Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | FENG-LING YANG

’n Mikrobioloog verduidelik waarom sy aan God glo

’n Mikrobioloog verduidelik waarom sy aan God glo

Feng-Ling Yang is ’n senior navorsingsassistent by die sentrale navorsingsakademie in Taipei, Taiwan. Haar werk het al in wetenskaptydskrifte verskyn. Sy het vroeër aan die evolusieteorie geglo. Maar sy het later tot ander insigte gekom. Ontwaak! het met haar gesels oor haar wetenskap en haar geloof.

Vertel ons van jou agtergrond.

My ouers was baie arm, en my ma het nooit leer lees nie. Ons het naby die stad Taipei met varke geboer en groente gekweek in ’n gebied waar daar dikwels oorstromings was. My ouers het my geleer dat dit belangrik is om hard te werk en om ander te help.

Was julle gesin godsdienstig?

Ons gesin het Taoïsme beoefen. Ons het offerandes gebring aan die “Hemelgod”, maar ons het niks van hom geweet nie. Ek het dikwels gewonder: ‘Waarom ly mense? Waarom is mense selfsugtig?’ Ek het boeke oor Taoïsme en Boeddhisme en oor Oosterse en Westerse geskiedenis gelees. Ek het selfs na ’n paar kerke toe gegaan. Maar ek kon nie antwoorde op my vrae kry nie.

Waarom het jy wetenskap gestudeer?

Ek het van wiskunde gehou en is gefassineer deur die wyse waarop chemiese en natuurwette die samestelling van dinge bepaal. Alles, van die ontsaglike heelal tot piepklein mikrobes, het ’n samestelling wat deur reëls beheer word. En ek wou hierdie reëls verstaan.

Waarom het jy geglo dat die evolusieteorie ’n feit is?

Ek is niks anders geleer nie. Op hoërskool sowel as op universiteit was evolusie die enigste verduideliking wat ek gehoor het. En as ’n navorser in ’n lewenswetenskap is daar van my verwag om evolusie te aanvaar.

As ’n navorser in ’n lewenswetenskap is daar van my verwag om evolusie te aanvaar

Waarom het jy die Bybel begin lees?

Ek het in 1996 in Duitsland gaan woon sodat ek met my nagraadse studies kon begin. Die  volgende jaar het ek ’n vrou met die naam Simone ontmoet. Sy was een van Jehovah se Getuies en het aangebied om my vrae met behulp van die Bybel te beantwoord. Toe sy vir my sê dat die Bybel verduidelik wat die doel van die lewe is, het dit my belangstelling gewek. Ek het elke oggend halfvyf opgestaan om ’n uur lank die Bybel te lees. Daarna het ek gaan stap om daaroor te peins. Gedurende die volgende jaar het ek die Bybel deurgelees. Die akkuraatheid van die profesieë daarin het my beïndruk. Uiteindelik was ek oortuig dat die Bybel van God af kom.

Hoe het jy gedink het lewe ontstaan?

Toe ek in die laat negentigerjare ernstig hieroor begin nadink het, het molekulêre bioloë begin besef dat die chemiese prosesse in lewende organismes baie ingewikkelder is as wat voorheen gedink is. Wetenskaplikes het natuurlik lank geweet dat die proteïene in lewende selle vanuit ’n chemiese oogpunt die kompleksste molekules is. Maar nou het hulle begin uitvind hoe hele groepe proteïene georganiseer is om voortreflike masjiene met bewegende dele te vorm. ’n Molekulêre masjien kan uit meer as 50 proteïene bestaan. En selfs die eenvoudigste sel het ’n aantal verskillende masjiene nodig—byvoorbeeld om krag op te wek, om inligting te dupliseer en om te beheer wat membrane deurlaat.

Tot watter slotsom het jy gekom?

Ek het my afgevra: ‘Waaraan het hierdie proteïenmasjiene hulle uitstekende ontwerp te danke?’ ’n Aantal wetenskaplikes het destyds dieselfde vraag gevra toe hulle besef hoe kompleks die sel se chemiese samestelling is. ’n Professor van biochemie in die Verenigde State het ’n boek uitgegee waarin hy gesê het dat die molekulêre masjiene in lewende selle so kompleks is dat dit nie toevallig kon ontstaan het nie. Ek het daarmee saamgestem. Ek was seker daarvan dat lewe geskep is.

Ek het my afgevra: ‘Waaraan het hierdie proteïenmasjiene hulle uitstekende ontwerp te danke?’

Waarom het jy een van Jehovah se Getuies geword?

Ek was beïndruk omdat Simone ten spyte van gesondheidsprobleme elke week sowat 56 kilometer gereis het om my die Bybel te leer. Ek het uitgevind dat baie van die Getuies gedurende Duitsland se Nazi-tydperk in konsentrasiekampe was weens hulle politieke neutraliteit. Hulle moed het my baie beïndruk. Die Getuies se liefde vir God het by my die begeerte gewek om soos hulle te wees.

Strek dit jou tot voordeel om aan God te glo?

My kollegas kan sien dat ek nou ’n gelukkiger mens is. Ek het vroeër minderwaardig gevoel omdat ek arm grootgeword het, en daarom het ek vir niemand gesê waar ek vandaan kom nie en het ek nooit van my ouers gepraat nie. Maar ek het in die Bybel geleer dat ’n mens se sosiale stand nie vir God saak maak nie. Trouens, Jesus het in ’n gesin grootgeword wat heel moontlik so arm soos myne was. Nou sorg ek vir my ouers en stel ek hulle graag aan my vriende voor.