Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is dit ontwerp?

Die balanseerkolfies van die vlieg

Die balanseerkolfies van die vlieg

Waarom kan die gewone huisvlieg ingewikkelde en presiese bewegings in die lug uitvoer? Hoe kry die insek dit reg om gou weer tot verhaal te kom en in die regte rigting te vlieg nadat ’n windvlaag hom getref het? Die antwoord behels twee klein aanhangsels wat balanseerkolfies genoem word, waarvan een agter elke vlerk gevind word. *

Dink hieraan: ’n Balanseerkolfie is soos ’n klein tromstokkie met ’n geknopte punt. Terwyl die insek vlieg, beweeg die balanseerkolfies op en af teen dieselfde tempo as die vlerke, maar in die teenoorgestelde rigting. Wetenskaplikes het ontdek dat balanseerkolfies as ’n uitstekende soort giroskoop dien, wat die vlieg help om stabiel te bly wanneer hy vlieg. *

Sonder balanseerkolfies sou hierdie huisvlieg (links) en die langpootvlieg gou grond toe val

Omdat die balanseerkolfies geknopte eindpunte het, “beweeg hulle heen en weer in een spesifieke rigting, soos die pendulum van ’n horlosie”, sê die Encyclopedia of Adaptations in the Natural World. As ’n vlieg skielik in die lug van rigting verander, hetsy doelbewus of as gevolg van ’n skielike windvlaag, “sal die steel van die balanseerkolfie draai”, sê die ensiklopedie. “Hierdie draaibeweging word bespeur deur ’n digte bondel senuwee-eindpunte, en die inligting word na die brein gestuur sodat die vlieg die nodige aanpassing kan maak om . . . op koers te bly.” Gevolglik is vlieë baie rats en moeilik om te vang.

Ingenieurs kan dink aan tallose gebruike vir tegnologie wat deur die balanseerkolfie geïnspireer word, in dinge soos robotte, mikromeganiese vlieënde insekte en ruimtevoertuie. “Wie sou kon dink dat ons soveel sou kon leer by ’n klein, ongewilde skepseltjie soos die vlieg?” het die ruimtenavorser Rafal Zbikowski geskryf.

Wat dink jy? Het die giroskopiese balanseerkolfies van die vlieg deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?

^ par. 3 Tweevlerkige insekte, soos vlieë, muskiete en muggies, het balanseerkolfies.

^ par. 4 ’n Giroskoop bestaan gewoonlik uit ’n raamwerk waarin ’n skyf gemonteer is wat vinnig om sy as draai. Die skyf is geneig om die hoek van sy rotasieas te behou, ondanks eksterne beweging, magnetiese velde of swaartekrag. Giroskope kan dus gebruik word om uiters nuttige kompasse te maak.