Spring na inhoud

Wie was die “drie wyse manne”? Het hulle die “ster” van Betlehem gevolg?

Wie was die “drie wyse manne”? Het hulle die “ster” van Betlehem gevolg?

Die Bybel se antwoord

 Wanneer dit Kersfees is, praat baie mense van die “drie wyse manne” of “drie konings” wat Jesus besoek het nadat hy gebore is. Maar die Bybel beskryf nie die besoekers op hierdie manier nie (Matteus 2:1). Die Bybelskrywer Matteus gebruik die Griekse woord ma’goi om die manne te beskryf wat Jesus besoek het. Die woord verwys heel moontlik na geleerdes in astrologie of ander demoniese gebruike. a ’n Hele paar Bybelvertalings noem hulle “sterrewiggelaars” of “magiërs”. b

 Hoeveel “wyse manne” was daar?

 Die Bybel sê nie en daar is verskillende opinies oor hoeveel “wyse manne” daar was. Volgens die Encyclopedia Britannica “glo baie mense wat in Asië bly, dat daar 12 magiërs was. Maar baie mense wat in Europa en die Amerikas bly, glo dat daar drie was, moontlik omdat die Bybel sê dat daar drie geskenke vir die kind gegee is, ‘goud, wierook en mirre’ (Matteus 2:11).”

 Was die “wyse manne” konings?

 Volgens Kerstradisie word die besoekers dikwels so uitgebeeld, maar dit sê nêrens in die Bybel dat hulle konings was nie. Die Encyclopedia Britannica sê dat honderde jare nadat Jesus gebore is, het baie mense besonderhede by hierdie verhaal bygelas en gesê dat die besoekers konings was.

 Wat was die name van die “wyse manne”?

 Die Bybel sê nie wat die name van die sterrewiggelaars was nie. Volgens The International Standard Bible Encyclopedia is daar mites wat sê dat hulle name Gaspar, Melchior en Balthasar was.

 Wanneer het die “wyse manne” Jesus besoek?

 Die sterrewiggelaars het Jesus dalk ’n hele paar maande ná sy geboorte besoek. Ons weet dit omdat koning Herodes Jesus wou laat doodmaak. Hy het toe beveel dat alle seuntjies wat twee jaar oud en jonger is, doodgemaak moet word. Hy het hierdie ouderdomsgroep gekies op grond van inligting wat die sterrewiggelaars hom gegee het. – Matteus 2:16.

 Die sterrewiggelaars het Jesus nie besoek op die aand toe hy gebore is nie. Die Bybel sê: “Toe hulle in die huis ingaan, het hulle die jong kindjie by sy moeder Maria gesien” (Matteus 2:11). Dit wys dat die gesin toe in ’n huis gewoon het en dat Jesus nie meer ’n babatjie in ’n krip was nie. – Lukas 2:16.

 Het God die “ster” van Betlehem gebruik om die “wyse manne” te lei?

 Party mense glo dat God die sogenaamde ster van Betlehem gestuur het om die sterrewiggelaars na Jesus te lei. Kom ons kyk hoekom dit nie waar kan wees nie.

  •   Iets wat soos ’n ster gelyk het, het die sterrewiggelaars eers na Jerusalem geneem. Die Bybel sê: “Toe het sterrewiggelaars uit oostelike streke na Jerusalem gekom en gesê: ‘Waar is die een wat as koning van die Jode gebore is? Want ons het sy ster gesien toe ons in die ooste was, en ons het gekom om aan hom hulde te bewys.’” – Matteus 2:1, 2.

  •   Koning Herodes, nie die “ster” nie, was die eerste een om die sterrewiggelaars na Betlehem te stuur. Toe Herodes hoor van ’n mededingende “koning van die Jode”, het hy probeer uitvind waar die beloofde Christus gebore sou word (Matteus 2:3-6). Toe hy uitvind dat dit in Betlehem sou wees, het hy vir die sterrewiggelaars gesê om soontoe te gaan, vir die kind te soek en weer terug te kom na hom toe.

     Die sterrewiggelaars het eers daarna Betlehem toe gegaan. Die Bybel sê: “Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk! die ster wat hulle gesien het toe hulle in die ooste was, het voor hulle uit gegaan, totdat dit gaan staan het bo die plek waar die jong kindjie was.” – Matteus 2:9.

  •   Nadat mense die “ster” gesien het, het dinge gebeur wat Jesus se lewe in gevaar gestel het en die moord van onskuldige kinders veroorsaak het. Toe die sterrewiggelaars Betlehem verlaat het, het God hulle gewaarsku om nie na Herodes terug te gaan nie. – Matteus 2:12.

 Wat was Herodes se reaksie? Die Bybel sê: “Toe Herodes sien dat hy deur die sterrewiggelaars uitoorlê is, het hy baie woedend geword, en hy het gestuur en al die seuntjies van twee jaar en jonger in Betlehem en in al sy omstreke om die lewe laat bring, ooreenkomstig die tyd wat hy sorgvuldig by die sterrewiggelaars vasgestel het” (Matteus 2:16). God sou nooit sulke wrede dinge veroorsaak nie. – Job 34:10.

a Herodotus, ’n Griekse geskiedkundige van die vyfde eeu VHJ, het gesê dat die ma’goi van sy dag aan ’n Mediese (Persiese) stam behoort het wat hoofsaaklik astrologie beoefen en drome uitgelê het.

b Sien die New American Standard Bible, The New American Bible, The New English Bible en die New International Version Study Bible. Die Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953) sê dat hierdie besoekers “wyse manne” is, maar dit sê nie dat daar drie van hulle was nie.