Spring na inhoud

Is die Bybel verander?

Is die Bybel verander?

 Nee. Wanneer ons die Bybel met ou manuskripte vergelyk, is dit duidelik dat die Bybel nie eintlik verander het nie. Dit is merkwaardig, want daar is oor duisende jare baie kopieë daarvan gemaak.

Beteken dit dat daar nooit foute gemaak is toe dit oorgeskryf is nie?

 Daar is al duisende ou Bybelmanuskripte gevind. Party van hulle verskil op ’n hele paar plekke met mekaar wat wys dat daar foute gemaak is toe dit oorgeskryf is. Die meeste van hierdie verskille is klein en verander nie die betekenis van die teks nie. Maar enkele groot verskille is gevind. Dit lyk asof ’n paar mense lank gelede opsetlik probeer het om die Bybel se boodskap te verander. Kyk na twee voorbeelde:

  1.   In 1 Johannes 5:7 sê party ouer Bybelvertalings die volgende: “In die hemel, die Vader, die Woord en die Heilige Gees: en hierdie drie is een.” Maar betroubare manuskripte bevestig dat hierdie woorde nie in die oorspronklike teks was nie. Dit is eers later bygevoeg. a Daarom is hierdie woorde nie in betroubare moderne Bybelvertalings nie.

  2.   God se persoonlike naam kom duisende kere in ou manuskripte van die Bybel voor. Maar baie Bybelvertalings het dit met titels soos “Here” of “God” vervang.

Hoe kan ons seker wees dat daar nie nog ander foute is nie?

 Daar is nou al soveel manuskripte ontdek dat dit makliker as ooit tevore is om foute op te tel. b Wat het ’n vergelyking van hierdie dokumente gewys oor die akkuraatheid van die Bybel wat ons vandag het?

  •   Die geleerde William H. Green sê oor die teks van die Hebreeuse Geskrifte (ook algemeen bekend as die “Ou Testament”): “Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie.”

  •   Die Bybelgeleerde F. F.Bruce het oor die Christelike Griekse Geskrifte, of die “Nuwe Testament”, geskryf: “Daar is baie meer bewyse vir die geskrifte van die Nuwe Testament as vir baie geskrifte van klassieke skrywers. En niemand sal eers daaraan dink om hierdie klassieke geskrifte te bevraagteken nie.”

  •   Sir Frederic Kenyon, ’n bekende kenner van Bybelmanuskripte, het gesê dat ’n persoon “die hele Bybel in sy hand kan neem en sonder vrees of huiwering kan sê dat hy die ware Woord van God vashou, wat sonder betekenisvolle veranderinge oor duisende jare van geslag tot geslag oorgedra is”.

Watter ander redes het ons om te glo dat die Bybel wat ons vandag het, akkuraat is?

  •   Bybelverslae oor die ernstige foute wat God se volk gemaak het, c is getrou deur Joodse kopiiste sowel as Christenkopiiste oorgeskryf (Numeri 20:12; 2 Samuel 11:2-4; Galasiërs 2:11-14). Hulle het ook dele van die Bybel oorgeskryf wat die Joodse nasie se ongehoorsaamheid sowel as mensgemaakte leerstellings veroordeel (Hosea 4:2; Maleagi 2:8, 9; Matteus 23:8, 9; 1 Johannes 5:21). Deur hierdie verslae akkuraat oor te skryf, het die kopiiste bewys dat hulle betroubaar was en dat hulle groot respek vir God se heilige Woord gehad het.

  •   Aangesien God die Bybel geïnspireer het, d maak dit dan nie sin dat hy sou seker maak dat dit akkuraat oorgedra word nie? (Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:24, 25). Hy wou tog gehad het dat die Bybel nie net mense van die ou tyd moes bevoordeel nie, maar ook almal wat vandag lewe (1 Korintiërs 10:11). En “alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.”—Romeine 15:4.

  •   Jesus en sy volgelinge het uit kopieë van die Hebreeuse Geskrifte aangehaal en het nooit gesê dat hulle twyfel aan die akkuraatheid van daardie ou manuskripte nie.—Lukas 4:16-21; Handelinge 17:1-3.

a Hierdie woorde is nie in die Codex Sinaiticus, die Codex Alexandrinus, die Vatikaanse Manuskrip 1209, die oorspronklike Latynse Vulgaat, die Philoxeniaanse-Harklensiese Siriese weergawe of die Siriese Pesjitta nie.

b Byvoorbeeld, meer as 5 000 Griekse manuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte, wat ook die Nuwe Testament genoem word, is al ontdek.

c Die Bybel beskryf nie God se menseverteenwoordigers as mense wat nooit foute maak nie. Dit erken eerder: “Daar is geen mens wat nie sondig nie.”—1 Konings 8:46.

d Die Bybel sê dat al het God nie vir die menseskrywers woord vir woord gesê wat om te skryf nie, het hy wel hulle gedagtes gerig.—2 Timoteus 3:16, 17; 2 Petrus 1:21.