-43). Wanneer Jehovah vanuit die hemel neerkyk, sien hy beslis net een ras—die menseras. Wil jy graag meer leer omtrent hierdie onpartydige God?

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Junie

Johannes 17-21Handelinge 1-10