Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | GOD SE BESKOUING VAN ROOK

’n Wêreldwye epidemie

’n Wêreldwye epidemie

Rook is ’n genadelose doder.

  • Dit het gedurende die vorige eeu tot die dood van 100 000 000 mense gelei.

  • Dit veroorsaak omtrent 6 000 000 sterftes per jaar.

  • Dit eis die lewe van gemiddeld een persoon elke ses sekondes.

En daar is geen teken van ’n ommekeer nie.

Gesaghebbendes raam dat die jaarlikse sterftes as gevolg van rook teen 2030 tot meer as 8 000 000 sal styg as huidige tendense voortduur. En hulle voorspel dat rook teen die einde van die 21ste eeu 1 000-000 000 lewens sal geëis het.

Die slagoffers van tabak is nie net die rokers nie. Daar is ook die oorlewende gesinslede, wat emosionele en finansiële verlies ly, sowel as die 600 000 nierokers wat elke jaar sterf omdat hulle tweedehandse rook ingeasem het. Op die ou end moet almal die las dra omdat die koste van gesondheidsorg styg.

In teenstelling met epidemies wat dokters naarstiglik na ’n geneesmiddel laat soek, kan hierdie plaag heeltemal uit die weg geruim word; die meeste mense weet wat die oplossing is. Dr. Margaret Chan, die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, het gesê: “Die tabakepidemie is geheel en al mensgemaak, en die doelgerigte pogings van regerings en die gemeenskap kan ’n ommekeer teweegbring.”

Internasionale reaksie om hierdie gesondheidskrisis die hoof te bied, was ongeëwenaard. Vanaf Augustus 2012 het sowat 175 lande ingestem om maatreëls in te stel wat tabakgebruik beperk. * Maar sterk magte laat die pandemie voortwoed. Elke jaar bestee die tabakbedryf miljarde rande aan advertensies om nuwe klante te lok, veral vroue en jong volwassenes wat in ontwikkelende lande woon. Omdat tabak so verslawend is, is dit feitlik ’n uitgemaakte saak dat die sterftesyfer hoog sal bly onder die eenmiljard rokers wat reeds verslaaf is. Tensy mense wat nou rook, die gewoonte opgee, sal die dodetal gedurende die volgende vier dekades skerp styg.

Advertensies en verslawing hou baie mense vasgevang in ’n gewoonte wat hulle wens hulle kan opgee. Dit is wat Naoko ondervind het. Sy het as ’n tiener begin rook. Sy het gesofistikeerd gevoel wanneer sy gerook het, want dit is die idee wat die media by haar geskep het. Al het sy albei haar ouers aan longkanker sien sterf, het sy aanhou rook, selfs terwyl sy haar twee dogters grootgemaak het. “Ek was bekommerd dat ek longkanker sal kry en was besorg oor my kinders se gesondheid”, erken sy, “maar ek kon rook nogtans nie opgee nie. Ek het gedink dat ek nooit sal ophou rook nie.”

Maar Naoko het opgehou. Sy het haar aansporing om die rookgewoonte op te gee, gevind in dieselfde bron wat miljoene gehelp het om glad nie te begin rook nie. Wat is hierdie bron? Lees asseblief verder.

^ par. 11 Hierdie maatreëls sluit in dat mense oor die gevare van rook ingelig word, dat die tabakbedryf se bemarking beperk word, dat belasting op tabak verhoog word en dat programme in werking gestel word om mense te help om op te hou rook.