Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | ELDAR NEBOLSIN

’n Klassieke pianis verduidelik waarom hy aan God glo

’n Klassieke pianis verduidelik waarom hy aan God glo

Eldar Nebolsin van Oesbekistan is ’n internasionaal erkende pianis. Hy het as ’n solospeler saam met orkeste in Londen, Moskou, St. Petersburg, New York, Parys, Rome, Sydney, Tokio en Wene gespeel. Eldar het as ’n ateïs in die Sowjetunie grootgeword. Maar later het hy tot die slotsom gekom dat die mens die handewerk van ’n liefdevolle Skepper is. Ontwaak! het met hom gesels oor sy musiek en sy geloof.

Hoe het jy ’n musikus geword?

Albei my ouers is pianiste. Hulle het my begin leer toe ek vyf jaar oud was. Later het ek gevorderde musiekonderrig by die musiekskool in Tasjkent ontvang.

Vertel ons van die uitdagings wat dit bied om saam met ’n orkes te speel.

Daar is nie twee orkeste wat presies dieselfde is nie. Hulle is soos reusagtige musiekinstrumente wat deur hulle orkesleier “gespeel” word. Vir die solospeler is die grootste uitdaging seker om in voeling te wees met die orkesleier. Dit is soos ’n gesprek tussen vriende—een doen nie al die praatwerk nie; elkeen kry ’n beurt. Gewoonlik word net een of twee repetisies gehou waartydens hierdie verstandhouding ontwikkel moet word.

Hoeveel tyd bestee jy daaraan om te oefen?

Ten minste drie uur per dag—en dit is nie net om moeilike gedeeltes te oefen nie. Ek bestudeer ook die samestelling van die musiekstuk wat ek voorberei—maar sonder om dit te speel. En ek luister ook na die komponis se ander werke sodat ek meer insig kan kry in die stuk wat ek gaan speel.

Wat sal jy sê onderskei ’n goeie pianis?

Sy vermoë om ’n klavier te laat “sing”. Laat ek verduidelik. Die klavier is ’n soort slaginstrument. Nadat ’n noot gespeel is, kan die klanksterkte net afneem—in teenstelling met blaasinstrumente of die mensestem, wat ’n noot kan uitrek of selfs die klanksterkte kan laat toeneem. Die uitdaging vir pianiste is om te voorkom dat ’n noot net wegsterf. Hulle doen dit deur die subtiele beweging van hulle vingers en gewrigte, tesame met  die vaardige gebruik van die regterpedaal, wat die klank van die noot verleng en die toonkleur verander. Wanneer pianiste hierdie moeilike tegnieke onder die knie gekry het, kan hulle die klavier soos ’n fluit, ’n horing of selfs ’n orkes laat klink. Hulle kan dit ook laat klink soos die beste musiekinstrument wat daar is—die mensestem.

Dit is duidelik dat jy baie lief is vir musiek.

Vir my is musiek die taal waarin gevoelens wat moeilik of selfs onmoontlik is om in woorde uit te druk, op die beste manier oorgedra en gewek kan word.

Wat het jou in geestelike sake laat belangstel?

Ons huis was altyd vol boeke, wat my pa van Moskou af gebring het. ’n Boek wat vir my besonder interessant was, het Bybelverhale bevat oor die begin van die mensegeskiedenis en die wedervaringe van die Israeliete. Ek het ook afgekom op die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. * Die eenvoudige manier waarop dit Bybelleringe verduidelik het, het my geboei. Toe ek in 1991 na Spanje getrek het om musiek te studeer, het ek hierdie boek saamgeneem en dit ’n hele paar keer deurgelees. Ek het ’n geloof gevind wat nie bloot op emosie gegrond is nie, maar ook op oortuigende bewyse en grondige redenasies.

’n Lering wat vir my besonder interessant was, is die Bybel se belofte dat mense vir ewig op die aarde kan lewe. Dit het werklik sin gemaak! Ek moet byvoeg dat ek Jehovah se Getuies toe nog nie ontmoet het nie. Maar ek het besluit om hulle te vra vir Bybellesse wanneer ek hulle wel teëkom.

Hoe het jy die Getuies ontmoet?

’n Paar dae nadat ek hierdie besluit geneem het, het ek twee vroue gesien, elkeen met ’n Bybel in die hand. ‘Hulle lyk soos die mense van wie ek in my boek gelees het’, het ek gedink. ‘Hulle preek soos die Christene in Bybeltye.’ Kort daarna het ek die Bybel saam met ’n Getuie begin studeer. Vandag verskaf dit my die grootste vreugde om ander te help om van ons Skepper te leer.

Wat het jou, ’n voormalige ateïs, oortuig om aan ’n Skepper te glo?

Musiek. Byna almal waardeer musiek, en op ’n manier wat diere nie kan nie. Musiek kan vreugde, selfvertroue, teerheid en feitlik enige ander emosie uitdruk. Ons beweeg van nature op die maat van musiek. Maar is musiek noodsaaklik vir ons oorlewing? Speel dit ’n rol in die “oorlewing van die sterkste”, soos evolusioniste leer? Ek dink nie so nie. Na my mening is dit onredelik om tot die gevolgtrekking te kom dat die mensebrein, wat die vermoë het om musiek soos dié van Mozart en Beethoven te komponeer en te waardeer, deur middel van evolusie ontstaan het. Dit is baie redeliker om te glo dat ons brein die handewerk van ’n wyse en liefdevolle Skepper is.

Die Bybel is soos ’n elegante simfonie wat op meesterlike wyse saamgestel is en ’n hartroerende boodskap vir die hele mensdom bevat

Wat het jou laat glo dat die Bybel van God af kom?

Die Bybel is ’n versameling van 66 kleiner boeke en is oor ’n tydperk van ongeveer 1 600 jaar deur sowat 40 manne geskryf. Ek het my afgevra: ‘Wie kon reël dat hierdie harmoniese meesterstuk geskryf word?’ Die enigste redelike antwoord is God. Vir my is die Bybel soos ’n elegante simfonie wat op meesterlike wyse saamgestel is en ’n hartroerende boodskap vir die hele mensdom bevat.

^ par. 15 Jehovah se Getuies gebruik nou die Bybelstudiehulp Wat leer die Bybel werklik?, Dit is aanlyn beskikbaar by www.mr1310.com/af.