Genesis 32:1-32

  • Engele ontmoet Jakob (1, 2)

  • Jakob berei voor om Esau te ontmoet (3-23)

  • Jakob stoei met engel (24-32)

    • Jakob se naam verander na Israel (28)

32  Jakob het toe vertrek, en die engele van God het hom ontmoet.  Toe hy hulle sien, het Jakob gesê: “Dit is die kamp van God!” Hy het die plek dus Mahanaʹim* genoem.  Toe het Jakob boodskappers voor hom uit gestuur na sy broer, Esau, in die land Seïr,+ die gebied van Edom,+  en hy het hulle hierdie opdrag gegee: “Dít is wat julle vir my heer, vir Esau, moet sê: ‘U kneg Jakob het gesê: “Ek het lank by Laban gewoon,* tot nou toe.+  Ek het bulle, donkies, skape en diensknegte en diensmeisies verkry,+ en ek stuur hierdie boodskap om my heer hiervan te laat weet, sodat ek u goedkeuring kan kry.”’”  Later het die boodskappers na Jakob teruggekeer en gesê: “Ons was by u broer, Esau, en hy is nou op pad na u toe, en daar is 400 manne by hom.”+  Jakob het toe baie bang en angstig geword.+ Hy het dus die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee, die beeste en die kamele in twee kampe verdeel.  Hy het gesê: “As Esau die een kamp aanval, sal die ander kamp kan wegkom.”  Daarna het Jakob gesê: “O God van my voorvader Abraham en God van my pa, Isak, o Jehovah, u wat vir my sê: ‘Keer terug na jou land en jou familielede en ek sal goed wees vir jou,’+ 10  ek verdien nie al die lojale liefde wat u aan u kneg betoon het en u getrouheid nie,+ want ek het net met my staf deur hierdie Jordaanrivier getrek, en nou het ek twee kampe geword.+ 11  Red my, ek smeek u,+ uit die hand van my broer, Esau, want ek is bang dat hy sal kom en my, sowel as die ma’s en hulle kinders, sal aanval.+ 12  En u het gesê: ‘Ek sal beslis goed wees vir jou, en ek sal jou nageslag* soos die sandkorrels van die see maak, wat te veel is om te tel.’”+ 13  En hy het daar oornag. Toe het hy van sy besittings geneem om dit as ’n geskenk vir sy broer, Esau, te gee:+ 14  200 bokooie, 20 bokramme, 200 skaapooie, 20 skaapramme, 15  30 kamele met hulle kalfies, 40 koeie, 10 bulle, 20 donkiemerries en 10 volgroeide donkiehingste.+ 16  Hy het hulle aan sy knegte oorgegee, die een trop na die ander, en hy het vir sy knegte gesê: “Gaan voor my uit na die oorkant en maak seker dat daar ’n afstand tussen die troppe is.” 17  Hy het ook vir die eerste een gesê: “As my broer, Esau, jou teëkom en jou vra: ‘Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy en aan wie behoort die diere hier voor jou?’ 18  dan moet jy sê: ‘Aan u kneg Jakob. Dit is ’n geskenk wat vir my heer, vir Esau, gestuur word.+ En Jakob self kom ook agter ons aan.’” 19  En hy het ook vir die tweede, die derde en almal wat die troppe gevolg het, gesê: “Julle moet dieselfde vir Esau sê wanneer julle hom teëkom. 20  En julle moet ook sê: ‘U kneg Jakob is agter ons.’” Want hy het vir homself gesê: “As ek sy woede laat bedaar deur ’n geskenk vooruit te stuur,+ dan sal hy my dalk vriendelik ontvang wanneer ek hom sien.” 21  Toe is die geskenk voor hom uit gestuur, maar hy het die nag in die kamp deurgebring. 22  Later daardie nag het hy opgestaan en sy twee vrouens+ en sy twee diensmeisies+ en sy 11 jong seuns geneem en deur die drif van die Jabbok-stroom+ gegaan. 23  So het hy hulle na die ander kant van die stroom* gebring, saam met alles wat hy nog by hom gehad het. 24  Uiteindelik het Jakob alleen agtergebly. Toe het ’n man met hom begin stoei* tot dagbreek toe.+ 25  Toe die man sien dat hy nie die oorhand oor Jakob gaan kry nie, het hy aan die potjie van Jakob se heup geraak, en die potjie van sy heup het uit lid geraak terwyl hy met hom gestoei* het.+ 26  Daarna het die man gesê: “Laat my gaan, want dit word al dag.” Maar Jakob het gesê: “Ek sal u nie laat gaan tensy u my seën nie.”+ 27  Toe het die man hom gevra: “Wat is jou naam?” En hy het gesê: “Jakob.” 28  Daarna het hy gesê: “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie, maar Israel,*+ want jy het met God en mense ’n stryd gevoer,+ en jy het uiteindelik die oorhand gekry.” 29  Jakob het gevra: “Sê asseblief vir my wat u naam is.” Maar hy het gesê: “Hoekom vra jy my naam?”+ Toe het hy hom daar geseën. 30  Jakob het die plek Pniël*+ genoem, want hy het gesê: “Ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gespaar.”+ 31  En die son het opgekom net toe hy by Pnuel* verbygaan, maar hy het mank geloop as gevolg van sy heup.+ 32  Daarom eet die kinders van Israel tot vandag toe nie die sening* aan die potjie van die heup nie, omdat die man aan die potjie van Jakob se heup geraak het by die sening.

Voetnote

Beteken “twee kampe”.
Of “as ’n uitlander gewoon”.
Lett. “saad”.
Of “wadi”. Sien Woordelys.
Of “worstel”.
Of “geworstel”.
Beteken “iemand wat ’n stryd voer, of volhard, met God” of “God voer ’n stryd”.
Beteken “aangesig van God”.
Of “Pniël”.
Lett. “die sening van die dysenuwee”.