Spring na inhoud

Die dorp Iqaluit, Nunavut, Kanada. Kleiner foto: Broers en susters wat ná die toewydingsprogram buite die Koninkryksaal staan

22 SEPTEMBER 2023
WÊRELDNUUS

Koninkryksboodskap maak harte bly in die noordelikste dele van Kanada en die Verenigde State

Koninkryksboodskap maak harte bly in die noordelikste dele van Kanada en die Verenigde State

Broer Mark Sanderson gee die toewydingstoespraak in Iqaluit, Nunavut

Op 20 Mei 2023 het broer Mark Sanderson, ’n lid van die Bestuursliggaam, die toewydingstoespraak gegee vir ’n nuwe Koninkryksaal in Iqaluit, Nunavut, Kanada. Altesaam 44 mense het die toewydingsprogram in persoon bygewoon, en nog 388 mense het deur middel van videoverbinding ingeskakel. Nunavut word beskou as een van die plekke op aarde met die kleinste bevolkings. Daar is minder as 40 000 inwoners, en die landoppervlak is omtrent 1 837 000 vierkante kilometer. Soos voorheen op jw.org berig is, het ons broers baie unieke uitdagings oorkom om hierdie Koninkryksaal te bou. Die moedige Getuies wat eerste na hierdie afgesonderde gebied gekom het om die goeie nuus te verkondig, moes koue weer en rowwe terrein verduur. Die voorbeeld van hierdie vasbeslote en getroue Getuies is in die toewydingsprogram beklemtoon.

Kanada se noordelike gebiede dek 40 persent van Kanada se landoppervlak en sluit Nunavut, die Noordwestelike Gebiede en Yukon in

In 1976 het suster Margaret Gallie 2 052 kilometer van Montreal, Quebec, getrek na die gebied wat nou as Iqaluit, Nunavut, bekend staan. Sy was die eerste Getuie om in hierdie uitgestrekte en onvrugbare land te preek. Later daardie jaar het broer Hans Pintar, ’n kringopsiener, en sy vrou, Minerva, suster Gallie spesiaal ’n week lank besoek om haar aan te moedig en om deel te neem aan die bediening.

Toe, in 1983, het ’n klein groepie ywerige Getuies na Iqaluit gereis. Hulle het hard gewerk om die waarheid in die gebied bekend te maak, en dit het daartoe gelei dat een van die plaaslike families die eerste inwoners in die gebied geword het, wat gedoop is. Oor die volgende 20 jaar het moedige Koninkryksverkondigers verskeie kere na hierdie afgesonderde gebied gereis om die goeie nuus met ander te deel. In 2008 is ’n groep in Iqaluit begin. Teen 2010 het hierdie klein groepie ’n gemeente geword wat hulle vergaderinge in ’n skoolsaal gehou het. Die broers en susters was baie bly toe hulle in Oktober 2022 na hulle nuwe Koninkryksaal getrek het.

Selfopofferende verkondigers verduur al baie jare lank die uitdagende toestande in Kanada se verre noordelike gebiede

Buiten Iqaluit, het spesiale pioniers saam met ander broers en susters in verskillende afgesonderde gebiede regdeur Nunavut gepreek. Broer Joel Therrien en sy vrou, Cheryl, was deel van die groep wat gegaan het. Hulle het na Baker Lake getrek, wat 1 329 kilometer wes van Iqaluit is. Broer Therrien sê: “Ten spyte van die koue weer, die afsondering en die uitgawes was elke opoffering die moeite werd. Jehovah se seën kon duidelik gesien word in die hartverblydende reaksie van die mense wat in Baker Lake bly. Ons het die geleentheid waardeer om die Bybel se boodskap te deel met die mense wat daar bly.”

Broer Joel Therrien en Joseph Utatnaq woon op 25 Augustus 2023 die ‘Wees geduldig’!-streekbyeenkoms in Winnipeg, Kanada, by

Joseph Utatnaq wat in Baker Lake woon, was bly om oor die goeie nuus van die Koninkryk te hoor. Hy het die Bybel saam met broer Therrien gestudeer en is in 2021 gedoop. Broer Utatnaq is op die oomblik die enigste verkondiger in Baker Lake. Toe hy hoor dat die toewydingsprogram van die Koninkryksaal in Mei 2023 in Iqaluit sou wees, het hy alles in sy vermoë gedoen om dit by te woon. Dit was die eerste keer vandat hy gedoop is dat hy sy broers en susters in persoon by ’n Koninkryksaal ontmoet het. Hy sê: “Ek was so beïndruk toe ek die voltooide Koninkryksaal sien. Baie van dié wat met die bou van die saal gehelp het, het van ander plekke gekom en was nie gewoond aan die klimaat en die toestande hier nie. Dit was duidelik dat dit hulle liefde vir Jehovah en hulle naaste was wat hulle gemotiveer het.”

Daar is op die oomblik altesaam 178 broers en susters wat in vier gemeentes in die noordelike gebiede dien. Dit sluit een gemeente in Nunavut, twee gemeentes in die Noordwestelike Gebiede en een gemeente in Yukon in. Hierdie gebiede dek amper 40 persent van Kanada se landoppervlak. Die uiterste koue en die rowwe omgewing in Kanada se verre noorde maak dit moeilik om mense te kontak wat in hierdie afgesonderde dele bly. Daarom bewonder ons die pogings van ons broers en susters wat hulleself beskikbaar stel om die goeie nuus in hierdie afgeleë gebiede te verkondig. – Handelinge 1:8.

AFGESONDERDE GEBIEDE VAN ALASKA, VSA

Regs bo: Die Koninkryksaal in Haines, Alaska. Regs onder: Die gemeente in Haines vergader by hulle nuwe Koninkryksaal

Alaska is die grootste en noordelikste staat van die Verenigde State. Dit dek ’n gebied van ongeveer 1 723 000 vierkante kilometer, wat meer as twee keer so groot as die staat Texas is. Omtrent 730 000 mense bly in Alaska. Die goeie nuus van die Koninkryk het Alaska vir die eerste keer in 1897 bereik, en vandag is daar ongeveer 2 400 Koninkryksverkondigers wat in 30 gemeentes en 8 groepe dien. In Alaska se grootste stad, Anchorage, is daar tien gemeentes en vyf groepe in verskillende tale, insluitende Hmong (Wit), Koreaans, Russies, Samoaans en Sentraal-Alaskiese Yupik, wat ’n plaaslike taal is. Ander stede, soos Fairbanks, Juneau en Wasilla, het ook gemeentes en groepe in verskillende tale. Verder word die goeie nuus ook gedeel met mense in afgesonderde gebiede, soos in die klein dorpies Bethel, Wrangell en Haines.

Broer Kenneth Cook jr. gee die toewydingstoespraak in Haines, Alaska

In Augustus 2014 is twee spesiale pioniers, broer Sebabi Leballo en Dustin Watson, genooi om na Haines te trek, wat omtrent 825 kilometer suidoos van Anchorage is. In net een jaar het hulle 40 Bybelstudies met belangstellendes in die plaaslike gebied gehou. ’n Hele paar van hierdie studente het tot doop gevorder. Teen 2018 was daar ’n klein gemeente in Haines, en die vergaderinge is in die plaaslike biblioteek gehou. In 2021 is ’n gebou gekoop en in ’n Koninkryksaal omskep. Later, in September 2022, het broer Kenneth Cook jr., ’n lid van die Bestuursliggaam, die toewydingstoespraak gegee. Daar was 48 mense wat dit bygewoon het, en nog 86 het deur middel van videoverbinding by die program ingeskakel. Vandag deel hierdie gemeente se 21 verkondigers die goeie nuus met mense in Haines en ander afgesonderde gebiede.

Broer Dustin Watson (links) en Sebabi Leballo (regs) nadat hulle in 2014 in Haines, Alaska, aangekom het

Nadat broer Leballo by die toewyding van die Koninkryksaal in Haines in 2022 was, het hy gesê: “Toe ek agt jaar gelede hier aangekom het, was dit moeilik om te dink dat hier vandag ’n gemeente en ’n Koninkryksaal sou wees. Dit is so aanmoedigend om te sien dat Jehovah selfs in afgesonderde gebiede dit vir ‘alle soorte mense’ moontlik maak om van hom te leer.” – 1 Timoteus 2:4.