Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Die skepping

Die skepping

Het God die aarde in net ses dae van 24 uur elk geskep, soos party voorstanders van die skeppingsleer sê?

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”—Genesis 1:1.

WAT DIE BYBEL SÊ

God het die heelal, insluitende die aarde, in die onbepaalde verlede geskep—“in die begin”, soos Genesis 1:1 sê. Die hedendaagse wetenskap leer ook dat die heelal ’n begin gehad het. Volgens onlangse wetenskaplike skattings is die heelal byna 14 miljard jaar oud.

Die Bybel praat ook van ses “dae” waartydens God geskep het. Maar dit sê nie dat hierdie dae 24 uur lank was nie (Genesis 1:31). Trouens, in die Bybel word die woord “dag” gebruik om na verskillende tydperke te verwys. Dit noem byvoorbeeld die hele skeppingstydperk “die dag toe Jehovah God die aarde en die hemel gemaak het” (Genesis 2:4). Klaarblyklik was hierdie “dae” waartydens die skepping plaasgevind het, duisende jare lank.—Psalm 90:4.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Die valse idees van voorstanders van die skeppingsleer kan veroorsaak dat jy die Bybel heeltemal verwerp. Maar as die Bybel se skeppingsverslag wel geloofwaardig is, sal jy kan baat vind by die oorvloed “praktiese wysheid” daarin.—Spreuke 3:21.

 Het God evolusie gebruik om lewe op die aarde te skep?

“God het . . . gesê: ‘Laat die aarde lewende siele voortbring volgens hulle soorte.’”—Genesis 1:24.

WAT DIE BYBEL SÊ

God het nie ’n eenvoudige lewensvorm gemaak en dit toe laat evolueer sodat komplekser lewensvorme daaruit ontstaan het nie. Hy het eerder basiese “soorte” komplekse plante en diere geskep, wat toe “volgens hulle soorte” voortgeplant het (Genesis 1:11, 21, 24). Weens hierdie proses, wat vandag nog voortduur, is die aarde gevul met dieselfde “soorte” plante en lewende wesens wat God oorspronklik geskep het.—Psalm 89:11.

Die Bybel sê nie hoeveel verskeidenheid in ’n soort kan voorkom nie, soos die geval is wanneer diere van dieselfde soort kruisteel en hulle by hulle omgewing aanpas. Hoewel party hierdie aanpassings as ’n vorm van evolusie beskou, word ’n nuwe lewensvorm nie voortgebring nie. Hedendaagse navorsing staaf die gedagte dat die basiese klasse plante en diere oor ontsaglike lang tydperke min verander het.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Die feit dat die Bybel wetenskaplik akkuraat is wanneer dit praat van basiese “soorte” plante en lewende wesens, versterk die oortuiging dat dit ook op ander gebiede, insluitende geskiedenis en profesie, geloofwaardig is.

Waar het die rumateriaal van die heelal vandaan gekom?

“My hande het die hemel uitgespan.”—Jesaja 45:12.

WAT DIE BYBEL SÊ

God is die Bron van oneindige krag, of energie (Job 37:23). Dit is betekenisvol, want wetenskaplikes het uitgevind dat energie in materie omgesit kan word. Die Bybel sê dat God die Bron is van die “oorvloed van dinamiese energie” waardeur die heelal voortgebring is (Jesaja 40:26). God belowe dat hy sy krag sal gebruik om sy skepping in stand te hou, want die Bybel sê van die son, maan en sterre: “[God] hou hulle vir ewig in stand.”—Psalm 148:3-6.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Die sterrekundige Allan Sandage het eenkeer gesê: “Die wetenskap kan nie die diepste vrae beantwoord nie. Sodra jy vra waarom daar iets is in plaas van niks, kan die wetenskap jou nie help nie.” Die Bybel verduidelik nie net die skepping op ’n manier wat met die wetenskap strook nie, maar dit beantwoord ook vrae wat die wetenskap nie kan beantwoord nie—soos: Wat is God se voorneme met die aarde en die mensdom? *

^ par. 16 Vir meer inligting, sien hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.