Spring na inhoud

Staatstronk in Vacaville, Kalifornië

25 DESEMBER 2020
VERENIGDE STATE

’n Geestelike lewenslyn vir gevangenes ten spyte van inperking

’n Geestelike lewenslyn vir gevangenes ten spyte van inperking

Toe tronke regdeur die Verenigde State as gevolg van die COVID-19-pandemie onder inperking geplaas is, het honderde Getuies van Jehovah opgehou om soos gewoonlik die tronke te besoek om Bybellektuur aan te bied en Bybelstudies te hou – wat veroorsaak het dat duisende gevangenes hulle geestelike lewenslyn verloor het. Maar ons broers het begin om metodes te gebruik wat met COVID-19-veiligheidsmaatreëls ooreengestem het sodat hulle kon aanhou om vir gevangenes te preek.

Broer Dan Houghton, wat help om vergaderinge en Bybelstudies in die tronke in die VSA-takkantoor se gebied te reël, sê: “Ons was bekommerd oor almal wat op ons besoeke staatmaak vir geestelike hulp. Hulle het ons nou meer as ooit nodig.”

Byvoorbeeld, broer Micah Seierstad het tronkbeamptes in Vacaville, Kalifornië, gekontak om toestemming te vra om video’s van JW Broadcasting-programme na hulle gevangenis te stuur. Tot sy verbasing het tronkbeamptes hom gevra om inhoud te voorsien vir die geslotekring-televisienetwerk wat in al 33 tronke van die staat Kalifornië gespeel kon word. Dit het daartoe gelei dat die “Wees altyd bly”!-streekbyeenkoms vir 2020 drie keer ’n dag in segmente van 28 minute aan ’n potensiële gehoor van 130 000 gewys is.

Broer Seierstad sê: “Dis wonderlik om te sien wat Jehovah kan doen. As hy wil hê dat iets moet gebeur, is daar niks wat hom kan keer nie!”

Ons broers het uitgevind dat tronkbeamptes by die Sarasota-distrikstronk in Florida vir die gevangenes “inspirerende boeke” wou gee om hulle te help om die stres van die inperking te hanteer. Daarom het ons broers aangebied om vir hulle Bybels en verskillende Bybelpublikasies in Engels en Spaans te gee. Die beamptes het die aanbod aanvaar. Die broers het ook gereël dat Bybelstudies deur middel van videokonferensies gehou word. Een gevangene het vir die persoon wat die Bybel elektronies met hom studeer, geskryf: “Ek sien uit na jou besoeke. Dit moedig my aan om die Bybel te lees. Ek sien die toekoms in ’n ander lig.”

Beamptes van die Sarasota-distrikstronk laai 70 Bybels in Engels en Spaans en 30 Bybelpublikasies op by die huis van broer Manolo Rodriquez, wat hulle help om dit in hulle voertuig te pak

Ons is baie bly dat geen pandemie of tronkmure kan keer dat ons liefdevolle Vader, Jehovah, in die geestelike behoeftes van belangstellendes voorsien nie. – Psalm 139:7-10.