Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Die eerste dowe persoon wat die waarheid aangeneem het

José Pérez

Die eerste dowe persoon wat die waarheid aangeneem het
  • GEBORE 1960

  • GEDOOP 1982

  • PROFIEL As ’n jong seun is José deur die liefde van die broers tot die waarheid aangetrek, al het niemand in die gemeente gebaretaal geken nie.

TOE ek ’n kind was, het ek my gehoor verloor en gebaretaal by ’n skool vir dowes geleer. Ek het vir die eerste keer met die waarheid in aanraking gekom toe ek 11 jaar oud was. ’n Getuiegesin in ons buurt het my genooi om ’n gemeentelike vergadering by te woon. Al het ek nie die toesprake verstaan nie, is ek hartlik verwelkom en het ek besluit om voort te gaan om die vergaderinge by te woon. Baie in die gemeente het my genooi om by hulle te kom eet en om saam met hulle aan ander aktiwiteite deel te neem.

In 1982 het ek ’n verkondiger geword, en later daardie jaar is ek gedoop. In 1984 het ek met Eva getrou, wat ook doof is. Hoewel ons nie ’n diepe begrip van sommige Bybelwaarhede gehad het nie, kon ons Jehovah se organisasie identifiseer aan die liefde wat dit kenmerk en het ons dit geniet om in die gemeente te wees.—Joh. 13:35.

In 1992 is reëlings getref om party broers en susters Amerikaanse Gebaretaal (ASL) te leer. Hierdie verkondigers het kort voor lank dowe mense begin soek en die goeie nuus aan hulle verkondig. Toe, in 1994, het die werk in die gebaretaalgebied ’n hupstoot gekry toe ’n egpaar van Puerto Rico na die takkantoor genooi is om 25 broers en susters gebaretaal te leer.

Later daardie jaar het ek en Eva die vergaderinge van die pas gevormde gebaretaalgroep begin bywoon. Eers nadat ons gebaretaalvergaderinge begin bywoon het, het ons die besonderhede van Bybelleringe soos Satan se aantyging in verband met Jehovah se universele soewereiniteit en die rol van die Messiaanse Koninkryk in God se voorneme beter verstaan.

Op 1 Desember 1995 is ASL-gemeentes in Santo Domingo en in Santiago gestig. Teen Augustus 2014 was daar 26 gebaretaalgemeentes en 18 groepe.

Ek en Eva het ons drie kinders gebaretaal as hulle eerste taal geleer. Ons oudste seun, Éber, help met gebaretaalvertaling by die takkantoor in die Verenigde State. Ek dien as ’n bedieningskneg in die gemeente, en Eva is ’n gewone pionier.