Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Jesaja 41:10 – “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou”

Jesaja 41:10 – “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou”

“Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie angstig wees nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk, ja, ek sal jou help. Ek sal jou stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.” – Jesaja 41:10, Nuwe Wêreld-vertaling.

“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” – Jesaja 41:10, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Betekenis van Jesaja 41:10

Jehovah a God verseker sy lojale aanbidders dat hy hulle ondersteun, maak nie saak watter probleme hulle het nie.

“Ek is met jou.” Jehovah gee sy aanbidders ’n rede hoekom hulle nie bang moet wees nie – hulle is nie alleen nie. Omdat hy sien wat hulle deurgaan en hy na hulle gebede luister, is dit asof hy daar saam met hulle is. – Psalm 34:15; 1 Petrus 3:12.

“Ek is jou God.” Jehovah hou sy aanbidders kalm deur hulle te herinner dat hy homself nog steeds as hulle God beskou en dat hy hulle as sy aanbidders aanvaar. Hulle kan daarvan seker wees dat niks God ooit sal keer om hulle te help nie. – Psalm 118:6; Romeine 8:32; Hebreërs 13:6.

“Ek sal jou versterk, ja, ek sal jou help. Ek sal jou stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.” Deur dieselfde idee op drie verskillende maniere te herhaal, beklemtoon Jehovah dat hy hulle beslis sal help. Hy gebruik ’n illustrasie om te wys wat hy doen wanneer sy volk sy hulp nodig het. As iemand val, kan God sy regterhand uitsteek om hom op te trek. – Jesaja 41:13.

’n Belangrike manier hoe God sy aanbidders versterk en help, is deur sy Woord, die Bybel (Josua 1:8; Hebreërs 4:12). Byvoorbeeld, God se Woord gee praktiese raad vir mense wat voor probleme te staan kom, soos armoede, siekte of die dood van ’n geliefde (Spreuke 2:6, 7). God kan ook sy heilige gees, of werkende krag, gebruik om sy aanbidders die emosionele en verstandelike krag te gee wat hulle help om hulle probleme te hanteer. – Jesaja 40:29; Lukas 11:13.

Konteks van Jesaja 41:10

Hierdie woorde het die getroue Jode vertroos wat later as slawe na Babilon geneem is. Jehovah het voorspel dat daar teen die einde van die Joodse ballingskap verslae sou wees van ’n vyand wat sou kom om die nasies om hulle te vernietig en Babilon te dreig (Jesaja 41:2-4; 44:1-4). Hoewel hierdie nuus Babilon en die nasies om die Jode baie bang sou maak, sou die Jode nie bekommerd hoef te wees nie, want Jehovah sou hulle beskerm. Hy het hulle drie keer verseker met die woorde “moenie bang wees nie”. – Jesaja 41:5, 6, 10, 13, 14.

Jehovah God het hierdie woorde vir die getroue Jode wat in Babilon gevange was, laat skryf. Maar hy het ook seker gemaak dat die woorde in Jesaja 41:10 bewaar word sodat dit al sy aanbidders kan vertroos (Jesaja 40:8; Romeine 15:4). Net soos hy sy aanbidders in die verlede gehelp het, help hy hulle vandag ook.

Lees Jesaja hoofstuk 41 saam met verduidelikende voetnote en kruisverwysings.

a Jehovah is die persoonlike naam van God. – Psalm 83:18.