Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Watter hoop is daar vir my voorouers?

Watter hoop is daar vir my voorouers?

’N RUK gelede het ’n interessante opskrif in die Tsjosoen Ilbo, ’n Koreaanse koerant, verskyn. Dit was: “‘Die wonderlike Sjim Tsjeong’ het niks van Jesus geweet nie—Het sy hel toe gegaan?”

Die opskrif het aandag getrek omdat Sjim Tsjeong ’n geliefde jong vrou in ’n Koreaanse volksverhaal is wat haar lewe opoffer om haar blinde pa te help. Deur die jare heen het sy baie lof ontvang. Trouens, in Korea word Sjim Tsjeong as die toonbeeld van ’n toegewyde dogter beskou.

Vir baie was dit onregverdig, selfs aanstootlik, om te dink dat so iemand in die helse vuur gestraf sal word net omdat sy nie ’n gedoopte Christen was nie. Volgens volksgeloof het die verhaal immers afgespeel lank voordat die boodskap oor die Christus in haar dorpie verkondig is.

Die artikel het ’n onderhoud met ’n geestelike ingesluit. Hy is gevra of almal wat gesterf het sonder dat hulle die geleentheid gehad het om van Jesus te leer, tot die helse vuur veroordeel is. Wat was sy antwoord? “Ons weet nie. Ons neem aan dat daar [vir sulke mense] ’n weg van Goddelike Voorsienigheid is.”

’N VEREISTE VIR REDDING

The New Catholic Encyclopedia sê: “Doop is noodsaaklik vir redding. Dit is soos Christus self gesê het: Tensy iemand weer gebore word uit water en Heilige Gees, kan hy nie in die Koninkryk van God ingaan nie (Joh 3.5).” Gevolglik glo party dat diegene wat ongedoop gesterf het, in die helse vuur gegooi word of ná hulle dood op ’n ander manier ly.

Maar baie ander meen dat hierdie opvatting belaglik is. Miljoene mense het al gesterf sonder dat hulle iets van die Bybel geweet het. Verdien hulle ewige foltering? Wat sê die Bybel hieroor?

DIE HOOP WAT DIE BYBEL BIED

Die Bybel toon duidelik dat God mense in ag neem wat sonder kennis van sy vereistes gelewe het. Handelinge 17:30 verseker ons: “God het . . . die tye van sulke onkunde oorgesien.” Watter hoop bied die Bybel mense wat gesterf het sonder dat hulle die geleentheid gehad het om van God te leer?

Wat beteken Jesus se belofte: “Jy sal saam met my in die Paradys wees”?

Die antwoord kan gevind word in Jesus se woorde aan een van die misdadigers wat langs hom gesterf het. Die man het vir Jesus gesê: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Wat was Jesus se antwoord? “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:39-43.

Het Jesus die man belowe dat hy in die hemel sou ingaan? Nee. Die man is nie “weer gebore” uit water en gees nie, wat ’n voorvereiste is om in die Koninkryk van die hemele in te gaan (Johannes 3:3-6). Jesus het eerder belowe dat die misdadiger in die Paradys weer sal lewe. Omdat die man ’n Jood was, het hy waarskynlik geweet van die aardse Paradys—die tuin van Eden—wat in die eerste boek van die Bybel beskryf word (Genesis 2:8). Jesus se belofte het hom die vaste hoop gegee op ’n opstanding in die Paradys wat op die aarde herstel sal word.

Trouens, die Bybel belowe dat daar “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges” sal wees (Handelinge 24:15). “Die onregverdiges” is diegene wat nie aan God se regverdige standaarde voldoen het nie omdat hulle onkundig was omtrent God se wil. Jesus sal die onregverdige misdadiger wat met hom gepraat het, opwek, sowel as miljoene, miskien miljarde, ander wat in onkunde gesterf het. Op die Paradysaarde sal hulle dan God se vereistes geleer word en die geleentheid hê om te bewys dat hulle God liefhet deur sy gebooie te gehoorsaam.

WANNEER DIE ONREGVERDIGES OPGEWEK WORD

Sal die onregverdiges wat opgewek word, geoordeel word op grond van hulle dade van die verlede? Nee. Romeine 6:7 sê: “Hy wat gesterf het, is van sy sonde vrygespreek.” Die onregverdiges het vir hulle sondes betaal deur te sterf. Hulle sal dus geoordeel word op grond van wat hulle ná hulle opstanding doen, nie wat hulle in onkunde voor hulle dood gedoen het nie. Hoe sal dit hulle tot voordeel strek?

Die onregverdiges sal ná hulle opstanding die geleentheid hê om God se wette te leer, wat geopenbaar sal word wanneer simboliese boekrolle oopgemaak word. Hulle sal dan geoordeel word “volgens hulle dade”—dit wil sê hulle gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God se wette (Openbaring 20:12, 13). Vir baie van die onregverdiges sal dit nie ’n tweede kans wees nie, maar die eerste werklike geleentheid wat hulle het om die ewige lewe op die aarde te verkry deur te leer wat God se wil is en dit te doen.

Hierdie Bybellering het baie al gehelp om hulle geloof in God te herwin. Jeong Soeg is een van hulle. Sy het as ’n vroom Katoliek grootgeword. Van haar familielede was priesters. Sy het by ’n klooster aangesluit omdat sy ’n non wou word. Later het sy die klooster verlaat omdat sy teleurgestel is deur wat sy daar sien gebeur het. Wat meer is, sy kon nie die leerstelling van die helse vuur aanvaar nie omdat sy gemeen het dat dit nie regverdig of liefdevol sou wees om mense in ’n brandende hel te folter nie.

Toe het een van Jehovah se Getuies vir Jeong Soeg hierdie woorde in die Bybel gewys: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks, en ook het hulle geen loon meer nie” (Prediker 9:5). Die Getuie het haar help besef dat haar voorouers nie in ’n helse vuur gefolter word nie. Hulle slaap eerder in die dood en wag op ’n opstanding.

Omdat Jeong Soeg geweet het dat baie mense nog nooit die waarheid uit die Bybel gehoor het nie, het sy Jesus se woorde in Matteus 24:14 ter harte geneem: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Sy verkondig nou self die goeie nuus en vertel ander van haar wonderlike Bybelse hoop.

‘GOD IS NIE PARTYDIG NIE’

“God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik”, sê die Bybel (Handelinge 10:34, 35). Dit is die volmaakte geregtigheid wat elkeen van ons van God kan verwag, want “hy het regverdigheid en geregtigheid lief”.—Psalm 33:5.