Spring na inhoud

Fotogallery 3 van Warwick (Januarie tot April 2015)

Fotogallery 3 van Warwick (Januarie tot April 2015)

Kyk in hierdie fotogallery hoe die werk aan die nuwe hoofkwartier van Jehovah se Getuies tussen Januarie en April 2015 gevorder het.

Weergawe van die voltooide Warwick-kompleks. Kloksgewys van bo links:

  1. Voertuiginstandhoudingsgebou

  2. Besoekersparkering

  3. Instandhoudingsgebou/Inwonersparkering

  4. Woongebou B

  5. Woongebou D

  6. Woongebou C

  7. Woongebou A

  8. Kantore/Dienstegebou

2 Januarie 2015​—Voertuiginstandhoudingsgebou

Harold Corkern, ’n helper van die Uitgewerskomitee van die Bestuursliggaam, lewer ’n Bybeltoespraak met die titel “Bereik jou volle potensiaal”. Sprekers besoek Warwick gereeld om die werkers aan te moedig.

14 Januarie 2015​—Kantore/Dienstegebou

Die wit plastiekseil beskerm werkers en help hulle om hulle take te voltooi gedurende die winter. Die eetsaal, sieke-afdeling, kombuis en wassery sal in hierdie deel van die gebou wees.

16 Januarie 2015​—Woongebou D

Elektrisiëns maak gereed om drade in te sit. Die woongeboue is al met meer as 12 000 meter kabels bedraad. Elektriese werk by Warwick het begin kort nadat die eiendom gekoop is en sal voortgaan totdat die projek voltooi is.

16 Januarie 2015​—Woongebou A

’n Werker plak kleefband op ’n balkon voordat dit waterdig gemaak kan word. Hier word balkonne op die boonste verdieping bedek met polimetielmetakrilaat (PMMA)​—’n waterbestande membraan wat vinnig as ’n vloeistof aangewend kan word.

23 Januarie 2015​—Woongebou A

’n Pa en sy dogter werk saam om drade in te sit wat krag aan die individuele woongeboue sal voorsien.

6 Februarie 2015​—Voertuiginstandhoudingsgebou

Honger werkers eet middagete in die tydelike eetsaal. Daar word daagliks meer as 2 000 middagetes bedien.

12 Februarie 2015​—Instandhoudingsgebou/Inwonersparkering

Struktuurspanne installeer staalstawe in die ondergrondse verdieping van die instandhoudingswerkswinkels.

12 Februarie 2015​—Woongebou C

Briewe wat kinders aan die konstruksiewerkers geskryf het om dankie te sê. Baie vrywilligers help net ’n kort tyd. Trouens, elke week kom daar ongeveer 500 nuwe werkers aan. In Februarie was daar elke dag sowat 2 500 mense wat aan die Warwick-projek gewerk het.

24 Februarie 2015​—Warwick-bouterrein

Ongeveer 60 persent van die projek is nou voltooi. Tussen Januarie en April 2015 is die bobou van die woongeboue en die staalstruktuur van die Kantore/Dienstegebou voltooi. Gedurende hierdie tydperk het werkers ook begin om betonpanele by die Instandhoudingsgebou te installeer, om paaie te bou wat die woongeboue met mekaar verbind en om die dam in Sterling Forest-meer (Blue Lake) te rehabiliteer.

25 Februarie 2015​—Kantore/Dienstegebou

Uitsig vanaf die onderkant van ’n trapkuil. Gehuurde kontrakteurs het die vorms vir hierdie trapkuil van vyf verdiepings gebou, en Getuievrywilligers het die beton gegiet.

26 Februarie 2015—Instandhoudingsgebou/Inwonersparkering

Die struktuurspan installeer op ’n koue dag staalstawe vir die grondverdieping. Tussen Januarie en Maart het byna 127 sentimeter sneeu by Warwick geval. Spanne het die sneeu weggegrawe om die werkoppervlaktes skoon te hou, en verhitte plekke het die werkers gehelp om warm te bly.

12 Maart 2015​—Besoekersparkering

Metaalplate word aan voorafvervaardigde dakkappe geheg. Teen die einde van April is die meeste van die geweldakke vir die woongeboue voltooi en geïnstalleer. Die laaste dakke sal teen middel-Junie op woongebou B geïnstalleer wees.

18 Maart 2015​—Instandhoudingsgebou/Inwonersparkering

Uitsig vanaf ’n toringhyskraan as ’n mens in die rigting van woongebou B kyk.

18 Maart 2015​—Instandhoudingsgebou/Inwonersparkering

Loodgieters kyk na planne by die inwonersparkering. Meer as 3 400 goedgekeurde bouplanne word vir die hele projek benodig.

23 Maart 2015​—Kantore/Dienstegebou

Met behulp van ’n hystoestel word die gebou met ’n plastiekseil toegemaak om dit te beskerm. Talle opleidingsprogramme word gebruik om te verseker dat hystoestelle en ander toerusting veilig gebruik word. Veiligheidsklasse word gehou om te verseker dat verskeie hystoestelle reg gebruik word, te voorkom dat iemand val, te help met algemene oriëntasie, die gebruik van gasmaskers uiteen te sit en takelwerk en seinwerk te doen.

30 Maart 2015—Warwick-bouterrein

Uitsig as ’n mens weswaarts kyk in die rigting van die woongeboue. Teen die einde van April is baie werk gedoen aan die meganiese en elektriese stelsels van woongeboue A, B en D, soos op hierdie foto gesien kan word. In woongebou C (nie op hierdie foto nie) het die pleisterbordwerk, teëlwerk en verfwerk begin.

15 April 2015​—Woongebou B

Twee werkers op ’n hystoestel bedek die buitemure met ’n vogdeurlaatbare laag wat lug keer. Dit neem ongeveer twee maande om hierdie laag aan ’n woongebou aan te bring.

27 April 2015​—Kantore/Dienstegebou

Messelaars bou ’n granietmuur. Hierdie gedeelte van die gebou sal die afdeling vir die ontvangs van goedere bevat, en verskeie ondersteuningsdienste.

30 April 2015​—Warwick-bouterrein

’n Betaalde duiker in die Blue Lake vervang ’n ou klep. Nou kan ’n mens die vlak van die meer met behulp van een knoppie laat sak om oorstromings te voorkom as daar ’n orkaan is.