Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die briljante blou van die Pollia-bessie

Die briljante blou van die Pollia-bessie

DIE klein bessie van die Pollia condensata-plant, wat regdeur Afrika gevind word, het die helderste blou kleur wat nog ooit aan ’n plant gesien is. Tog het dit geen blou pigment (kleurstof) nie. Wat gee hierdie bessie dan sy pragtige kleur?

Dink hieraan: Die selwande van die bessie se skil het klein draadjies wat soos rye vuurhoutjies gepak is. Hierdie draadjies vorm lae. Al hierdie lagies vorm ’n spiraal omdat dit opmekaar lê teen ’n hoek. Die draadjies self is nie blou nie. Maar die manier waarop hierdie draadjies opmekaar gepak is, gee dit ’n blou voorkoms. Hierdie struktuur, en nie pigment nie, gee die bessie dus sy intense metaalkleur en skakerings. Die meeste van die selle lyk blou. Maar vanuit verskillende rigtings lyk party groen, pienk of geel as gevolg van die fyn verskille in die lae. En as jy mooi kyk, is die kleure nie glad en eweredig nie, maar is dit gespikkeld soos die kleure op ’n rekenaarskerm.

Omdat Pollia-bessies nie pigment het nie, bly hulle blou selfs nadat hulle van die plant afgeval het. Om die waarheid te sê, party bessies wat meer as ’n honderd jaar terug gepluk is, lyk nog net so helder soos ’n bessie wat nou net gepluk is! Al het hierdie bessie nie ’n eetbare binnekant nie, en het hy net saadjies, sê navorsers dat dit vir voëltjies onweerstaanbaar is.

Wetenskaplikes glo dat die pigmentlose kleur van die Pollia-bessie eendag gebruik sal kan word om kleursels te maak wat nie sal bleik nie of papier wat nie vervals kan word nie.

Wat dink jy? Het die briljante blou van die Pollia-bessie deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?