Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Romeine 12:12 – “Verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed”

Romeine 12:12 – “Verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed”

 “Wees bly oor die hoop wat julle het. Volhard wanneer julle moeilike tye deurmaak. Hou vol met gebed.” – Romeine 12:12, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.” – Romeine 12:12, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Romeine 12:12

 In hierdie vers het die apostel Paulus Christene in Rome aangemoedig om drie dinge te doen wat hulle sou help om getrou te bly wanneer hulle vervolg word en ander probleme het.

 “Wees bly oor die hoop wat julle het.” Christene het die wonderlike hoop op die ewige lewe – sommige in die hemel en die meeste op ’n paradysaarde (Psalm 37:29; Johannes 3:16; Openbaring 14:1-4; 21:3, 4). Hierdie hoop sluit in dat God se Koninkryk a al die probleme oplos wat veroorsaak dat mense swaarkry (Daniël 2:44; Matteus 6:10). God se aanbidders kan bly wees selfs wanneer hulle deur moeilike tye gaan, want hulle is oortuig dat hulle hoop seker is en as hulle volhard, sal hulle God se goedkeuring hê. – Matteus 5:11, 12; Romeine 5:3-5.

 “Volhard wanneer julle moeilike tye deurmaak.” Die Griekse werkwoord wat in die Bybel met “volhard” vertaal word, beteken dikwels “om te bly eerder as om te vlug; om deur te druk; om standvastig te bly”. Christus se volgelinge is “geen deel van die wêreld” nie, b so hulle verwag dat hulle vervolg sal word, en daarom moet hulle volhard (Johannes 15:18-20; 2 Timoteus 3:12). Wanneer ’n Christen God lojaal dien ten spyte van moeilike tye, word sy geloof sterker dat God hom uiteindelik sal beloon (Matteus 24:13). Hierdie sterk geloof help hom om ten spyte van probleme met geduld en vreugde te volhard. – Kolossense 1:11.

 “Hou vol met gebed.” Om getrou aan God te bly, moet Christene aanhou bid (Lukas 11:9; 18:1). Hulle soek gedurig God se leiding en vertrou op hom in alles wat hulle doen (Kolossense 4:2; 1 Tessalonisense 5:17). Hulle is oortuig dat God hulle gebede sal beantwoord omdat hulle sy gebooie gehoorsaam en hulle bes doen om hom gelukkig te maak (1 Johannes 3:22; 5:14). Hulle weet ook dat as hulle volhou met gebed, God hulle die krag sal gee wat hulle nodig het om getrou te bly, maak nie saak watter probleme hulle het nie. – Filippense 4:13.

Konteks van Romeine 12:12

 Paulus het sy brief in 56 HJ geskryf aan die Christene wat in Rome gewoon het. In hoofstuk 12 van hierdie brief gee hy praktiese raad oor hoe om Christelike eienskappe te betoon, hoe om met mede-aanbidders en ander oor die weg te kom en hoe om vreedsaam te reageer wanneer jy vervolg word (Romeine 12:9-21). Die Christene in Rome het hierdie raad op die regte tyd gekry, want hulle is kort daarna wreed vervolg.

 ’n Paar jaar later, in 64 HJ, het ’n groot brand ’n groot gedeelte van die stad Rome vernietig. Baie mense het gesê dat keiser Nero die brand begin het. Volgens Tacitus, ’n Romeinse geskiedkundige, het Nero homself probeer beskerm deur die Christene die skuld te gee. As gevolg hiervan is die Christene erg vervolg. Paulus se raad oor hoe om vervolging te verduur, het hulle gehelp om met geloof en waardigheid deur daardie moeilike tyd te kom (1 Tessalonisense 5:15; 1 Petrus 3:9). Vandag kan God se aanbidders baie uit hulle voorbeeld leer.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Romeine te kry.

a God se Koninkryk is die regering in die hemel wat deur God opgerig is om sy wil vir die aarde waar te laat word. Vir meer inligting, sien die artikel “Wat is die Koninkryk van God?

b In die Bybel kan die woord “wêreld” verwys na mense wat nie ’n verhouding met God het nie.