Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | LUISTER ENIGIEMAND AS JY BID?

Gebed—Hoe jy daarby kan baat vind

Gebed—Hoe jy daarby kan baat vind

Voordat ons enigiets aanpak, is dit net natuurlik om te wonder: ‘Wat kry ek daaruit?’ Maar is dit selfsugtig om dit oor gebed te vra? Nie noodwendig nie. Ons wil natuurlik weet of dit vir ons enige voordeel inhou. Selfs die goeie man Job het eenkeer gevra: “As ek hom roep, sou hy my antwoord?”—Job 9:16.

In die vorige artikels het ons gekyk na bewyse dat gebed beslis nie net ’n godsdiensritueel of ’n soort terapie is nie. Die ware God luister werklik na gebede. As ons op die regte manier en vir die regte dinge bid, sal hy na ons luister. Wat meer is, hy nooi ons om nader aan hom te kom (Jakobus 4:8). Wat kan ons dus verwag as ons gebed deel van ons lewe maak? Kom ons kyk na ’n paar voordele.

Gemoedsrus.

Word jy deur angstigheid oorweldig wanneer jy voor probleme en uitdagings te staan kom? Die Bybel spoor ons aan om op sulke tye ‘onophoudelik te bid’ en ons ‘versoeke by God bekend te laat word’ (1 Tessalonisense 5:17; Filippense 4:6). Dit verseker ons dat “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, [ons] harte en [ons] verstandelike vermoëns [sal] bewaak” as ons tot hom bid (Filippense 4:7). Ons kan ’n mate van vrede verkry deur ons hart voor ons hemelse Vader uit te stort. Trouens, hy spoor ons aan om juis dit te doen. “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag”, sê Psalm 55:22.

“Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag.” —Psalm 55:22

Tallose mense regoor die wêreld het al hierdie vrede ondervind. Hie Ren, van Suid-Korea, sê: “Al het ek ernstige probleme, voel dit asof ’n berg van my skouers af is wanneer ek daaroor bid, en dit gee my die krag om te volhard.” Cecilia, in die Filippyne, vertel: “Omdat ek ’n ma is, bekommer ek my baie oor my dogters en my eie ma, aangesien sy my nie meer kan herken nie. Maar gebed help my om my minder te bekommer in my daaglikse lewe. Ek weet dat Jehovah my sal help om na hulle om te sien.”

Vertroosting en krag wanneer jy beproewinge deurmaak.

Is jy onder hewige druk of moet jy dalk selfs lewensgevaarlike of tragiese omstandighede verduur? Om tot “die God van alle vertroosting” te bid, kan groot verligting bring. Die Bybel sê dat hy “ons in al ons verdrukking vertroos” (2 Korintiërs 1:3, 4). Byvoorbeeld, toe Jesus eenkeer baie verontrus en angstig was, het hy “op sy knieë gegaan en begin bid”. Wat was die resultaat? “’n Engel [het] uit die hemel aan hom verskyn en hom versterk” (Lukas 22:41, 43). Nog ’n getroue man, Nehemia, is gedreig deur bose mense wat wou keer dat hy God se werk doen. Hy het gebid: “Versterk dan nou my hande.” Die daaropvolgende gebeure het getoon dat God hom werklik gehelp het om sy vrese te oorkom en om sy werk suksesvol te voltooi (Nehemia 6:9-16). Reginald, in Ghana, beskryf sy ondervinding in verband met gebed: “Wanneer ek bid, veral wanneer probleme my oorweldig, voel dit asof ek met iemand gepraat het wat my kan help en wat my verseker dat daar geen rede is om paniekbevange te word nie.” Ja, God kan ons vertroos wanneer ons tot hom bid.

Wysheid van God af.

Party van die besluite wat ons neem, kan ’n blywende uitwerking op ons en ons geliefdes hê. Hoe kan ons wyse keuses maak? Die Bybel sê: “As een van julle dan wysheid kortkom [veral wanneer hy beproewinge deurmaak], laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5). As ons vir wysheid bid, kan God sy heilige gees gebruik om ons te lei sodat ons wyse besluite kan neem. Ja, ons kan spesifiek vir heilige gees vra omdat Jesus ons verseker dat “die Vader in die hemel heilige gees [sal] gee aan dié wat hom vra!”—Lukas 11:13.

“Ek het aanhoudend tot Jehovah gebid vir leiding om die regte besluit te neem.”—Kwabena, Ghana

Selfs Jesus het gedink dat dit nodig is om sy Vader om hulp te vra wanneer hy belangrike besluite geneem het. Die Bybel sê vir ons dat hy “die hele nag in gebed tot God deurgebring” het toe hy sy 12 apostels gekies het.—Lukas 6:12.

Soos Jesus, vind baie mense dit gerusstellend as hulle sien hoe God hulle verhoor wanneer hulle hom om hulp vra om wyse besluite te neem. Regina, in die Filippyne, vertel van al die probleme waarvoor sy al te staan gekom het. Byvoorbeeld, sy moes haar en haar kinders ná die dood van haar man onderhou, sy het haar werk verloor en het dit moeilik gevind om haar kinders groot te maak. Wat het haar gehelp om wyse besluite te neem? Sy sê: “Ek maak staat op Jehovah se hulp deur middel van gebed.” Kwabena, in Ghana, verduidelik waarom hy God gevra het om hom te help: “Ek het my goed betaalde werk in die boubedryf verloor.” Hy sê dat hy aanhoudend tot Jehovah gebid het vir leiding om die regte besluit te neem toe hy sy opsies oorweeg het. Hy voeg by: “Ek is vas oortuig dat Jehovah my gehelp het om ’n loopbaan te kies wat my in staat stel om in my geestelike en fisiese behoeftes te voorsien.” Jy kan ook God se leiding ondervind deur te bid oor dinge wat jou verhouding met hom kan raak.

Ons het maar net ’n paar maniere genoem waarop jy by gebed kan baat vind. (Vir meer voorbeelde, sien die venster “ Die voordele van gebed”.) Maar as jy hierdie voordele wil geniet, moet jy God eers leer ken en uitvind wat sy wil is. As dit is wat jy wil doen, spoor ons jou aan om Jehovah se Getuies te vra om die Bybel met jou te studeer. * Dit kan die eerste stap wees wat jy neem om nader aan die “Hoorder van die gebed” te kom.—Psalm 65:2.

^ par. 14 Vir meer inligting, tree in verbinding met Jehovah se Getuies in jou gebied of besoek ons webwerf, www.mr1310.com.