Spring na inhoud

Fotogalery 3 van Brittanje (September 2016 tot Februarie 2017)

Fotogalery 3 van Brittanje (September 2016 tot Februarie 2017)

Kyk hoe die werk gevorder het by die nuwe takkantoor van Jehovah se Getuies in Brittanje tussen September 2016 en Februarie 2017.

13 September 2016 — Takkantoorbouterrein

As deel van die voorbereiding vir die konstruksiewerk word grond op ’n trok gelaai en na ’n ander deel van die terrein geneem.

15 September 2016 — Tydelike terrein

Werkers van die Elektrisiteits-afdeling maak data-kabels vas. Hierdie gebou sal as tydelike kantore en ’n eetsaal gebruik word terwyl die nuwe takkantoor daar naby gebou word.

19 September 2016 — Takkantoorbouterrein

’n Lugfoto wys die buitelyne van die verkeersirkel en toegangspad na die eiendom. Links van die verkeersirkel word die gebied voorberei vir ’n tuin en ’n dammetjie. Daar sal ook ’n uitkykpunt wees vir plaaslike inwoners en besoekers.

3 November 2016 — Takkantoorbouterrein

Beton van die terrein word bymekaargemaak, vergruis en weer gebruik om paaie op die eiendom te bou.

4 November 2016 — Takkantoorbouterrein

In die voorgrond is werkers besig om tydelike en permanente paaie te bou. Hulle gebruik rolle wit membraan, ’n deurlaatbare materiaal wat help om die grondlaag van die pad te stabiliseer. In die agtergrond aan die regterkant is ’n padroller besig om die grondlaag te kompakteer voordat die membraan gelê word.

5 November 2016 — Streekvergadering oor verskuiwing van takkantoor

Vrywilligers kry inligting by een van die 18 streekvergaderinge wat regoor Brittanje en Ierland deur die Konstruksieprojek se komitee gereël is. Meer as 15 000 Getuies het hierdie vergaderinge bygewoon, en baie van hulle het aangebied om met die projek te help.

28 November 2016 — Takkantoorbouterrein

Werkers bewerk die grond rondom ’n jong witwilgerboom. Dit is een van meer as 700 bome wat op die terrein geplant is. Die dammetjie is gebou om oorstroming ná swaar reën te verminder. Reënwater word opgevang en dan word die hoeveelheid water wat uit die dam vloei, beheer.

5 Desember 2016 — Takkantoorbouterrein

Baie grondverskuiwing vind plaas op ’n mistige dag. Dit is die finale stadium in die voorbereiding van die grondvlakke. Werkers het altesaam 160 000 kubieke meter materiaal verskuif — 10 000 trokke vol!

6 Desember 2016 — Takkantoorbouterrein

Werkers berei die grond voor om ’n heining te plant op die grens van die inheemse tuin. In hierdie tuin en die omliggende gebied is 11 soorte bome en 16 soorte inheemse plante, wat in die streek voorkom, geplant.

19 Desember 2016 — Woongeboue

Aan die linkerkant is ’n boormasjien besig om ’n gat vir die fondasie te boor. Eers word ’n skroefboor gebruik om in die grond in te boor. Terwyl die skroefboor verwyder word, word beton in die gat ingepomp. Laastens, soos in die middel van die foto gesien kan word, word staalstawe in die beton gesit om die fondasie te voltooi. Die fondasies van die woongeboue bevat meer as 360 van hierdie betonkolomme.

29 Desember 2016 — Takkantoorbouterrein

Op ’n yskoue oggend is ’n loodgieter besig om ’n waterpyp op te koppel wat water aan die tydelike kantore sal voorsien.

16 Januarie 2017 — Takkantoorbouterrein

Modder en opdrifsels word uit ’n dammetjie op die grens van die terrein verwyder deur ’n masjien wat ook in water gebruik kan word. ’n Hele paar van hierdie dammetjies was in ’n slegte toestand en moes herstel word. Die oewers van die dammetjies is versterk. Dit sal die dammetjies beskerm teen erosie en die kanse van oorstroming verminder. Meer as 2 500 visse was versigtig na ander dammetjies op die terrein geneem voordat herstelwerk begin het.

17 Januarie 2017 — Woongeboue

’n Lugfoto van die terrein wat van ’n oostelike rigting geneem is. In die voorgrond is hulle besig om te begin met die fondasies van twee van die woongeboue. Regs onder steek die staalstawe van die betonkolomme uit die grond uit. Links onder is daar reeds beton rondom die staalstawe en bo-oor die betonkolomme gegooi. In die middel is ’n boormasjien besig om nog gate vir die fondasies te boor.

23 Januarie 2017 — Tydelike terrein

’n Werker van die afrondingspan seël ’n deurraam in die Besoeker-sentrum voordat dit geverf word. Besoekers sal hier na ’n uitstalling met besonderhede oor die projek kan kyk. Hulle sal ook van ’n verhewe platform af kan sien hoe die bouwerk vorder.

14 Februarie 2017 — Woongeboue

Die swaairing wat dit vir die hyskraan moontlik maak om in die rondte te draai, word in plek gesit. Hierdie hyskraan met ’n hoogte van 40 meter kan tot 16 metrieke ton oplig.

15 Februarie 2017 — Woongeboue

Die bo-punte van die betonkolomme word op die regte hoogte afgesny. Die staalstawe wat uit die betonkolomme uitsteek sal vasgebind word aan die staal in die betonblad wat bo-oor gegooi gaan word.

17 Februarie 2017 — Takkantoorbouterrein

Elektrisiëns installeer een van twee JW.ORG-naamborde op een van die mure by die ingang van die nuwe takkantoor.

17 Februarie 2017 — Takkantoorbouterrein

’n Lugfoto van die voltooide verkeersirkel op die besige pad voor die hoofingang. Links bo is die nuwe JW.ORG-naamborde wat die ingang van die takkantoor duidelik identifiseer. Wanneer die dammetjie wat die reënwater opvang en die inheemse tuin voltooi is, sal dit die ingang versier.

24 Februarie 2017 — Woongeboue

Die hyskraan se swaaiarm van 65 meter strek oor die gebied waar vier van die vyf woongeboue gaan staan. In die voorgrond is werkers besig om ’n betonblad te gooi vir die ondergrondse parkeerterrein van een van die woongeboue. Die staalstawe wat uitsteek sal gebruik word om die kolomme en mure van die gebou te versterk.