Spring na inhoud

Glo Jehovah se Getuies aan die Ou Testament?

Glo Jehovah se Getuies aan die Ou Testament?

 Ja. Jehovah se Getuies glo dat die hele Bybel ‘deur God geïnspireer en nuttig is’ (2 Timoteus 3:16). Dit sluit die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament in, soos dit oor die algemeen genoem word. Gewoonlik verwys Jehovah se Getuies na hierdie dele van die Bybel as die Hebreeuse Geskrifte en die Christelike Griekse Geskrifte. Sodoende skep ons nie die indruk dat sekere dele van die Bybel verouderd of ontoepaslik is nie.

Waarom het Christene die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament nodig?

 Die Christenapostel Paulus is deur God geïnspireer om te skryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf” (Romeine 15:4). Daar is dus waardevolle inligting vir ons in die Hebreeuse Geskrifte. Dit voorsien onder andere relevante geskiedenis en praktiese raad.

  •   Relevante geskiedenis. Die Hebreeuse Geskrifte sluit ’n uitvoerige verslag in van die skepping en hoe die mens in sonde verval het. Sonder hierdie inligting sou ons nie bevredigende antwoorde kon vind nie op vrae soos: Waar kom ons vandaan? Waarom sterf mense? (Genesis 2:7, 17). Wat meer is, die Hebreeuse Geskrifte bevat ’n verslag van Jehovah God se handelinge met mense wat vreugdes en uitdagings gehad het wat soortgelyk is aan ons s’n.—Jakobus 5:17.

  •   Praktiese raad. Die Bybelboeke Spreuke en Prediker, wat deel is van die Hebreeuse Geskrifte, bevat tydlose wysheid vir die daaglikse lewe. Dit bied raad oor hoe om ’n gelukkige gesinslewe te geniet (Spreuke 15:17), hoe om ’n gebalanseerde beskouing van werk te hê (Spreuke 10:4; Prediker 4:6) en hoe jongmense hulle jeug ten beste kan gebruik.—Prediker 11:9–12:1.

 Daarbenewens kan ons baat vind by ’n studie van die Mosaïese Wet, soos dit in die Tora (die eerste vyf boeke van die Bybel) opgeteken is. Hoewel Christene nie onder hierdie Wet is nie, bevat dit wel waardevolle beginsels wat ons kan help om ’n gelukkige lewe te lei.—Levitikus 19:18; Deuteronomium 6:5-7.