Spring na inhoud

Wat is die Pasga?

Wat is die Pasga?

Die Bybel se antwoord

 Die Pasga is ’n Joodse viering. Dit herdenk die feit dat God die Israeliete uit Egiptiese slawerny in 1513 VHJ bevry het. God het die Israeliete beveel om hierdie belangrike gebeurtenis elke jaar te onthou op die 14de dag van die Joodse maand Abib, wat later Nisan genoem is. — Eksodus 12:42; Levitikus 23:5.

Waarom word dit die Pasga genoem?

 Die woord “Pasga” verwys na die tyd toe God die Israeliete beskerm het teen die verskriklike plaag wat elke eersgeborene in Egipte doodgemaak het (Eksodus 12:27; 13:15). Voordat God hierdie verwoestende plaag gebring het, het hy die Israeliete beveel om die bloed van ’n geslagte lam of bokkie op hulle deurkosyne te spat (Eksodus 12:21, 22). God sou hierdie teken sien en hulle huise oorslaan en nie hulle eersgeborenes doodmaak nie. — Eksodus 12:7, 13.

Hoe is die Pasga in Bybeltye gevier?

 God het vir die Israeliete presies gesê hoe om die eerste Pasga te vier. a ’n Paar kenmerke van Pasga-vieringe wat in die Bybel genoem word sluit die volgende in.

  •   ’n Offer: Gesinne het ’n jaaroud lam (of bokkie) op die tiende dag van Abib (Nisan) gekies, en op die 14de dag het hulle hom geslag. Op die eerste Pasga het die Jode bloed van die geslagte lam op hulle deurkosyne en op die boonste deel van die deuropening gespat. Daarna het hulle die hele dier gebraai, sonder om dit in stukke te sny, en dit toe geëet. — Eksodus 12:3-9.

  •   ’n Ete: Saam met die lam (of bok) het die Israeliete ook ongesuurde brood en bitter kruie as deel van die Pasga-ete geëet. — Eksodus 12:8.

  •   ’n Fees: Die Israeliete het ná die Pasga die Fees van die Ongesuurde Koeke gevier. Hierdie fees was sewe dae lank en gedurende hierdie tyd het hulle glad nie gesuurde brood geëet nie. — Eksodus 12:17-20; 2 Kronieke 30:21.

  •   Opvoeding: Ouers het die Pasga gebruik om hulle kinders van Jehovah God te leer. — Eksodus 12:25-27.

  •   Op Reis: In latere jare het die Israeliete na Jerusalem gereis om die Pasga te vier. — Deuteronomium 16:5-7; Lukas 2:41.

  •   Ander gebruike: In Jesus se dag was dit deel van die Pasga-viering om wyn te drink en te sing. — Matteus 26:19, 30; Lukas 22:15-18.

Verkeerde idees oor die Pasga

 Wat mense dink: Die Israeliete het die Pasga-ete op 15 Nisan geëet.

 Wat die Bybel sê: God het die Israeliete beveel om op 14 Nisan net na sonsondergang ’n lam te slag en dit daardie selfde nag te eet (Eksodus 12:6, 8). Die Israeliete se dag was van sonsondergang tot sonsondergang (Levitikus 23:32). Met ander woorde, die Israeliete het aan die begin van 14 Nisan die lam geslag en die Pasga-ete geëet.

 Wat mense dink: Christene moet die Pasga vier.

 Wat die Bybel sê: Nadat Jesus die Pasga op 14 Nisan 33 HJ gevier het, het hy ’n nuwe viering ingestel: die Here se Aandmaal (Lukas 22:19, 20; 1 Korintiërs 11:20). Hierdie viering het die Pasga vervang omdat dit die offerande van “Christus, ons pasga,” herdenk (1 Korintiërs 5:7). Jesus se losprysoffer is beter as die Pasga-offer omdat dit alle mense van slawerny aan sonde en die dood bevry. — Matteus 20:28; Hebreërs 9:15.

a Later was dit nodig om sekere dinge te verander. Byvoorbeeld, die Israeliete moes die eerste Pasga “haastig eet” omdat hulle gereed moes wees om uit Egipte te trek (Eksodus 12:11). Maar nadat hulle in die Beloofde land aangekom het, was dit nie meer nodig om dit haastig te vier nie.