Spring na inhoud

26 SEPTEMBER 2019
ITALIË

Gedenkplaat in Italië vir Jehovah se Getuies wat deur Nazi’s en Fasciste vervolg is

Gedenkplaat in Italië vir Jehovah se Getuies wat deur Nazi’s en Fasciste vervolg is

Die gedenkplaat wat by Risiera di San Sabba, Triëst, bekend gestel is. Jehovah se Getuies in konsentrasiekampe het pers driehoeke op hulle uniforms gedra

Op 10 Mei 2019 was regeringsamptenare, geskiedkundiges, joernaliste en honderde ander besoekers by ’n geleentheid waar ’n gedenkplaat bekend gestel is. Dit is ter ere van ons duisende broers en susters wat vervolg is deur Nazi’s en Fasciste (mense wat die Italiaanse regering gedurende die Tweede Wêreldoorlog ondersteun het). Die geleentheid was in Triëst, in die noordooste van Italië, by Risiera di San Sabba gehou. Dit was voorheen ’n plek waar rys verwerk is en wat toe ’n konsentrasiekamp geword het, die enigste Italiaanse kamp waar daar ’n krematorium was. Baie van die plaaslike en nasionale media het na die geleentheid gekom, insluitende Canale 5, wat een van die gewildste TV-kanale in die land is.

Christian Di Blasio, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Italië, het die geleentheid geopen met ’n toespraak oor lojaliteit. Hy het gesê: “Jehovah se Getuies is die enigste mense in die Derde Ryk wat vir hulle godsdiensoortuigings vervolg is. Hulle is ook die enigste mense wat as ’n groep kon kies om nie gemartel te word nie. Hulle moes net hulle Christelike geloof opgee en die regering ondersteun. Maar hulle het die moed gehad om by hulle Christelike waardes te bly, wat beteken dat hulle lojaal aan God en lief vir ander is.” Broer Di Blasio het toe ’n video van ’n onderhoud met suster Emma Bauer gewys. Sy het vertel hoe sy en haar familie gedurende die Tweede Wêreldoorlog vervolg is. Sy het verduidelik dat ware Christene nie hulle waardes prysgee nie selfs al kan hulle doodgemaak word. Ten slotte het die burgemeester van Triëst, Roberto Dipiazza, ook met die gehoor gepraat. Hy het gesê: “Ek is baie bly oor hierdie gedenkplaat. Ons moet ons bes doen om te keer dat sulke vervolging nooit weer gebeur nie.” Die gedenkplaat is toe bekend gestel.

Baie geleerdes en bekende mense het iets gesê oor die belangrikheid van hierdie geleentheid. Byvoorbeeld, Giorgio Bouchard, die voormalige voorsitter van die Federasie van die Evangeliese Kerke in Italië, het gesê dat behalwe vir Jehovah se Getuies, is daar nie nog ’n kerk waar daar soveel mense gesterf het as gevolg van hulle geloofsoortuigings nie. Hy sê verder: “Tog het hierdie wrede ondervinding die mense in hierdie godsdiens sterker gemaak. Jehovah se Getuies het aan mense bewys, en ons glo ook aan God, dat hulle die enigste Christelike godsdiens is wat heeltemal gekant was teen die oortuigings van die Derde Ryk [Nazi-regering].” (Sien die venster hieronder vir nog kommentare.)

Daar word verwag dat sowat 120 000 mense die gedenkplaat by Risiera di San Sabba elke jaar sal besoek. Elke besoeker sal die geleentheid hê om hierdie gedenkplaat te sien wat ter ere van duisende Jehovah se Getuies is. Al was hulle slagoffers van Nazi- en Fascistiese vervolging, het hulle by hulle geloof gebly en was hulle polities neutraal. – Openbaring 2:10.