Spring na inhoud

Fotogalery 6 van Warwick (Maart tot Augustus 2016)

Fotogalery 6 van Warwick (Maart tot Augustus 2016)

Kyk in hierdie fotogalery hoe die werk aan die nuwe hoofkwartier van Jehovah se Getuies gevorder het en hoe vrywilligers tussen Maart en Augustus 2016 met die bouwerk gehelp het.

’n Foto van die voltooide Warwick-kompleks. Kloksgewys van bo links:

  1. Voertuiginstandhoudingsgebou

  2. Besoekersparkering

  3. Instandhoudingsgebou/Inwonersparkering

  4. Woongebou B

  5. Woongebou D

  6. Woongebou C

  7. Woongebou A

  8. Kantore/Dienstegebou

16 Maart 2016—Warwick-bouterrein

Werkers laai eike- en esdoringbome af. Meer as 1 400 nuwe bome word by Warwick geplant.

23 Maart 2016—Voertuiginstandhoudingsgebou

Warwick-personeel woon die Gedenkmaal by. Altesaam 384 mense het hierdie gebeurtenis hier bygewoon. Die Gedenkmaal word wêreldwyd een keer ’n jaar deur Jehovah se Getuies gehou.

15 April 2016—Warwick-bouterrein

Werkers installeer vensters by die hekhuis. Personeel by die hek sal besoekers verwelkom, die veiligheid van die eiendom verseker en die verkeer beheer van voertuie wat die terrein binnekom of verlaat.

19 April 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Pa en sy seun lê matteëls in ’n gang op die tweede vloer. Matteëls is oral in openbare areas gebruik omdat dit makliker is om ’n gedeelte te vervang indien nodig.

27 April 2016—Kantore/Dienstegebou

Werkers installeer kantoorafskortings wat weer verskuif kan word. Dit maak dit vir afdelings moontlik om die uitleg van kantore te verander indien nodig.

10 Mei 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Werker werk in ’n ruskamer vir besoekers, langs die voorportaal, voordat toilette en afskortings geïnstalleer kan word.

26 Mei 2016—Warwick-bouterrein

Gedurende ’n oefening is die brandweerspan besig om ’n vuur te blus. As hierdie brandweermanne gereed is om noodgevalle vinnig te hanteer, kan hulle die personeel en die geboue by Warwick veilig hou. Dit sal ook die las van die plaaslike brandweer verlig.

30 Mei 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Kelner in die hoofeetsaal by Warwick wys vir werkers hulle sitplekke aan voordat die eerste Oggendaanbiddingsprogram begin.

31 Mei 2016—Instandhoudingsgebou/Inwonersparkering

’n Werker gebruik ’n selfgelykmakende-laser om een van die meer as 2 500 inligtingstekens aan te bring wat besoekers en inwoners sal help om hulle pad te vind.

1 Junie 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Sweiser installeer handrelings aan die hooftrap wat van die voorportaal na die hoofsaal gaan. Aan die onderkant van die foto kan mens sien hoe die omliggende area deur vuurbestande materiaal beskerm word.

9 Junie 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Werker van die Mure/Plafonne-afdeling doen die finale afwerking aan ’n pleisterbordmuur wat na die uitstalling “Geloof in Aksie” lei. Dit is een van drie uitstallings wat besoekers sonder ’n toergids kan besoek. Die argitektuur pas by die tema van elke uitstalling.

16 Junie 2016—Voertuiginstandhoudingsgebou

Werkers berei ’n betonvloer voor om gekompakteer te word. Hierdie proses seël die beton. Dit sal dan langer hou en ook bestand wees teen stof en merke deur voertuigbande. Dit is ook makliker om instand te hou.

29 Junie 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Span werkers installeer ’n veselglas-afdak bokant die hoofingang. Die deurskynende panele keer dat lig nie so skerp inskyn by die hoofingang nie.

29 Junie 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Getroude paartjie is besig om granietteëls te lê by die ingang van die uitstalling “Die Bybel en die goddelike naam”.

6 Julie 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Werker installeer een van die 1 018 sitplekke in die hoofsaal. Die Wagtoring-studie vir die Bethelgesin en ander geestelike programme sal hier gehou word.

9 Julie 2016—Kantore/Dienstegebou

Houtwerkers, elektrisiëns en ander werkers is in die voorportaal besig om ’n verligte teken wat besoekers verwelkom, te installeer.

13 Julie 2016—Kantore/Dienstegebou

Twee werkers van die span wat die bouspan ondersteun, is besig om water af te lewer vir werkers in die voorportaal. Bouspanne is gereeld daaraan herinner om genoeg water te drink, veral op baie warm dae.

19 Julie 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Werker installeer vertoonkaste waarin baie ou Bybels vir die uitstalling “Die Bybel en die goddelike naam” vertoon sal word. Die uitstalling sal ’n roterende vertoonkas insluit waarin daar nog Bybels en voorwerpe wat met die Bybel verband hou, uitgestal sal word.

22 Julie 2016—Kantore/Dienstegebou

’n Werker gebruik ’n plan wat teen die muur geprojekteer word, om die dele wat Australië en Suidoos-Asië voorstel op ’n kaart teen die muur van die voorportaal vas te sit. Die naam Jehovah se Getuies verskyn in amper 700 tale op die muur.

23 Julie 2016—Kantore/Dienstegebou

Lede van die Bethelgesin woon ’n inligting-sessie by. Die doel van die sessies is om Betheliete wat by Warwick gaan woon, te verwelkom en in te lig. Dit maak hulle ook bewus van gevare wat nog moontlik op die terrein kan wees.

17 Augustus 2016—JW Broadcasting-studio

Werkers installeer die beligting en dele van die JW Broadcasting-studio. Die meeste van die studio se dele is vanaf Brooklyn na Warwick verskuif.

24 Augustus 2016—Warwick-bouterrein

’n Elektrisiën installeer LED-ligte by die hoofingang. Baie afdelings van die wêreldhoofkwartier het vanaf 1 September by Warwick begin werk.