Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

ONDERHOUD | RAJESH KALARIA

’n Breinnavorser verduidelik waarom hy aan God glo

’n Breinnavorser verduidelik waarom hy aan God glo

PROFESSOR Rajesh Kalaria van Newcastle-universiteit in Engeland bestudeer die mensebrein al meer as 40 jaar lank. Hy het aan evolusie geglo, maar het later sy beskouing verander. Ontwaak! het met hom gesels oor sy werk en sy geloof.

Vertel ons van jou godsdiensagtergrond.

My pa is in Indië gebore en my ma is ook van Indiese afkoms, maar sy is in Uganda gebore. Hindoetradisies het ’n groot deel van hulle lewe uitgemaak. Ek is die middelste van drie kinders. Ons het in Nairobi, Kenia, gewoon. Daar het baie ander Hindoes naby ons gebly.

Hoekom het jy in die wetenskap begin belangstel?

Ek was nog altyd baie lief vir diere en het gereeld saam met my vriende gaan stap en gaan kamp om die pragtige wilde diere te sien. Ek wou nog altyd ’n veearts word. Maar nadat ek my kursus by die tegniese kollege in Nairobi voltooi het, het ek na Engeland gegaan om patologie aan die Universiteit van Londen te studeer. Later het ek in navorsing van die mensebrein gespesialiseer.

Het jou studies ’n uitwerking op jou godsdiensoortuiging gehad?

Ja. Hoe verder ek in die wetenskap gestudeer het, hoe moeiliker was dit om aan Hindoemitologie en -tradisies te glo, soos die aanbidding van diere en beelde.

Hoekom het jy aan evolusie begin glo?

Toe ek jonk was, het baie van die mense in my omgewing geglo dat die evolusie van die mens in Afrika begin het. Ons het dit ook gereeld by die skool bespreek. Die onderwysers en die universiteitsprofessors het die studente laat verstaan dat alle gerespekteerde wetenskaplikes aan evolusie glo.

Jy het later jou opinie oor die oorsprong van lewe verander. Hoekom?

Ek het al ’n paar jaar lank biologie en anatomie gestudeer toe ’n ander student my vertel het wat hy by Jehovah se Getuies oor die Bybel leer. Ek was nuuskierig. So toe die Getuies hulle byeenkoms by ons kollege in Nairobi gehou het, het ek dit bygewoon. Later het twee Getuies wat sendelinge was vir my ook meer oor die Bybel vertel. Hulle geloof in ’n hemelse Ontwerper wat die antwoorde op die belangrikste vrae in die lewe het, het nie vir my soos ’n mite geklink nie. Dit het eerder vir my baie redelik geklink.

Het jou mediese kennis jou verhinder om aan die skepping te glo?

Glad nie! In my studies van anatomie het ek gesien hoe ingewikkeld lewende dinge is en hoe goed dit ontwerp is. Daarom het dit net nie meer sin gemaak om aan ’n toevallige proses te glo nie.

Kan jy vir ons ’n voorbeeld gee?

Ek bestudeer die mensebrein nou al vanaf die vroeë 1970’s, maar ek is nog elke dag nét so verstom oor hierdie indrukwekkende orgaan. Dit is hier waar ons gedagtes en geheue gevorm word en waar baie van ons liggaamsfunksies beheer word. Die brein is ook die middelpunt van ons sintuie, en dit verwerk die inligting wat van binne en van buite die liggaam kom.

Die rede waarom ons brein funksioneer soos hy moet, is weens die komplekse chemie daarvan en die ingewikkelde netwerk van neurone, die belangrikste breinselle. Die mensebrein het miljarde neurone wat met mekaar kommunikeer. Hulle ontvang die inligting vanaf duisende ander neurone deur middel van uitgespreide draadjies (dendriete) en stuur daardie inligting dan weer aan deur middel van lang drade (aksone). As gevolg daarvan is die aantal verbindings in die brein ontelbaar groot! En tog is hierdie digte bos neurone en dendriete nie ’n deurmekaarspul nie, maar hulle pas presies inmekaar en werk reg saam. Dit is “bedrading” op sy beste!

Verduidelik asseblief wat jy daarmee bedoel.

Terwyl ’n baba in die baarmoeder groei, en selfs ná sy geboorte, ontwikkel die bedrading op ’n baie ordelike manier. Neurone stuur draadjies uit na ander neurone wat dalk ’n paar sentimeter ver weg is—’n groot afstand wanneer daar van selle gepraat word. Boonop wil ’n draadjie dalk nie net by ’n sekere sel uitkom nie, maar by ’n spesifieke deel van daardie sel.

Terwyl ’n neuron ’n nuwe draadjie uitstuur, is daar chemiese padwysers wat sê wanneer hy moet “stop”, “gaan” of “draai” totdat hy sy teiken bereik het. Sonder duidelike instruksies, sal die draadjies maklik verdwaal. Hierdie hele proses is briljant georganiseer, en dit begin alles by die instruksies wat in ons DNS neergeskryf is.

Maar ons verstaan nog nie naastenby presies hoe die brein ontwikkel en funksioneer nie. Dit sluit in hoe herinneringe, emosies en gedagtes gevorm word. Die blote feit dat die brein werk, om nie eers te praat van hoe goed dit werk en hoe wonderlik dit ontwikkel nie, oortuig my dat daar ’n ontwerper moet wees en dat hy baie slimmer is as ons.

Hoekom het jy een van Jehovah se Getuies geword?

Die Getuies het aan my bewys dat die Bybel God se Woord is. Die Bybel is byvoorbeeld nie ’n wetenskaphandboek nie, maar dit is altyd reg wanneer dit by wetenskaplike dinge kom. Dit bevat ook akkurate profesieë. En die Bybel verbeter die lewens van almal wat toepas wat hulle daarin leer. My eie lewe is bewys hiervan. Vandat ek in 1973 een van Jehovah se Getuies geword het, lewe ek volgens die Bybel. En nou is ek waarlik gelukkig en het ek ’n doel in die lewe.