Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Waarom het Josef geskeer voordat hy voor Farao verskyn het?

’n Eertydse egiptiese muurskildery van ’n haarkapper aan die werk

Volgens die Genesisverslag het Farao beveel dat die Hebreeuse gevangene Josef gou voor hom gebring moet word om sy kommerwekkende drome uit te lê. Teen hierdie tyd was Josef al ’n hele paar jaar in die tronk. Hoewel Farao Josef dringend wou sien, het Josef die tyd geneem om te skeer (Genesis 39:20-23; 41:1, 14). Die feit dat die skrywer hierdie skynbaar onbelangrike besonderheid meld, toon dat hy vertroud was met Egiptiese gebruike.

Onder talle eertydse nasies was dit gebruiklik vir mans om ’n baard te laat groei, insluitende onder die Hebreërs. Daarenteen “was die eertydse Egiptenaars die enigste Oosterse nasie vir wie dit onaanvaarbaar was om ’n baard te dra”, sê McClintock en Strong se Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature.

Het hulle net hulle baard geskeer? Die tydskrif Biblical Archaeology Review sê dat party Egiptiese seremoniële gebruike vereis het dat ’n man hom moet voorberei om voor Farao te verskyn soos hy hom sou voorberei om in ’n tempel in te gaan. In daardie geval sou Josef al die hare op sy kop en sy liggaam moes afskeer.

Die verslag in Handelinge sê dat Timoteus se vader ’n Griek was. Beteken dit dat hy van Griekeland gekom het?

Nie noodwendig nie. In sy geïnspireerde geskrifte het die apostel Paulus soms Jode teenoor Grieke, of Hellene, gestel, asof hy die woord “Griek” gebruik het om na alle nie-Joodse mense te verwys (Romeine 1:16; 10:12). Een van die redes hiervoor was ongetwyfeld dat die Griekse taal en die Griekse kultuur algemeen aanvaar is in al die gebiede waar Paulus gepreek het.

Wie was volgens die eertydse mense Grieke? In die vierde eeu VHJ het die Ateense redenaar Isokrates, om maar een te noem, trots gepraat oor die manier waarop die Griekse kultuur regoor die wêreld versprei het. Hy het gesê dat dit daartoe gelei het dat “mense Grieke genoem word omdat hulle die voordeel van ons opvoeding geniet, nie omdat hulle boorlinge van Griekeland is nie”. Dit is dus moontlik dat Timoteus se nie-Joodse vader en ander wat Paulus Grieke genoem het, nie deur geboorte Grieks was nie, maar omdat hulle die Griekse kultuur aangeneem het.—Handelinge 16:1.