Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek my smart verwerk?

Hoe kan ek my smart verwerk?

“EK HET hard probeer om my gevoelens weg te steek”, verduidelik Mike wanneer hy aan sy vader se dood terugdink. Mike het gedink dat daar van ’n man verwag word om sy smart te onderdruk. Maar hy het later besef dat hy verkeerd was. Toe ’n vriend van Mike sy oupa verloor het, het Mike dus geweet wat om te doen. Hy sê: “’n Paar jaar gelede sou ek hom op die skouer geklop en gesê het: ‘Wees ’n man.’ Nou het ek aan sy arm geraak en gesê: ‘Voel net soos jy wil voel. Dit sal jou help om dit te verwerk. As jy wil hê ek moet gaan, sal ek gaan. As jy wil hê ek moet bly, sal ek bly. Maar moenie bang wees om te voel nie.’”

MaryAnne het ook gevoel sy moet haar gevoelens inhou toe haar man gesterf het. “Ek het so hard probeer om ’n goeie voorbeeld vir ander te wees”, sê sy, “dat ek myself nie toegelaat het om die normale gevoelens te hê nie. Maar ek het uiteindelik besef dat dit my nie help om ’n steunpilaar vir ander te wees nie. Ek het my situasie begin ontleed en gesê: ‘Huil as jy wil huil. Moenie probeer om te sterk te wees nie. Moenie jou gevoelens opkrop nie.’”

Beide Mike en MaryAnne raai ander dus aan: Laat jouself treur! En hulle is reg. Waarom? Want om te treur, is ’n noodsaaklike emosionele uitlaatklep. As jy aan jou gevoelens uiting gee, kan jy die druk waaronder jy verkeer, verlig. Wanneer ’n mens op ’n natuurlike wyse aan jou emosies uiting gee, en dit met begrip en juiste inligting gepaardgaan, help dit jou om jou gevoelens in perspektief te sien.

Almal gee natuurlik nie op dieselfde manier aan hulle smart uiting nie. En faktore soos of die geliefde skielik of ná ’n lang siekbed oorlede is, kan ’n invloed hê op die emosionele reaksie van dié wat agterbly. Maar een ding is seker: Dit kan fisies sowel as emosioneel nadelig wees om jou gevoelens op te krop. Dit is baie gesonder om aan jou smart uiting te gee. Hoe? Die Skrif bevat praktiese raad.

Hoe kan jy aan smart uiting gee?

Om daaroor te praat, kan ’n nuttige uitlaatklep wees. Die aartsvader Job uit die ou tyd het ná die dood van al tien sy kinders, sowel as ’n paar ander persoonlike tragedies, gesê: “My siel walg stellig van my lewe. Ek sal uiting gee [Hebreeus, “loslaat”] aan my besorgdheid oor myself. Ek sal spreek in die bitterheid van my siel” (Job 1:2, 18, 19; 10:1, NW). Job kon nie meer sy besorgdheid inhou nie. Hy moes dit loslaat; hy moes “spreek”. Die Engelse dramaturg Shakespeare het eweneens in Macbeth geskryf: “Gee aan droefheid woorde; die smart wat stom is, fluister tot die oorlaaide hart en sê hom aan om te breek.”

As jy derhalwe met “’n ware metgesel” wat geduldig en simpatiek sal luister oor jou gevoelens praat, kan dit ’n mate van verligting bring (Spreuke 17:17, NW). As ’n mens ondervindinge en gevoelens in woorde uitdruk, is dit dikwels makliker om hulle te verstaan en te verwerk. En as die luisteraar iemand is wat ook ’n geliefde verloor het en sy of haar eie verlies met welslae verwerk het, kan jy dalk praktiese wenke kry oor hoe jy jou verlies kan verwerk. Toe haar kind gesterf het, het ’n moeder verduidelik waarom dit gehelp het om met ’n ander vrou te praat wat ’n soortgelyke verlies gehad het: “Dit het my baie versterk om te weet dat iemand anders dieselfde situasie deurgemaak het, dat sy heel daaruit gekom het en steeds uithou en dat haar lewe weer tot die normale begin terugkeer.”

Bybelse voorbeelde toon dat dit jou kan help om aan jou smart uiting te gee as jy jou gevoelens neerskryf

Gestel jy voel ongemaklik om oor jou gevoelens te praat? Ná die dood van Saul en Jonatan het Dawid ’n hoogs emosionele klaaglied geskryf waarin hy aan sy smart uiting gegee het. Hierdie droewige lied het later ’n deel van die geskrewe verslag van die Bybelboek Tweede Samuel geword (2 Samuel 1:17-27; 2 Kronieke 35:25). Party vind dit eweneens makliker om op skrif aan hulle gevoelens uiting te gee. Een weduwee het vertel dat sy haar gevoelens neergeskryf het en dan dae later gelees het wat sy geskryf het. Sy het gevind dat dit groot verligting gebring het.

As jy oor jou gevoelens kommunikeer, of jy nou daaroor praat of skryf, kan dit jou help om jou smart te verlig. Dit kan ook help om misverstande op te klaar. ’n Moeder verduidelik: “Ek en my man het van ander egpare gehoor wat geskei het nadat hulle ’n kind verloor het, en ons wou nie hê dit moet met ons gebeur nie. Elke keer wanneer ons woede opgewel het en ons mekaar wou blameer, het ons dit dus uitgepraat. Ek dink ons het werklik nader aan mekaar gekom deur dit te doen.” As jy derhalwe jou gevoelens uitpraat, kan dit jou help om te verstaan dat ander, hoewel hulle dieselfde verlies deel, nie op dieselfde manier as jy treur nie—almal treur teen hulle eie pas en op hulle eie manier.

Nog iets wat kan help om smart te verlig, is om te huil. Daar is “’n tyd om te ween”, sê die Bybel (Prediker 3:1, 4). Wanneer ’n geliefde sterf, is dit ongetwyfeld so ’n tyd. Dit blyk dat trane van smart ’n noodsaaklike deel van die genesingsproses is.

Een jong vrou verduidelik hoe ’n goeie vriendin haar gehelp het om die dood van haar moeder te verwerk. Sy sê: “My vriendin was altyd daar vir my. Sy het saam met my gehuil. Sy het met my gepraat. Ek kon heeltemal openhartig omtrent my emosies wees, en dit was vir my belangrik. Ek het nie nodig gehad om verleë te voel wanneer ek gehuil het nie.” (Sien Romeine 12:15.) Jy moet ook nie skaam voel omdat jy huil nie. Soos ons gesien het, bevat die Bybel baie voorbeelde van manne en vroue van geloof—onder andere Jesus Christus—wat openlik trane van smart gestort het sonder dat hulle enigsins daaroor verleë was.—Genesis 50:3; 2 Samuel 1:11, 12; Johannes 11:33, 35.

Bedroefdes in alle kulture waardeer dit wanneer hulle vertroosting ontvang

Jy sal dalk vind dat jou emosies ’n tyd lank ietwat onvoorspelbaar sal wees. Die trane sal miskien onverwags begin vloei. Een weduwee het gevind dat sy maklik begin huil het wanneer sy inkopies in die supermark gaan doen het (iets wat sy dikwels saam met haar man gedoen het), veral wanneer sy, oudergewoonte, haar hand uitgesteek het na items waarvan haar man baie gehou het. Wees geduldig met jouself. En moenie voel dat jy jou trane moet probeer keer nie. Onthou, dit is ’n natuurlike en noodsaaklike deel van die treurproses.

Hoe om skuldgevoelens te verwerk

Soos vroeër gemeld, ervaar party skuldgevoelens nadat hulle ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Dit kan moontlik verklaar waarom die getroue man Jakob sulke intense smart ervaar het toe hy onder die indruk gebring is dat sy seun Josef deur “’n wilde dier” doodgemaak is. Jakob self het Josef gestuur om na die welstand van sy broers te gaan verneem. Daarom is Jakob waarskynlik geteister deur skuldgevoelens soos: ‘Waarom het ek Josef alleen uitgestuur? Waarom het ek hom in ’n gebied ingestuur waar daar soveel wilde diere is?’—Genesis 37:33-35.

Miskien voel jy dat nalatigheid aan jou kant tot jou geliefde se dood bygedra het. As jy besef dat skuldgevoelens—hetsy dit gegrond of ongegrond is—’n normale reaksie op smart is, kan dit al klaar help. Weer eens moet jy nie voel dat jy hierdie gevoelens moet opkrop nie. As jy vir iemand vertel hoe skuldig jy voel, kan dit groot verligting verskaf.

Ons moet egter besef dat ons, ongeag hoe lief ons ’n ander persoon het, nie sy of haar lewe kan beheer nie, en nog minder kan ons verhoed dat “tyd en lotgeval” ons geliefdes tref (Prediker 9:11). Daarbenewens het jy ongetwyfeld nie slegte motiewe gehad nie. Het jy byvoorbeeld bedoel dat jou geliefde moes siek word en sterf deur nie vroeër ’n doktersafspraak te maak nie? Natuurlik nie! Het jy dan werklik skuld aan sy dood? Nee.

Een moeder het geleer om die skuldgevoelens te verwerk nadat haar dogter in ’n motorongeluk dood is. Sy verduidelik: “Ek het skuldig gevoel dat ek haar uitgestuur het. Maar ek het later besef dat dit belaglik is om so te voel. Daar was niks daarmee verkeerd om haar saam met haar pa te stuur om iets vir my te gaan doen nie. Dit was net ’n verskriklike ongeluk.”

‘Maar daar is so baie dinge wat ek wens ek tog gesê en gedoen het’, sê jy dalk. Dit mag wel waar wees, maar wie van ons kan sê dat ons die volmaakte vader, moeder of kind is? Die Bybel herinner ons: “Ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man” (Jakobus 3:2; Romeine 5:12). Aanvaar dus die feit dat jy nie volmaak is nie. Deur oor allerhande “as-ek-tog-maar-nets” te tob, gaan jy niks verander nie, maar dit kan jou herstel vertraag.

As jy goeie redes het om te glo dat jy werklik skuld dra en dat jy jou dit nie net verbeel nie, moet jy die allerbelangrikste faktor by die verligting van skuldgevoelens in ag neem—God se vergifnis. Die Bybel verseker ons: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing” (Psalm 130:3, 4). Jy kan nie terugkeer na die verlede en enigiets ongedaan maak nie. Maar jy kan God om vergifnis smeek vir vroeëre foute. Wat dan? Wel, as God belowe om ons sondes te vergewe, moet jy dan nie ook jouself vergewe nie?—Spreuke 28:13; 1 Johannes 1:9.

Hoe om woede te verwerk

Is jy ook kwaad, dalk vir dokters, verpleegsters, vriende of selfs vir die oorledene? Jy moet besef dat dit ook ’n algemene reaksie op verlies is. Miskien is jou woede ’n heel natuurlike uitvloeisel van die pyn wat jy ondervind. Een skrywer het gesê: “Slegs deur van die woede bewus te word—nie deur daarop te reageer nie maar deur te weet dat jy dit ervaar—kan jy jou van die vernietigende uitwerking daarvan bevry.”

Dit kan ook help as jy aan die woede uiting gee of iemand daarvan bewus maak. Hoe? Beslis nie deur onbeheerste uitbarstings nie. Die Bybel waarsku dat langdurige woede gevaarlik is (Spreuke 14:29, 30). Maar jy kan vertroosting daaruit put as jy met ’n medelydende vriend daaroor praat. En party vind dat strawwe oefening welkome verligting bied wanneer hulle woede hulle oorweldig.—Sien ook Efesiërs 4:25, 26.

Hoewel dit belangrik is om openhartig en eerlik oor jou gevoelens te wees, is ’n woordjie van waarskuwing gepas. Om aan jou gevoelens uiting te gee, is een ding, maar om dit op ander uit te haal, is iets heeltemal anders. Dit is nie nodig om ander vir jou woede en frustrasie te blameer nie. Praat dus gerus jou gevoelens uit, maar nie op ’n vyandige manier nie (Spreuke 18:21). Daar is een voortreflike hulpmiddel om smart te oorkom, en ons gaan dit nou bespreek.

Hulp van God

Die Bybel verseker ons: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19). Ja, ’n verhouding met God kan jou meer as enigiets anders help om die dood van ’n geliefde te verwerk. Hoe? Al die praktiese wenke wat tot dusver gegee is, is gegrond op of strook met God se Woord, die Bybel. Die toepassing daarvan kan jou help om die las te dra.

Daarbenewens moet jy ook nie die waarde van gebed onderskat nie. Die Bybel spoor ons aan: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou” (Psalm 55:23). As dit kan help as jy jou gevoelens teenoor ’n simpatieke vriend uitstort, hoeveel te meer sal dit jou nie help as jy jou hart teenoor “die God van alle vertroosting” uitstort nie!—2 Korinthiërs 1:3.

Dit is nie dat gebed ons bloot beter laat voel nie. Die “Hoorder van die gebed” belowe om heilige gees aan sy knegte te gee as hulle dit opreg vra (Psalm 65:3; Lukas 11:13). En God se heilige gees, of werkende krag, kan jou toerus met “krag wat bo die normale is” om van dag tot dag voort te gaan (2 Korinthiërs 4:7, NW). Onthou: God kan sy getroue knegte help om al die probleme waarvoor hulle te staan kom te verduur.

’n Vrou wat ’n kind aan die dood afgestaan het, vertel hoe die krag van gebed haar en haar man gehelp het om hulle verlies te verwerk. “Wanneer ons saans tuis was en die smart eenvoudig ondraaglik geword het, het ons hardop saam gebid”, verduidelik sy. “Elke keer as ons iets vir die eerste keer sonder haar moes doen—ons eerste gemeentelike vergadering, die eerste byeenkoms wat ons bygewoon het—het ons om krag gebid. Wanneer ons soggens opgestaan het en die werklikheid van die hele situasie ondraaglik gelyk het, het ons tot Jehovah om hulp gebid. Om die een of ander rede was dit vir my werklik traumaties om alleen in die huis in te stap. En daarom het ek elke keer wanneer ek alleen tuisgekom het tot Jehovah gebid om my te help om kalm te bly.” Daardie getroue vrou glo vas en tereg dat daardie gebede ’n verskil gemaak het. Jy sal ook vind dat jou volgehoue gebede verhoor sal word en ‘die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, jou hart en jou sinne sal bewaar’.—Filippense 4:6, 7; Romeine 12:12.

Die hulp wat God voorsien, maak beslis ’n verskil. Die Christenapostel Paulus het gesê dat God “ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos”. Goddelike hulp neem nou wel nie die pyn weg nie, maar kan dit makliker maak om dit te verduur. Dit beteken nie dat jy nie meer sal huil of dat jy jou geliefde sal vergeet nie. Maar jy kan herstel. En namate jy herstel, kan jou ervaring jou meer begrip en simpatie gee wanneer jy ander help om ’n soortgelyke verlies te verwerk.—2 Korinthiërs 1:4.