Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Drie vrae het my lewe verander

Drie vrae het my lewe verander
  • GEBORE: 1949

  • GEBOORTELAND: VERENIGDE STATE

  • GESKIEDENIS: WOU WEET WAT DIE DOEL VAN DIE LEWE IS

MY VERLEDE:

Ek het grootgeword in Ancram, ’n dorpie in die noorde van die staat New York, VSA. Daar was baie melkboerderye in daardie gebied. Trouens, daar was meer beeste in die dorp as mense.

My familie het die enigste kerk in die dorp bygewoon. Op Sondagoggende het my oupa my skoene blink gevryf, en dan het ek Sondagskool toe gegaan met ’n klein wit Bybeltjie wat my ouma my gegee het. As kinders is ons geleer om hard te werk, om ons bure te respekteer en te help en om dankbaar te wees vir ons seëninge.

Toe ek grootgeword het, het ek weggetrek en ’n onderwyseres geword. Ek het baie vrae oor God en die lewe gehad. Party van my studente was baie begaafd. Ander was nie so begaafd nie, maar het baie hard gewerk. Party was gestremd, terwyl ander goeie atlete was. Ek het gevoel dat die situasie onregverdig is. Soms het die ouers van die gestremde leerders gesê: “Dit is God se wil dat my kind so moet wees.” Ek het gewonder waarom God sou toelaat dat party babas met gebreke gebore word. Die baba het immers niks verkeerds gedoen nie.

Ek het ook gewonder: ‘Wat is die doel van my lewe?’ Dit het gevoel asof my lewe vinnig verbygaan. Ek het in ’n liefdevolle gesin grootgeword, ek het goeie skole bygewoon, en nou het ek ’n werk gehad waarvoor ek lief is. Maar dit het gevoel asof die res van my lewe leeg is. Die beste waarvoor ek kon hoop, was om te trou, ’n mooi huis en ’n paar kinders te hê, aan te hou werk totdat ek aftree en uiteindelik in ’n ouetehuis te gaan woon. Ek het gewonder of die lewe ’n dieper betekenis het.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Een somervakansie het ek en ’n paar ander onderwysers deur Europa getoer. Ons het die Westminster-abdy, die Notre-Dame de Paris en die Vatikaan besoek, sowel as ’n aantal kleiner kerke. Oral waar ek gegaan het, het ek my vrae gevra. Toe ek teruggekeer het na Sloatsburg, New York, waar ek gewoon het, het ek ’n hele paar kerke besoek. Maar niemand kon my bevredigende antwoorde gee nie.

Eendag het ’n 12-jarige leerder na my toe gekom en my drie vrae gevra. Haar eerste vraag was of ek weet dat sy een van Jehovah se Getuies is. Ek het ja gesê. Toe het sy gevra of ek meer omtrent Jehovah se Getuies wil weet. Ek het weer ja gesê. Laastens het sy gevra waar ek woon. Toe ek haar sê, het ons besef dat ek net om die draai van haar gesin woon. Min het ek geweet dat daardie jong meisie se drie vrae my lewe vir ewig sou verander.

Kort daarna het sy op haar fiets na my huis toe gery en die Bybel met my begin studeer. Ek het haar die vrae gevra wat ek soveel godsdiensleiers al gevra het. Anders as hulle het sy vir my duidelike en bevredigende antwoorde in my eie Bybel gewys—antwoorde wat ek nog nooit tevore gesien het nie!

Wat ek uit die Bybel geleer het, het my met vreugde en tevredenheid vervul. Ek is diep getref deur die woorde in 1 Johannes 5:19, wat sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose.” Ek was verlig om te leer dat dit nie God is wat al die lyding veroorsaak wat ons om ons sien nie, maar Satan—en dat God die situasie sal regstel (Openbaring 21:3, 4). Ek het ontdek dat die Bybel sin maak wanneer dit reg verduidelik word. Hoewel die Getuie wat met my gestudeer het, net 12 jaar oud was, het ek geredeneer dat die waarheid die waarheid is, ongeag wie dit praat.

Ek wou nogtans sien of die Getuies se woorde met hulle dade strook. Die jong meisie het byvoorbeeld beklemtoon dat ware Christene eienskappe soos geduld en goedhartigheid aan die dag moet lê (Galasiërs 5:22, 23). Ek het besluit om haar te toets om te sien of sy self hierdie eienskappe openbaar. Eendag het ek opsetlik laat gekom vir my studie. Ek het gewonder: ‘Sal sy vir my wag? En indien wel, sal sy kwaad wees omdat ek laat is?’ Toe ek by die oprit van my huis inry, het sy op die trappies voor my huis gewag. Sy het na my motor gehardloop en gesê: “Ek was op pad huis toe om my ma te gaan sê dat ons die hospitale en die polisie moet bel om uit te vind of Juffrou oukei is, want Juffrou is nooit laat vir ons studie nie. Ek was bekommerd oor Juffrou!”

By ’n ander geleentheid het ek ’n vraag gevra wat ek gedink het te moeilik sou wees vir ’n 12-jarige kind. Ek wou sien of sy sommer net ’n antwoord sou opmaak. Toe ek die vraag gevra het, het sy baie ernstig na my gekyk en gesê: “Dit is ’n moeilike vraag. Ek gaan dit neerskryf en my ouers vra.” Die volgende keer toe sy vir ons studie gekom het, het sy ’n Wagtoring gebring wat my vraag beantwoord het. Dit is wat my tot die Getuies aangetrek het—hulle publikasies het Bybelse antwoorde op al my vrae voorsien. Ek het aangehou om saam met daardie jong meisie te studeer, en ek is ’n jaar later as een van Jehovah se Getuies gedoop. *

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Toe ek uiteindelik bevredigende antwoorde op my vrae gekry het, wou ek almal daarvan vertel (Matteus 12:35). Aan die begin was my familie gekant teen my nuwe oortuigings. Maar mettertyd het hulle gesindheid verander. My ma het laat in haar lewe die Bybel begin studeer. Hoewel sy nie lank genoeg gelewe het om gedoop te word nie, is ek seker dat sy besluit het om Jehovah te dien.

In 1978 het ek getrou met ’n Getuie met die naam Elias Kazan. In 1981 is ek en Elias genooi om deel te word van die Bethelgesin in die Verenigde State. * Nadat ons net vier jaar daar gedien het, is Elias oorlede. Hoewel ek ’n weduwee was, het ek in my toewysing by Bethel gebly, wat my iets gegee het om op te fokus en my ’n mate van vertroosting gebied het.

In 2006 het ek getrou met Richard Eldred, ook ’n lid van die Bethelgesin. Ek en Richard geniet nog steeds die voorreg om by Bethel te dien. Om die waarheid omtrent God te weet, het my gehelp om nie net die antwoorde op my vrae te vind nie, maar het my ook ’n ware doel in die lewe gegee—en dit het alles begin met drie vrae van ’n jong meisie.

^ par. 16 Die dogtertjie en haar broers en susters het altesaam vyf van hulle onderwysers gehelp om die Bybel te studeer en Jehovah te begin aanbid.

^ par. 18 “Bethel”, wat “Huis van God” beteken, is die woord wat Jehovah se Getuies gebruik om hulle takfasiliteite regoor die wêreld te beskryf (Genesis 28:17, 19, voetnoot in NW). Lede van die Bethelgesin sien om na verskeie toewysings wat die onderrigtingswerk van Jehovah se Getuies ondersteun.