Spring na inhoud

24 AUGUSTUS 2018
AZERBEIDJAN

Azerbeidjan straf een van ons broers omdat hy weier om militêre diens te doen

Azerbeidjan straf een van ons broers omdat hy weier om militêre diens te doen

Op 6 Julie 2018 het die Barda-streekhof in Azerbeidjan een van ons broers, Emil Mehdijef, met ’n voorwaardelike vonnis van een jaar gestraf. Die hof het 18-jarige Emil skuldig bevind op die aanklagte dat hy militêre diens probeer vryspring. Hoewel hulle hom nie tronk toe gestuur het nie, mag hy nie trek sonder om die polisie in kennis te stel nie. Hy mag ook nie Azerbeidjan verlaat nie.

In Desember 2017 het broer Mehdijef voor die Departement van die Staatsdiens vir Mobilisasie en Diensplig in die Barda-streek verskyn. Hy het geweier om by die weermag aan te sluit, want sy gewete laat hom nie toe om militêre diens te doen nie. Toe hy weer opgeroep is, het hy sy standpunt verduidelik en gevra dat hy alternatiewe burgerlike diens in plaas van militêre diens kon doen. Daar is vir hom gesê dat hierdie opsie nie beskikbaar is nie en dat sy saak aan die aanklaer se kantoor in die Barda-streek oorgegee sou word.

Ná ’n lang regsproses het die Barda-streekhof hom skuldig bevind en tot ’n voorwaardelike straf gevonnis. Hoewel die hof Emil nie tronk toe gestuur het nie, word hy nog steeds as ’n krimineel beskou omdat die regering van Azerbeidjan nog nie ’n program vir alternatiewe burgerlike diens in plek gestel het soos hulle al lank belowe het nie.

Ons is bly dat broer Mehdijef neutraal bly in hierdie moeilike situasie. — 1 Petrus 2:19.