Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om met jou tiener oor sexting te praat

Hoe om met jou tiener oor sexting te praat

DIE UITDAGING

Jy het al gehoor dat sexting algemeen is onder jongmense. ‘Sal my tiener dit doen?’ wonder jy dalk.

Jy wil met jou kind daaroor praat—maar hoe? Voordat ons dit bespreek, kan ons kyk waarom party jongmense al by sexting betrokke geraak het en waarom jy besorg moet wees. *

WAAROM DIT GEBEUR

  • Party tieners stuur seksueel eksplisiete boodskappe om te flankeer met iemand van wie hulle hou.

  • In ander gevalle stuur ’n meisie ’n eksplisiete foto van haarself aan ’n seun omdat hy druk op haar uitoefen om dit te doen.

  • Soms sal ’n seun ’n eksplisiete foto van ’n meisie aan ’n hele klomp mense aanstuur om sy vriende te vermaak of om haar terug te betaal nadat hulle uitgemaak het.

Wat die rede ook al is, ’n tiener met ’n selfoon kan in groot moeilikheid beland. “Met die druk van ’n knoppie”, sê die boek CyberSafe, “word lewens vir ewig verander.”

Baie mense besef nie dat hulle geen beheer het oor hoe ’n foto gebruik sal word nadat hulle dit in die kuberruimte ingestuur het nie. In een geval, berig ’n nuusbrief van die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI), het ’n 18-jarige meisie “selfmoord gepleeg nadat ’n naakfoto wat sy deur middel van haar selfoon aan haar kêrel gestuur het, ook aan honderde tieners in haar skool gestuur is. Van die leerders, wat die foto blykbaar ook aangestuur het, het die meisie na bewering geteister.”

Sexting laat ook regskwessies ontstaan. Byvoorbeeld, op party plekke is minderjariges wat seksueel eksplisiete foto’s aan ander minderjariges gestuur het, weens kinderpornografie-oortredings aangekla en is daar van hulle vereis om as seksoortreders te registreer. As ’n ouer kan jy ook aanspreeklik gehou word as jou naam op die selfoonkontrak verskyn of as jy nie maatreëls tref om te keer dat jou kind by sexting betrokke raak nie.

 WAT JY KAN DOEN

Stel duidelike reëls vas. Hoewel jy nie volle beheer oor jou tiener se selfoongebruik kan uitoefen nie, kan jy seker maak dat hy of sy weet wat jou reëls is—sowel as wat die gevolge sal wees as hierdie reëls verbreek word. Hou ook in gedagte dat jy as ouer die reg het om jou tiener se selfoon te monitor.—Bybelbeginsel: Efesiërs 6:1.

Help jou tiener om oor die probleem te redeneer. Jy kan sê: “Daar is verskillende menings oor wat sexting is. Hoe sal jy dit beskryf?” “Watter soort foto’s dink jy is ongepas?” “Op party plekke is ’n minderjarige wat ’n naakfoto van ’n ander minderjarige aanstuur, volgens wet skuldig aan ’n misdaad. Dink jy dat dit so erg is?” “Hoekom is sexting sedelik verkeerd?” Luister aandagtig na sy of haar redenasie, en help jou tiener om te dink aan wat die gevolge sal wees as hy die stuurknoppie druk.—Bybelbeginsel: Hebreërs 5:14.

Dink aan wat die gevolge sal wees as die stuurknoppie gedruk word

Meld denkbeeldige situasies. Jy kan vir jou dogter sê: “Gestel ’n seun oefen druk op ’n meisie uit om seksboodskappe aan hom te stuur. Wat moet sy doen? Voor die druk swig sodat sy nie sy vriendskap verloor nie? Die versoek weier, maar in elk geval met hom flankeer? Die verhouding beëindig? Vir ’n volwassene vertel?” Help jou dogter om oor die saak te redeneer. Jy kan natuurlik op ’n soortgelyke manier met ’n seun redeneer.—Bybelbeginsel: Galasiërs 6:7.

Doen ’n beroep op jou tiener se sin vir wat reg is. Stel vrae soos: Hoe belangrik is dit vir jou om ’n goeie reputasie te hê? Vir watter eienskappe wil jy bekend wees? Hoe sal jy oor jouself voel as jy iemand verneder het deur ’n ongepaste foto aan te stuur? Hoe sal jy voel as jy standpunt ingeneem het vir wat reg is? Help jou tiener om ‘’n goeie gewete te behou’.—1 Petrus 3:16.

Stel self die voorbeeld. Die Bybel sê dat goddelike wysheid kuis is, nie huigelagtig nie (Jakobus 3:17). Hoe vergelyk jou waardes met hierdie woorde? “Ons moet self ’n goeie voorbeeld stel en nie na beelde en webwerwe kyk wat as onsmaaklik of onwettig beskou kan word nie”, sê die boek CyberSafe.

^ par. 5 Sexting verwys na die gebruik om seksueel eksplisiete boodskappe, foto’s of video’s deur middel van ’n selfoon aan ander te stuur. Vir meer inligting, kan jy die webwerf jw.org/af besoek en die aanlyn artikel “Jongmense vra—Wat moet ek omtrent sexting weet?” lees.—Kyk onder BYBELLERINGE > TIENERS.