Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Die Katolieke Kerk en Trujillo

Die Katolieke Kerk en Trujillo

WATTER soort verhouding het Trujillo met die Katolieke Kerk gehad? ’n Politieke ontleder het gesê: “Gedurende die lang Trujillo-era, 1930-1961, het die Kerk en die Staat in die Dominikaanse Republiek mekaar wedersyds ondersteun; die diktator het die Kerk gehelp, en die Kerk het sy bewind ondersteun.”

In 1954 het Trujillo na Rome gereis en ’n konkordaat met die Pous gesluit. Trujillo se voormalige vertroueling, Germán Ornes, het geskryf: “Aangesien die Dominikaanse Kerk bankvas agter Trujillo staan, is [dit] ’n groot bron van ondersteuning vir ‘die Leier’ [Trujillo]. Die geestelikes, onder leiding van die aartsbiskoppe Ricardo Pittini en Octavio Beras, is van die vernaamste propagandiste vir die bewind.”

Ornes het verder verduidelik: “Die Pous stuur by elke moontlike geleentheid hartlike groete per telegraaf aan Trujillo. . . . Die kardinaal Francis Spellman het, as die Pous se spesiale verteenwoordiger, ’n vriendelike boodskap oorgedra by die Kongres van Katolieke Kultuur in 1956, wat in Ciudad Trujillo gehou is en deur [Trujillo] geborg is. Kardinaal Spellman, wat van New York gereis het, is triomfantlik ontvang deur die Generalissimus [Trujillo] self. Hulle hartlike omhelsings was die volgende dag op die voorblad van alle Dominikaanse koerante.”

In 1960 het die tydskrif Time berig: “Trujillo en die Kerk het tot nou toe goed oor die weg gekom. Ricardo Pittini, die aartsbiskop van die Amerikas, is nou 83 en blind, maar hy het vier jaar gelede ’n brief aan die New York Times onderteken wat Trujillo geprys het en gesê het dat ‘hierdie “diktator” geliefd is by sy volk en deur hulle vereer word’.”

Maar nadat die Katolieke Kerk Trujillo se wrede diktatorskap drie dekades lank lojaal ondersteun het, het dit van standpunt begin verander toe die politieke klimaat verander het. Die ontleder verduidelik: “Toe teenstand teen die diktatorskap toegeneem het en daar later ’n poging aangewend is om demokrasie in die land tot stand te bring, is die Kerk, wat lank op baie goeie voet met Trujillo was, genoodsaak om van standpunt te verander.”

Uiteindelik, in 2011, moes die Kerk die Dominikaanse volk om verskoning vra. ’n Pastorale brief wat in die koerant Dominican Today aangehaal is, het gesê: ‘Ons erken dat ons foute gemaak het en dat ons nie altyd getrou gebly het aan ons geloof, ons roeping en ons verantwoordelikhede nie. Daarom vra ons om verskoning en doen ons ’n beroep op die begrip en vergewensgesindheid van alle Dominikaners.’