Spring na inhoud

Amper-dood-ervarings—Wat beteken dit nie?

Amper-dood-ervarings—Wat beteken dit nie?

Die Bybel se antwoord

 Baie mense wat by die dood omgedraai het, sê dat hulle onthou dat hulle van hulle liggaam geskei is of dat hulle ’n helder lig of ’n plek van besondere prag gesien het. ‘Party beskou hierdie ervaring as ’n bevoorregte kykie in ’n ander bestaansryk’, sê die boek Recollections of Death. Al meld die Bybel nie sulke amper-dood-ervarings nie, bevat dit wel ’n grondwaarheid wat toon dat dit nie visioene van die volgende lewe is nie.

 Die dooies weet niks.

Die Bybel sê: “Die dooies . . . is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Ná die dood gaan ons nie oor na ’n ander vlak van bestaan of denke nie, maar eerder na ’n toestand van niebestaan. Die lering dat ons ’n onsterflike siel het wat ná die dood van ons liggaam voortleef, kom nie uit die Bybel nie (Esegiël 18:4). Enige herinneringe aan ’n amper-dood-ervaring kan dus nie ’n kykie in die hemel, hel of hiernamaals wees nie.

 Wat het Lasarus oor die hiernamaals gesê?

Die Bybel se verslag van Lasarus beskryf ’n werklike doodservaring: Hy is deur Jesus opgewek nadat hy vier dae lank dood was (Johannes 11:38-44). As Lasarus lewe in die een of ander hiernamaals geniet het, sou dit wreed gewees het van Jesus om hom terug te bring tot lewe op die aarde. Maar volgens die Bybel het Lasarus niks gesê oor lewe in ’n hiernamaals nie. Lasarus sou ongetwyfeld oor sy lewe in ’n hiernamaals gepraat het as hy so ’n ervaring gehad het. Dit is betekenisvol dat Jesus Lasarus se dood as slaap beskryf het, wat daarop dui dat Lasarus van hoegenaamd niks bewus was terwyl hy dood was nie.—Johannes 11:11-14.