Spring na inhoud

(Links) ’n Gesin hou plakkate vas met aanmoedigende woorde en tekste op vir die broers en susters in hulle gemeente. (Regs bo) ’n Pioniersuster hou ’n Bybelstudie deur middel van videoverbinding. (Regs onder) ’n Gesin gebruik ’n videoverbinding-app om ’n deel te hê aan die vergadering

9 APRIL 2020
ITALIË

Broers en susters in Italië bly na aan Jehovah ten spyte van pandemie

Broers en susters in Italië bly na aan Jehovah ten spyte van pandemie

Italië is een van die lande waar die meeste mense siek is van die koronavirus. Onder die leiding van die Bestuursliggaam voorsien die takkantoor in Italië praktiese en geestelike ondersteuning aan ons broers en susters.

Drie Noodlenigingskomitees sien om na die behoeftes van die broers in die noorde, sentrale deel en suide van Italië. Die Noodlenigingskomitees bly op datum met die behoeftes van die verkondigers wat geraak is. Hulle doen dit deur in kontak te bly met die kringopsieners, wat gereeld inligting by die plaaslike ouermanne kry.

Die plaaslike ouermanne help verkondigers op praktiese maniere en ook om aan te hou met hulle geestelike roetine. Broer Villiam Boselli, ’n kringopsiener wat naby Milaan dien, een van die eerste stede wat deur die pandemie geraak is, sê: “Alhoewel al die broers en susters in hulle huise bly, bly hulle in kontak met mekaar. Hulle kan ook deur middel van videoverbinding by die vergaderinge mekaar aanmoedig en antwoorde gee. Selfs ouer broers en susters word baie aangemoedig deur die vergaderinge wat hulle deur middel van videoverbinding kyk. Ek dink dat die gemeentes nou meer as ooit tevore verenig is!”

Baie mense wat nie Getuies is nie, kyk ook nou die vergaderinge saam met hulle gesinslede wat Getuies is. Een suster sê: “My man wou nooit vergaderinge bywoon nie, maar nou kom die vergaderinge na hom toe . . . en raai wat? Hy geniet dit baie!”

Broers en susters gebruik elke geleentheid om vir ander te preek. ’n Suster het byvoorbeeld na die huis van ’n bejaarde suster gery om vir haar ’n rolstoel te vat. Op pad soontoe het drie polisiebeamptes haar gestop. Die suster het verduidelik dat sy ’n bejaarde vrou gaan help en het vir hulle haar reispermit gewys. Sy het toe vir hulle die pamflette Wat dink jy sal in die toekoms gebeur? en Sal mense ooit ophou swaarkry? aangebied. Die polisiebeamptes het dit aanvaar. Nadat die suster die rolstoel afgelaai het, het die polisiebeamptes haar weer gestop. Hierdie keer het die beamptes vir haar dankie gesê en vir meer inligting gevra oor die hoop wat in die Bybel aangebied word. Hulle het selfs twee van hulle kollegas geroep om te kom luister. Ons suster was bly om vir hulle jw.org te wys. Een van die beamptes het gesê: “Dankie, mevrou, jy’t regtig ons dag gemaak!”

Broer Boselli sê: “Alhoewel dit een van my verantwoordelikhede is om ander aan te moedig en te vertroos, is ek die een wat aangemoedig is omdat ek sien hoe my broers na aan Jehovah bly en aanhou om hom te aanbid. Hulle liefde vir Jehovah is so opreg en mooi dat ek trane in my oë kry. Hulle is regtig ’n ongelooflike geskenk van Jehovah wat ons baie nodig het!”

Dit is duidelik dat ons broers, ten spyte van die uitdagings, geestelik sterk bly en nie “deur hierdie moeilike tye verswak word nie”. – 1 Tessalonisense 3:2, 3.