Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Bepeinsing

Bepeinsing

Wat is bepeinsing?

“Ek sal beslis oor al u dade peins, en u handelinge sal ek oordink.”Psalm 77:12.

WAT MENSE SÊ

Daar is baie vorme van bepeinsing, waarvan ’n aantal hulle oorsprong in eertydse Oosterse godsdienste het. “Die verstand moet leeg wees om duidelik te kan sien”, het ’n skrywer oor die onderwerp gesê. Sy woorde gee te kenne dat ’n mens innerlike vrede, helderheid van verstand en geestelike verligting kry wanneer jy jou verstand leegmaak terwyl jy op sekere woorde of beelde konsentreer.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel heg groot waarde aan bepeinsing (1 Timoteus 4:15). Maar die soort bepeinsing wat die Bybel aanmoedig, behels nie dat die verstand leeggemaak word of dat ’n sekere woord of uitdrukking, wat soms ’n mantra genoem word, herhaal word nie. Die bepeinsing waarvan die Bybel praat, behels eerder doelgerigte denke oor heilsame onderwerpe, soos God se eienskappe, standaarde en skeppingswerke. “Ek het gepeins oor al u dade; ek het die werk van u hande graag oordink”, het ’n getroue man van God in gebed gesê (Psalm 143:5). Hy het ook gesê: “Wanneer ek op my rusbed aan u gedink het, peins ek gedurende die nagwake oor u.”Psalm 63:6.

Hoe kan bepeinsing jou tot voordeel strek?

“Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord.”Spreuke 15:28.

WAT DIE BYBEL SÊ

Heilsame bepeinsing help ons om ons persoonlikheid te verbeter, selfbeheersing aan die dag te lê en sedelike krag op te bou—dit alles stel ons in staat om met meer insig en begrip te praat en op te tree (Spreuke 16:23). Hierdie bepeinsing dra dus ook by tot ’n gelukkige en bevredigende lewe. Psalm 1:3 sê aangaande iemand wat gereeld oor God peins: “Hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees.”

Bepeinsing help ons ook om ons begripsvermoë en geheue te verbeter. Ter toeligting, wanneer ons ’n aspek van die skepping of ’n sekere Bybelonderwerp bestudeer, leer ons talle interessante feite. Maar eers wanneer ons oor hierdie feite peins, sien ons hoe hulle verband hou met mekaar en met wat ons in die verlede geleer het. Soos ’n bouer ’n klomp stene in ’n pragtige gebou kan omskep, stel bepeinsing ons in staat om feite bymekaar te bring sodat dit ’n samehangende geheel vorm.

Moet bepeinsing doelgerig wees?

“Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?”Jeremia 17:9.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Van binne af, uit die hart van die mens, kom skadelike redenasies: hoererye, diefstalle, moorde, egbreuk, hebsugtige begeertes, goddelose dade, bedrog, losbandige gedrag, ’n afgunstige oog, . . . onredelikheid” (Markus 7:21, 22). Ja, soos ’n vuur, moet bepeinsing beheer word! Anders kan ongepaste gedagtes skadelike begeertes voed, wat dan buite beheer kan raak en tot bose dade kan lei.Jakobus 1:14, 15.

Daarom spoor die Bybel ons aan om te peins oor ‘alles wat waar, regverdig, rein en lieflik is, alles waarvan goed gepraat word en wat deugsaam en lofwaardig is’ (Filippense 4:8, 9; voetnoot in NW). Wanneer ons sulke goeie gedagtes inneem en dit in ons verstand “saai”, sal ons spraak aangenaam wees en sal ons pragtige eienskappe en hegte verhoudings met ander maai.Kolossense 4:6.