Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Help jou kinders om ontstellende nuusberigte te hanteer

Help jou kinders om ontstellende nuusberigte te hanteer

 Daar is altyd ontstellende nuus beskikbaar op TV, selfone, tablette en rekenaars, en dikwels is daar eksplisiete video’s in hierdie nuusberigte.

 Kinders kyk hierna.

 Hoe kan jy keer dat jou kinders oorweldig word deur ontstellende nuusberigte?

 Hoe word kinders geraak deur die nuus?

  •   Baie kinders word ontstel deur slegte dinge wat hulle op die nuus sien. Party kinders sal nie openlik sê hoe hulle voel nie, maar ’n tragiese nuusberig kan hulle dalk baie ontstel. a Hulle kan nog angstiger word as hulle ouers ook onnodig angstig is.

  •   Kinders verstaan dalk nie wat hulle op die nuus sien nie. Byvoorbeeld, party kinders dink dat wat hulle gesien het, met hulle gesin sal gebeur. En jong kinders wat video’s oor dieselfde gebeurtenis oor en oor kyk, dink dalk dat die ontstellende insident oor en oor gebeur.

  •   Kinders vind dit dalk moeilik om die regte perspektief van die nuus te hê. Hulle besef dalk nie dat nuusagentskappe besighede is wat meer geld maak wanneer meer mense na hulle nuusberigte kyk nie. Daarom kan ’n nuusagentskap iets wat gebeur het, meer dramaties laat lyk sodat mense meer wil uitvind en aanhou om hulle nuusberigte te kyk.

 Hoe kan jy jou kinders help om stresvolle nuusberigte te hanteer?

  •   Beperk hoeveel slegte nuus jou kinders na kyk of luister. Dit beteken nie dat jou kinders nie moet weet wat in die wêreld aangaan nie. Maar niks goeds kan gebeur as hulle ’n ontstellende nuusberig oor en oor kyk of hoor nie.

     “Soms praat ons tot in die kleinste besonderheid oor ’n nuusberig, maar dan besef ons nie hoe oorweldigend dit vir ons kinders is wat ons hoor nie.” – Maria.

     Bybelwaarheid: “Bekommernis is ’n swaar las.” – Spreuke 12:25, Contemporary English Version.

  •   Luister geduldig, wys meegevoel. As dit moeilik vir jou kind is om oor ’n insident te praat, laat hy eerder ’n prentjie daaroor teken. Praat met jou kind oor sy bekommernisse en gebruik woorde wat hy sal verstaan, maar vermy dit om onnodige besonderhede te bespreek wat die kind nie hoef te weet nie.

     “Dit lyk asof ons dogter beter voel nadat ons na haar geluister het. Maar sy sou nie beter voel as ons net vir haar sê: ‘Dit is hoe dinge nou is, en ons moet net gewoond raak daaraan’ nie.” – Sarahi.

     Bybelwaarheid: “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat.” – Jakobus 1:19.

  •   Help jou kind om realisties te wees oor die nuus. Byvoorbeeld, ’n nuusberig oor ’n ontvoering kan dit dalk laat lyk asof so iets meer gereeld gebeur as wat dit regtig gebeur. Verduidelik aan jou kinders wat jy gedoen het om seker te maak dat hulle veilig is. Hou ook in gedagte dat ’n tragiese insident gewoonlik op die nuus is omdat dit selde gebeur – nie omdat dit algemeen is nie.

     “Help jou kinders om hulle gevoelens te verwerk. Dikwels beheer jou gedagtes jou gevoelens. So as ons ons kinders help om op iets positiefs te fokus, sal hulle beter voel.” – Lourdes.

     Bybelwaarheid: “’n Wyse persoon kies sy woorde versigtig, en daarom kan sy woorde mense oorreed.” – Spreuke 16:23.

a As jong kinders angstig is, maak hulle soms die bed nat of is hulle bang om skool toe te gaan en om weg van hulle ouers af te wees.