Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe verantwoordelik is ek?

Hoe verantwoordelik is ek?

 Beoordeel jouself!

  •  Ek is . . . altyd, meestal, soms of nooit

    •  eerlik

    •  betroubaar

    •  stiptelik

    •  vlytig

    •  netjies

    •  behulpsaam

    •  regverdig

    •  respekvol

    •  liefdevol

  •   Watter van hierdie eienskappe is jou sterk punte?

     Hou aan om so goed te doen op hierdie gebied.—Filippense 3:16.

  •   Op watter eienskap moet jy jou werklik toelê?

 Die volgende inligting sal jou help om op hierdie gebied te verbeter.

 Wat beteken dit om verantwoordelik te wees?

 Verantwoordelike mense kom hulle verpligtinge by die huis, by die skool en in die gemeenskap na. Hulle besef dat hulle aanspreeklik is vir hulle dade. Wanneer hulle dus ’n fout begaan, erken hulle dit, vra hulle om verskoning en probeer hulle dit regstel.

 Die Bybel sê: “Elkeen sal sy eie vrag dra.”—Galasiërs 6:5.

 Waarom moet ek die begeerte hê om verantwoordelik te wees?

  ’n Verantwoordelike persoon gebruik sy of haar talente wyslik en sal waarskynlik gerespekteer word, soos ’n volwassene behandel word en vryhede en voorregte gegee word.

 Die Bybel sê: “Het jy ’n man gesien wat vaardig is in sy werk? Voor konings sal hy staan.”—Spreuke 22:29.

  ’n Verantwoordelike persoon is gewoonlik vrygewig en sal waarskynlik vervullende vriendskappe geniet.

 Die Bybel sê: “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee.”—Lukas 6:38.

  ’n Verantwoordelike persoon geniet ’n gevoel van voldoening en gepaste trots, wat sy of haar selfvertroue opbou.

 Die Bybel sê: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê.”—Galasiërs 6:4.

 Hoe kan ek verantwoordeliker wees?

 Om jou te help om hierdie vraag te beantwoord, kan jy na die volgende stellings kyk. Watter stellings beskryf hoe jy voel?

 “Dit is frustrerend om soos ’n baba behandel te word wat nie ’n uur weg kan wees sonder om Mammie en Pappie te laat weet wat ek doen nie!”—Kerri.

 “My ouers laat my gewoonlik geredelik toe om saam met my vriende uit te gaan.”—Richard.

 “Wanneer ek na ander kinders van my ouderdom kyk en sien wat hulle mag doen, dink ek: ‘Sjoe! Waarom laat my ouers my nie toe om dit te doen nie?’”—Anne.

 “My ouers laat my basies doen wat ek wil. Ek is dankbaar dat hulle my soveel vryheid gee.”—Marina.

 Die slotsom: Party jongmense word meer vryheid gegee as ander. Wat kan die verskil maak?

 Lewenswaarheid: Die mate van vryheid wat jy gegee word, hang dikwels af van hoeveel vertroue jy verdien het.

 Kyk byvoorbeeld na die kommentare van twee van die jongmense wat vroeër aangehaal is.

 Richard: “My ouers was voorheen skepties oor my vermoë om vryheid te hanteer. Maar hulle vertrou my nou omdat ek my vryheid verantwoordelik gebruik het. Ek lieg nie vir my ouers oor waarheen ek gaan of saam met wie ek gaan nie. Om die waarheid te sê, ek vertel gewoonlik vir my ouers wat ek doen sonder dat hulle eers hoef te vra.”

 Marina: “Ek het nog net twee keer vir my ouers gelieg, en ek is albei kere betrap. Van toe af is ek eerlik met my ouers. Byvoorbeeld, ek vertel hulle alles wat ek doen, en wanneer ek nie by die huis is nie, bel ek hulle. Nou vertrou hulle my baie meer.”

Wat stel jy eerste—werk of ontspanning?

 Wil jy meer soos Richard en Marina behandel word? Ondersoek dan hoe jy op die volgende gebiede vaar:

JOU HUISLEWE

  •   Doen jy pligsgetrou die take wat jy gegee is?

  •   Bly jy getrou by jou inkomtyd?

  •   Behandel jy jou ouers en jou broers en susters met respek?

 Op watter van hierdie punte, indien enige, moet jy jou toelê?

 Die Bybel sê: “Wees gehoorsaam aan julle ouers.”—Efesiërs 6:1.

JOU OPVOEDING

  •   Maak jy jou huiswerk betyds klaar?

  •   Span jy jou in om jou punte te verbeter?

  •   Het jy goeie studiegewoontes?

 Op watter van hierdie punte, indien enige, moet jy jou toelê?

 Die Bybel sê: “Wysheid dien as ’n beskerming” (Prediker 7:12). ’n Goeie opvoeding sal jou help om wysheid te verkry.

JOU REPUTASIE

  •   Is jy eerlik met jou ouers en ander?

  •   Kan jy geld verantwoordelik gebruik?

  •   Is jy bekend daarvoor dat jy betroubaar is?

 Op watter van hierdie punte, indien enige, moet jy jou toelê?

 Die Bybel sê: “[Beklee] julle met die nuwe persoonlikheid” (Efesiërs 4:24). Jy kan jou eienskappe en jou reputasie verbeter.

 Wenk: Kies ’n gebied waarop jy moet verbeter. Praat met ander wat op daardie gebied uitblink, en vra hulle raad. Skryf spesifieke maniere neer waarop jy aan daardie eienskap gaan werk. Kyk ’n maand lank hoe jy vorder deur jou suksesse en terugslae in ’n dagboek op te teken. Kyk dan aan die einde van die maand hoeveel jy verbeter het.