Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beskerm jouself teen valse inligting

Beskerm jouself teen valse inligting

 Daar was nog nooit soveel inligting beskikbaar soos vandag nie, en dit sluit inligting in wat jou veilig en gesond kan hou. Maar wanneer jy na inligting soek, moet jy versigtig wees vir valse inligting, soos:

 Byvoorbeeld, gedurende die COVID-19-pandemie het die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies gewaarsku teen ’n gevaarlike epidemie – valse inligting. “Daar is al hoe meer skadelike gesondheidsraad en bedrieglike mediese behandelings”, het hy gesê. “Jy hoor allerhande leuens op televisie en oor die radio. Wilde samesweringsteorieë, stories wat nie op feite gebaseer is nie, is oral op die Internet. Haat is aan die orde van die dag, en dit is algemeen om dinge oor mense en groepe te sê wat vol haat is en hulle naam deur die modder sleep.”

 Valse inligting is natuurlik niks nuuts nie. Maar die Bybel het voorspel dat “goddelose mense en bedrieërs” in ons dag “al hoe slegter [sal] word, terwyl hulle ander mislei en self mislei word” (2 Timoteus 3:1, 13). En as gevolg van die Internet kan ons valse nuus nou al hoe makliker en vinniger kry – en onopsetlik versprei. En dit kan daartoe lei dat ons e-posse, sosiale media en kanale waardeur ons nuus kry, vol is van verdraaide feite en halwe waarhede.

 Hoe kan jy jouself beskerm teen misleidende inligting en samesweringsteorieë? Kom ons kyk na ’n paar Bybelbeginsels wat kan help.

  •   Moenie alles glo wat jy sien of hoor nie

     Wat die Bybel sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – Spreuke 14:15.

     Ons kan maklik mislei word as ons nie versigtig is nie. Dink byvoorbeeld aan prente met byskrifte of kort video’s wat oral aanlyn versprei word, veral deur sosiale media. Sulke items, wat gewoonlik memes genoem word, is dikwels veronderstel om grappig te wees. Maar prente en videogrepe kan maklik verander word of uit konteks geneem word. Mense kan selfs video’s maak van regte mense wat dinge doen of sê wat hulle nooit gedoen of gesê het nie.

     “Die meeste valse inligting wat navorsers op sosiale platforms teëkom, bevat media wat die konteks verdraai, soos ‘memes’.” – Axios Media.

     Vra jou af: ‘Is dit nuus wat op feite gebaseer is of is dit net ’n meme?’

  •   Kyk waar dit vandaan kom en wat die inhoud daarvan is

     Wat die Bybel sê: “Maak seker van alles.” – 1 Tessalonisense 5:21.

     Voordat jy ’n storie glo of aanstuur, selfs ’n storie wat gewild is of herhaaldelik in die nuus is, moet jy seker maak dat dit waar is. Hoe?

     Stel vas hoe betroubaar die bron is. Nuusmedia-maatskappye en ander organisasies kan ’n storie aanpas om by hulle kommersiële of politieke standpunt te pas. Vergelyk dit wat jy in een nuusbron sien met ander bronne. Partykeer kan vriende onopsetlik valse inligting aanstuur deur e-posse of deur sosiale media. Daarom moet jy nie ’n nuus-item vertrou tensy jy kan uitvind waar dit vandaan kom nie.

     Maak seker dat die inhoud nuut en akkuraat is. Soek na datums, feite wat bevestig kan word en sterk bewyse wat die inhoud ondersteun. Wees veral versigtig as dit lyk asof ingewikkelde inligting op ’n baie eenvoudige manier verduidelik word of as die berig so geskryf is dat dit ’n emosionele reaksie uitlok.

     “Om nóú seker te maak van jou feite, gaan binnekort dalk net so belangrik wees soos om jou hande te was.” – Sridhar Dharmapuri, ’n senior amptenaar vir voedselveiligheid en voeding vir die VN.

     Vra jou af: ‘Maak hierdie nuusberig dit moeilik om die verskil te sien tussen feite en opinies of stel dit net die een kant van die saak?’

  •   Laat jou lei deur feite, en nie deur persoonlike voorkeure nie

     Wat die Bybel sê: “Die een wat op sy eie hart vertrou, is dwaas.” – Spreuke 28:26.

     Ons is geneig om inligting te vertrou wat dinge bevestig wat ons graag wil glo. En Internet-maatskappye kan sien waarin ons belangstel en waarna ons op die Internet soek en pas dikwels ons kennisgewings op ons kanale vir nuus- en sosiale media daarvolgens aan. Maar dit wat ons graag wíl hoor, is nie altyd dit wat ons móét hoor nie.

     “Hoewel mense die vermoë het om hulle verstand en hulle logika te gebruik, speel ons wense, hoop, vrese en motiewe dikwels ’n groter rol, en dit maak dat ons meer geneig is om iets te glo wanneer dit verband hou met iets wat ons wil glo.” – Peter Ditto, sosiale sielkundige.

     Vra jou af: ‘Vertrou ek hierdie inligting net omdat dit iets is wat ek wil glo?’

  •   Moenie valse inligting verder versprei nie

     Wat die Bybel sê: “Jy mag nie ’n valse gerug versprei nie.” – Eksodus 23:1.

     Onthou, die inligting wat jy met ander deel, kan ’n uitwerking hê op wat hulle dink en doen. Selfs al gee ons nie aspris vir iemand die verkeerde inligting nie, kan dit baie slegte gevolge hê.

     “Die belangrikste reël is om nie oorhaastig te wees nie en te stop en jou af te vra: ‘Is ek seker genoeg hiervan dat ek dit met ander behoort te deel?’ As almal dit gedoen het, sou daar baie minder valse inligting aanlyn gewees het.” – Peter Adams, ’n senior visepresident van die News Literacy Project.

     Vra jou af: ‘Deel ek hierdie inligting omdat ek weet dat dit waar is?’